OM OK TE WEES DAARMEE DAT JY NIE OK IS NIE

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

OM OK TE WEES DAARMEE DAT JY NIE OK IS NIE

Deur: Clyde Pilkington

Jy wil net OK wees. Jou stryd is voortdurend; jou konflik is deurlopend; jou stryd is eindeloos. Jy sien net uit na daardie hoogtepunt – daardie plek en tyd in die lewe – waar alles uiteindelik net OK sal wees.

Maar regtig, wie in hierdie lewe is werklik “OK”?

Die eenvoudige feit van die saak is dat, ongeag wat uiterlike voorkoms mag voorgee, ons almal swak, brose, gebrekkige en eindeloos struikelende wesens is – ons almal, sonder uitsondering. Die hele skepping – elke laaste bietjie daarvan – is teen hulle wil aan ydelheid onderwerp.

Niemand kan dit vryspring nie; nie eers jy nie.

“Want die skepping is onderwerp aan ‘n sinlose bestaan [nietigheid1953 vertaling; verydeling1983 vertaling], nie gewillig nie, maar deur Hom wat dit daaraan onderwerp het” (Romeine 8:20).

Dit alles sal heerlik en permanent reggestel word in die opstanding, maar jy kan net sowel voortgaan om dit te erken: vir nou is jy gebroke en jy gaan nie gou “reggemaak” word nie.

Toegegee, jy het dalk ‘n paar dae wat beter is as ander, sommige omstandighede wat op die oog af  aandui dat jy “OK” is, maar die moeisame siklus sal homself eenvoudig herhaal.

Dit is so deur voorbeskikking – deur goddelike beplanning– en Vader bring jou na ‘n plek waar jy OK is daarmee om  nie OK wees nie, ‘n plek waar jy net rus in Sy huidige doel en plan in jou opleiding en ontwikkeling vir daardie grootse en manjifieke hoogtepunt wat Hy ook wonderlik en kundig spesiaal vir jou ontwerp het – in jou volgende lewe.

Die Christelike “regmaker”

Christenskap wil altyd alles “regmaak”. Christelike boekwinkels is vol van “Hoe om …” boeke. Predikers maak hulle aanhoorders herhaaldelik moeg met wat hulle moet doen om dinge reg te stel. Voortdurend word druk geplaas om dit alles reg te stel, te fokus op die probleme, op die omstandighede, om alles te verander – op vrymaking van wat ons nie OK maak nie. Moet asseblief nie beïnvloed word om in hierdie droombeeld in te koop nie.

Alhoewel jy herhaaldelik periodes van beter omstandighede en beter optredes ervaar, sal dit wat jy op die ou end verhinder om werklik OK te wees, nooit verander nie. Die wortel van jou werklike probleem kom nie vanuit jou uiteenlopende en wisselende omstandighede nie; dit kom eintlik uit die beplanning van God wat in jou neerslag vind – die mislukking waaraan Hy jou onderwerp het. Hy het jou doelgerig en kundig geskep met gebreke – ‘n oorvloed daarvan – wat nooit in hierdie leeftyd sal verdwyn nie.

Jy kan daarop peil trek: as God self, in Sy groot wysheid en liefde vir jou, jou in hierdie tyd – aan ydelheid onderwerp het, sal al die selfhelp-godsdiens in die wêreld dit nie kan verander nie.

Die regte antwoord

As gevolg van hierdie wyse en bekwame plan van Vader, is die ware antwoord nooit in jou te vinde nie.

Die antwoord is te vinde in Hom – en in Hom alleen. Dit is te vinde in die wete presies wie Hy werklik is, en presies wat Sy planne vir jou in hierdie tydelike lewe is.

[God] het vir my gesê: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” Daarom sal ek my baie liewer op my swakhede beroem, sodat die krag van Christus my kan beskut. Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede … want as ek swak is, juis dan is ek sterk.” (II Korintiërs 12:9-10).

Ek is wat ek is

Deur die genade van God is ek wat ek is (I Korintiërs 15:10).

“Ek is wat ek is.” Hierin lê ‘n belangrike sleutel. God het jou gemaak wat jy is. Jy is Sy handewerk – alles van jou – foute en al. Jy is wat jy is deur God se direkte handewerk.

Rus in Hom.

Rus in Sy werk in jou.

Rus in Sy plan vir jou.

Rus in Sy vasstaande uitkoms vir jou.

As seuns van God kan ons dankbaar wees vir die lyding en swaarkry van hierdie lewe. As dit nie vir dit was nie, sou ons aandag afgelei word van ons hemelse hoop. Op ‘n skynbaar vreemde, dog goddelike manier kan ons selfs dankbaar wees vir ons buie van klaery en besef dat dit ook ‘n godsgawe is.

Immers, “alles kom van God af” (II Korinthiërs 5:18), selfs die “bose gees wat van die HERE af kom” wat Saul ontstel het (I Samuel 16:14).

Want selfs vir ons, laat ons gekla ons besef dat hierdie wêreld nie ons tuiste is nie en skep dit in ons so ‘n sterk begeerte na iets meer, iets beters – en daardie beter ding is Vader self!

So, ontspan; hoe jy is, is Sy werking in jou.

Om OK te wees met ander wat nie OK is nie

Dieselfde geld ook vir ander mense: hulle is wie hulle is. Ons is almal in Sy vaardige hande; elkeen van ons is ontwerp en meesterlik saamgestel om in Sy heerlike, collage-skeppingswerk  in te pas.

Net soos dit waar is dat ons is soos ons is, omdat Vader in ons werk, net so bewerk Hy sy kundige plan volmaak en presies in sy hele skepping, aangesien Hy die “getroue Skepper” is (I Petrus 4:19).

Vader is uiters goed in Sy werk, en net soos met enige ander werk, kan jy nie die finale produk beoordeel wanneer jy dit in ‘n stadium van sy ontwikkeling beskou nie. Dit is waar van jou en my, maar dit is ook waar van ons geliefdes en vriende – die hele skepping!

Om te probeer om “God” vir iemand te wees, is ‘n besonder moeilike werk as jy nie gekwalifiseerd is nie.

Daar is net Een in die heelal wat gekwalifiseer is vir so ‘n uitdagende taak, en Hy het reeds alle dinge vierkantig onder Sy beheer.

Moenie moedeloos word as jy om jou kyk nie. Wat jy sien is nie die einde van God se plan en doel nie. Wat jy sien, is nie die eindproduk van God nie. God werk aktief in ons in elke omstandigheid, van elke lewe. Hy werk deeglik en suksesvol “alles volgens sy raad en wil”, en vind geen uitdaging met die omstandighede en lewens van ons geliefdes nie – nie eens die moeilike gevalle nie. Niks hou vir Hom ‘n struikelblok in nie – Hy is immers die Almagtige God.

Moenie oorweldig word nie: jy is nie die Werker nie. God is God; Hy is in beheer. Hy het ander net so onvoorwaardelik lief as wat Hy jou liefhet. Hy vorm hulle so seker as wat Hy jou vorm – dag-vir-dag – in alles wat Hy vir hulle bestem om te wees, ongeag wat ons dink ons tans sien.

Eendag sal jy OK wees. In die opstanding sal Vader Sy werk in jou vervolmaak. Tot dan kan jy OK wees om nie OK te wees nie. Dit is alles Vader se plan. Vir Hom is mooi, die gemors wat ons is.

So, ontspan en geniet Sy werk.

***

(Hierdie is ‘n uittreksel uit Clyde se boek met dieselfde titel, verkrygbaar by www.studyshelf.com .)

Met goedkeuring vertaal en weergegee uit Bible Student’s Notebook 3200

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.