SKATTEJAG IN DIE SKRIF

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

SKATTEJAG IN DIE SKRIF

Die Skrif bied aan die mens die geleentheid om ‘n skattejag aan te pak wat hy vir baie jare, selfs dekades, tot die dood toe kan geniet. Die Skrif is vol kosbare waarhede – talle kosbare skatte. Maar dit is nie altyd maklik om te vind nie en die Skrif is nie altyd maklik verstaanbaar nie.

Daar is twee gedeeltes in die Bybel wat God se groot plan opsom – Sy plan met Sy heelal en Sy skepsels, van die begin tot die einde…. Nee, daar is geen einde nie… Dit is van die begin tot die voleinding van alle dinge. Hierdie twee gedeeltes, eintlik kort uittreksels uit twee verse, sê alles.

Die fassinerende ding is dat dit geen ongewone woorde of moeilike terminologie bevat nie. Dit is die eenvoudigste kort woorde- ‘n kind kan die taal wat gebruik word maklik verstaan.

Beide gedeeltes kan gevind word in die briewe van Paulus. Ek het hierdie gedeeltes oor baie jare ontelbare kere gelees, sonder om die skat raak te sien. Die woorde was gewone woorde wat ons almal verstaan. Maar omdat ek verblind was, kon ek nie die kosbare waarheid sien wat dit bevat nie.

Hier is hulle:

               … uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.    –(Rom. 11:36)

               … sodat God alles in almal sal wees… – (1 Kor. 15:28)

Hier, in ‘n neutedop, is waaroor alles gaan.

Alles het uit God gekom. Atome, waterdruppels, voëls, bome, wildsbokke, mense, planete en sterre, niks uitgesluit nie. Let op dat hulle “uit” God gekom het. Soos ‘n moeder wat geboorte gegee het aan haar kosbare en geliefde baba, het alles uit die wese van God gekom. Jy mag sê Hy het alles gebaar. God is liefde. En Hy het Sy skepping lief. Veral dié wat na Sy beeld gemaak is. Hulle is almal in ‘n sekere sin Sy liewe kinders – of bestem om een of ander tyd in die toekoms so in die volste sin van die woord te wees.

En alles is deur Hom. As dit ‘n lewelose voorwerp is, hou Hy dit bymekaar. As dit ‘n lewende wese is, gee Hy dit lewe.

Al wat bestaan, is in ‘n sekere sin op reis. ‘n Reis na die voleinding waarvan ons lees in 1 Kor. 15;24-25, wanneer Christus almal onder Sy gesag onderwerp het en alles aan God die Vader sal oorgee. Alles en almal wat dan bestaan, sal met God versoen word. Sal vir God wees. En in God. “Sodat God alles in almal sal wees.” Daar sal vir niemand anders plek wees in die hart van die skepsel, as God self nie. God moet alles wees en sal wees.  Diegene wat na Sy beeld gemaak is, sal dan Sy eie liewe kinders wees, in die volste sin denkbaar.

Soos M Jaegle geskryf het,

               In die begin: Alles in God.

               Teen die einde: God alles in almal.*

Ek wil jou aanmoedig om hierdie gedeeltes stadig, ‘n paar keer te lees. Jy mag 1 Kor. 8:6 en Efes. 4:6 byvoeg.  Ek moedig jou aan om tyd te neem om oor hierdie kosbare waarhede te peins, sodat jy geestelik verryk word soos wat die diep betekenis insink.

***

*Aangehaal uit  The Intimate Relationship of God to All in Bible Student’s Notebook Vol. 34 Issue 831.

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.