VYFTIEN BOMME WAT MY TEOLOGIESE SKIP GESINK HET

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

VYFTIEN BOMME WAT MY TEOLOGIESE SKIP GESINK HET

– VE Jacobson

vertaal deur Johann Grobler

My eerste skok was toe ek evangelisasiedienste in ‘n gemeenskapsaal gehou het, en ek die huis van ‘n man besoek het, van wie se kinders by die byeenkomste gered is. Ek het hom gevra of hy Christus as Sy persoonlike Verlosser sal aanvaar. Hy het na die grond gekyk, en ek het gehoop dat hy gunstig sou besluit, maar toe hy opkyk en praat, het hy my aan die dink gesit. Sy stem was stadig en intens. “As die manier waarop jy preek reg is, dan is een van my seuns nou in die hel, en as dit is waar hy is, wil ek by hom wees …” Daardie man was nie besig met gekskeerdery nie, hy het dit bedoel!

My tweede skok het gekom toe ‘n vriend in Pennsylvania vir my ‘n boek gegee het met die naam “After the Thousand Years”, deur George F. Trench. Alhoewel ek nie al die sienings van die skrywer kon aanvaar nie, het ek oortuig geraak van twee dinge, naamlik dat daar geen woord vir “ewigheid” in die Griekse of Hebreeuse Geskrifte is nie, en dat die eenvoudigste leer van die Woord van God verduister is deur verkeerde en inkonsekwente vertaling van die Griekse woord “aion“. Dit kan onmoontlik “ewigheid” beteken, want konsekwentheid sou ons dwing tot sinnelose weergawes soos “die huidige ewigheid” en “voor die ewigheid” (sien 1 Timótheüs 6:17; 11 Tim. 1:9; Titus 1:2). Verder sou ‘n konsekwente vertaling van die woord in Hebreërs 9:26 vir ons die teenstrydige frase gee: “aan die voleinding van die ewigheid.”

My derde skok, die een wat my regtig losgeruk het van die bindende tradisie en die vrees vir mense, het gekom toe ‘n spoorwegingenieur en ‘n polisiesersant, wat beïndruk was met my getrouheid in die verkondiging van die Woord van God soos ek dit verstaan het, my kom sien het. Ons het byna vier uur lank gesels. Toe hulle vertrek, vind ek dat ek al die swaar grofgeskut wat ek bymekaargemaak het op universiteit , kweekskool en twintig jaar se ooreenstemming met die ‘Fundamentalistiese’ en ‘Evangeliese’ hiërargie, opgebruik het. Dit lyk nie of ek hul reikafstand kon vind nie, en toe ek dit wel kry, het my groot geweer vasgesteek.

Vyftien bomme het op my dek ontplof en my fyn teologiese leerstelsel verwoes.

#1.  As God wil hê dat alle mense gered moet word, en as die meeste mense verlore gaan, hoe kan God die Allerhoogste wees (1 Timoteus 2:3,4)?

#2.  As Christus die Versoening vir die sondes van die hele wêreld is, het Hy tevergeefs vir die verlorenes gesterf (1 Johannes 2:2)?

#3.  As God die heelal deur Christus gaan versoen, hoe kan party vir ewig gepynig word (Kolossense 1:20)?

#4.  Hoe kan God, in Christus, alles as een bymekaarmaak terwyl miljarde vir ewig vervreemd bly (Efesiërs 1:10)?

#5.  As almal in Adam sterf en ‘n paar lewend gemaak word in Christus, hoe kan genade baie meer oorvloedig wees as sonde (Romeine 5:20)?

#6.  As alle mense deur een man se oortreding veroordeel word, waarom word alle mense nie geregverdig deur een man se gehoorsaamheid nie (Romeine 5:18)?

#7.  As almal in Adam sterf, waarom sal almal nie in Christus lewend gemaak word nie (1 Korintiërs 15:22)?

#8.  Hoe kan elke knie buig en Christus as Here bely, tot God se eer, tensy met Hom versoen (Filippense 2:10, 11)?

#9.  As net Christus onsterflikheid het, hoe kan enige van die dooies nou lewe (1 Timótheüs 6:14-16; 1 Korinthiërs 15:53, 54)?

#10.  As die goddeloses hel toe gaan sodra hulle sterf, waarom word hulle opgewek en later geoordeel (Openbaring 20:11-15)?

#11.  Aangesien die poel van vuur die tweede dood is, wat gebeur met die goddeloses wanneer die dood vernietig word (1 Kor 15:26)?

#12.  As “vir ewig” “ewigheid” beteken, wat beteken “vir ewig en altyd”?

#13.  As God liefde is en alle mag het, sal Hy nie ‘n manier vind om almal te red nie, of sal Sy liefde uiteindelik misluk (1 Timoteus 4:9-11)?

#14.  As Christus “vir ewig en altyd” sal regeer, wat beteken dit dat Hy die koninkryk aan die Vader sal oorgee (Openbaring 11:15; 1 Korinthiërs 15:24)?

#15.  Sal God ooit werklik “alles in almal” word (1 Korinthiërs 15:28)?

Dit is verbasend dat soveel leerstellings wat nie in die Skrif geleer word nie, as ortodoks gebrandmerk is. Solank mense pousdom en priesterskap as ortodoks aanvaar het, was hulle onkundig; maar ‘n hernude  studie van die Griekse Geskrifte ten tyde van die Hervorming het gelowiges oortuig dat God sondaars deur geloof regverdig, en gevolglik het hulle met tradisie gebreek en gesoek na ‘n vaste basis van waarheid in God se Woord.

Jy sal ook nuwe wonders in die Heilige Skrif vind wanneer jy gereed is om die juk van tradisie en die vrees vir wat mense sal sê, af te gooi, en met ‘n biddende en leerbare gees Sy Woord te bestudeer en God glo!

***

Grace and Truth

Geneem uit Bible Students Notebook, ‘n weeklikse Bybelstudiepublikasie beskikbaar in twee formate (elektronies en gedruk).

www.BibleStudentsNotebook.com

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.