LEER DIE BYBEL DAT ALMAL GERED WORD?

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

LEER DIE BYBEL DAT ALMAL GERED WORD?

1 Tim 2:3-4 (ASV) Dit is goed en aanneemlik in die oë van God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.

Ons hoor nie dikwels dat God ons Verlosser is nie.

God is ons Verlosser. So is ook Jesus. Maar dit is God wat Jesus gestuur het om verlossing te verwesenlik (Joh 4:34,5 ;36, 6:38-39).

Dat alle mense gered word, is God se wil. Dit is goed in sy oë. Dit geld vir alle mense, hoe sondig ook-al en al was elkeen vyandig teenoor God.

Wat betref “tot kennis van die waarheid kom”: huidig is die meeste mense verblind, maar God se wil is dat daardie blindheid nie altyd sal geld nie.

2 Pet 3:8-9 (ASV) Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes: een dag is by die Here soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag. Die Here van die belofte talm nie soos party mense dit as getalm beskou nie, maar Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat sommige tot niet moet gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

Die Here se ervaring van tyd is anders as ons s’n. Selfs as kind ervaar ons dit anders as grootmense. Een jaar op skool voel soos ‘n ewigheid. Hoe ouer mens word hoe vinniger snel die jare verby. As jy 60 is, is een jaar een sestigste van jou lewe, maar as jy tien is, is dit ‘n hele tiende.

God het geen begin en einde nie. Een dag is vir Hom soos 1000 jaar, en 1000 jaar soos een dag. Een dag soos ‘n duisend jaar? Vir ons is dit onbegryplik. Duisend jaar soos een dag? Ook moeilik vir ons om dit te begryp.

Vir God om duisende jare te neem om Sy reddingsplan tot uitvoering te bring, is nie ‘n groot probleem nie. Dit gáán duisende jare neem. Op die ou end gaan almal tot bekering kom, want dit is Sy wil. God sal slaag in dit wat Hy beoog. Maar dit gaan tyd neem.

Ons leef in ‘n wêreld waar dinge vinnig moet gebeur: vinnige internet, vinnige rekenaars, vinnige karre, kitskosse en kitsoplossings. Ons voel goed as ons probleme vinnig kan “uitsort”. En gefrustreerd as ons nié kan nie. Dis ‘n ongeduldige mensdom.

God is anders. Hy is nie ‘n gefrustreerde God nie. Hy het al die geduld in die wêreld… Nee, wag….. die wêreld het nie geduld nie. Geduld of lydsaamheid is deel van die vrug van God se gees (Gal. 5:22). Mense is van nature ongeduldig.

Daarom raak baie ongeduldig met God. Waar is God as al hierdie slegte dinge gebeur? Hoekom doen Hy niks nie, terwyl vrouens verkrag en weerloses beroof of vermoor word?

Want hulle verstaan nie die groter prentjie nie. God is die Meester as dit kom by tydsberekening. En ons tyd-rekenkunde is nie op Sy vlak nie. Ons is kortsigtig. Ons dink meestal in terme van hierdie lewe, wat vir die gemiddelde mens skaars 70 jaar is.

Hierdie gedeelte vermaan ons, ons moet dit nooit uit die oog verloor nie: God beoog om almal te red, maar dit gaan vanuit ons perspektief, baie jare, ja duisende jare, neem om dit te bereik.

Jes. 46:9-10 (1983 vert.) …. Ek is God, daar is geen ander nie; Ek is God, daar is niemand soos Ek nie. Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek.

Dit is Yahweh aan die woord. Hy is die enigste God. Hy is totaal in beheer van alles wat gebeur…goed en kwaad. Nie net dít nie, Hy besluit en dit gebeur! Hy laat die duiwel Eva besoek en verlei. Hy het voor die grondlegging van die wêreld die nodigheid van ‘n volmaakte Versoeningsoffer voorsien en toe reeds die kruisiging van die Lam, Sy Seun Jesus, in die pyplyn geplaas.

God het dit goed geag om van tyd tot tyd Sy profete ‘n kykie te gee na aspekte van Sy plan, sodat hulle daaroor kon profeteer. Alles wat geprofeteer is sou gebeur, het gebeur. Alles wat geprofeteer is wat nog moet gebeur, sal gebeur. Niemand kan God keer nie.

Dit wat Hy wil, sal Hy doen. Hy wil dat nie een enkele persoon verlore moet gaan nie. Dit sal so gebeur.

Job 42:1-2 (1983 vert.) Daarna het Job vir die Here gesê: “Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit.” 

Teen die einde van die boek van Job het Job veel meer insig oor God gehad as voorheen. Al was hy klaarblyklik onbewus van die tweegesprek tussen God en Satan wat aanleiding gegee het tot sy teëspoed en beproewinge, het hy iets omtrent God geleer. God se almag en soewereiniteit. God is tot enigiets in staat. As Hy oor iets besluit het, kan niks Hom keer nie. Hy is dus in staat om ‘n sondaar te oorreed om ‘n omkeer te maak – soos hy met Paulus gedoen het. As Hy besluit het Hy wil die hele mensdom red, niemand uitgesluit nie, dan kan en sal Hy dit doen.

Mat. 19:23-26   (ASV) Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “….’n Ryke sal moeilik in die koninkryk van die hemele ingaan….dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God in te gaan.” Toe die dissipels dit hoor, was hulle totaal uit die veld geslaan en sê: “Wie kan dan gered word?” Jesus het hulle aangekyk en gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik.”

Jesus praat hier van die koninkryk wat eintlik aan Israel belowe is. In daardie bedeling en konteks het ‘redding’ beteken om die koninkryk in te gaan. Die dissipels (almal van Israel) was bestem om die koninkryk te beërwe.

By vorige geleenthede, soos by die bergpredikasie, het Jesus geleer dat dit die nederiges en sagmoediges is wat die koninkryk sou beërwe. Jy moes kwalifiseer. Redding deur alleenlik genade was in daardie bedeling nie op die kaarte nie.

Maar selfs in daardie nie-genade konteks, kon Jesus antwoord dat God redding kan bied waar dit menslik gesproke onmoontlik lyk. Jy ken waarskynlik mense waaroor jy net jou kop kan skud. Goddeloses. Onredbaar, volgens jou “nederige opinie”.

God kyk anders na mense as ons. Hy verstaan iedere en elke mens – sy of haar agtergrond, temperament, sensitiwiteite en wonde. Hy het Sy Seun laat sterf vir mense terwyl hulle sondaars was.

‘n Kameel kan nie deur ‘n naald se oog gaan nie, maar by God is alles moontlik. Hy kan die skynbaar onredbare red. Jesus het hulle stip aangekyk toe Hy dit gesê het. Dit was nie sommer net mooi woorde nie – Hy het elke woord geweeg en dit bedoel.

Neem ons notisie daarvan?

1 Tim. 4:10  (ASV) Hiervoor swoeg ons immers en span ons ons in, omdat ons ons hoop gestel het op die lewende God wat die Verlosser is van alle mense, veral van die gelowiges.

Ons kan ons toewy aan God, selfs belediging verduur en moeite doen vir Hom, want ons het hoop. Ons hoop is op God – God, die eintlike Verlosser – van alle mense. Alle mense. Die oorspronklike teks in Grieks lees “alle mense.” Goeie mense (is daar so iets?), slegte mense, bose mense – alle tipe mense.

God weet van watter stoffasie mense gemaak is. Hy het immers die eerste mens gevorm uit stof. Hy weet alles wat daar te wete is van die psige van elke mens op aarde. En Hy weet presies hoe om elkeen te benader om daardie persoon oor te wen. Maar dit sal wees, elkeen op sy tyd – of eerder, Sy tyd.

Die verlossing is veral geldig op die gelowiges in die huidige dispensasie. Maar dit is nie uitsluitlik vir daardie gelowiges nie. Daar is ‘n verskil tussen “veral” en “uitsluitlik.” Die Grieks lees “veral”. Die gelowiges van die huidige Genade-dispensasie is mense aan wie God geloof toegedeel het. Geen mens kan geloof self opwek nie. Dit kom van God af. Dit is deel van God se genade en goedhartigheid. Daardie gelowiges sal deel hê aan die eerste opstandng. Die res van die mensdom word later opgewek uit die dood en op die ou end sal God ook hulle verlos. Hy is die Verlosser van alle mense.

Titus 2:11 (ASV) Want die genade van God wat redding bring aan alle mense het verskyn. 

God se genade was nog altyd daar. Maar dit is veral na die kruisdood en opstanding van Jesus wat dit oorvloedig beskikbaar geword het.

Genade is miskien nie die beste woord vir die Grieks nie. Nie as ons genade sien as bloot net vergifnis nie. Dit is veel meer. Die NLV vertaal dit “liefdevolle goedheid van God”. Redding sluit in om gered te word vanuit ons sondige natuur, om ‘n verheerlikte liggaam te ontvang en om volkome met God versoen te word.

Daardie vooruitsig het aan alle mense verskyn – het aan die lig gekom (volgens die Grieks) met Jesus se lewe op aarde. “Ek bring goeie nuus vir julle van groot blydskap wat vir al die mense sal wees,” het die engel aan die skaapwagters gesê met die geboorte van Jesus.

Vir die skaapwagters het dit beteken die Messias vir Israel het gekom wat vrede op aarde sou bring. Paulus wat spesiale openbaring ontvang het en wie se bediening onder die ander nasies was, het oor die implikasies van die Kruis gepredik en geskryf soos niemand anders nie. Daar is rede vir blydskap vir Israel en die res – vir die hele mensdom.

Joh 1:29 (ASV) Die volgende dag sien hy [Johannes die doper] Jesus na hom kom en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”

Deur Adam, het sonde die wêreld ingekom. Deur die tweede Adam, die Lam, word dit weggeneem. (Rom. 5:12-15)

Jesus, die Lam, neem alle sonde weg. Wat beteken dit? Deur Jesus se kruisdood word sonde nie meer toegereken vir die mensdom nie. Die hele mensdom. Alle sonde. Moord, verkragting, korrupsie, bedrog, roof, skinder, ongeduld, liefdeloosheid, self-gesentreerdheid …niks uitgesluit nie.

Maar nie net dít nie.

Hy neem ook weg die sonde-beginsel…die sonde-toestand…die sonde-geneigdheid van elke mens. Gelowiges van die huidige genade dispensasie het die belofte dat Hy wat die goeie werk in ons begin het (deur bekering en geloof aan ons te skenk) aanhou om dit tot volvoering te bring. In die toekoms sal Hy dieselfde doen met die res van die mensdom. Daar sal uiteindelik ‘n wêreld wees waar daar hoegenaamd geen sonde aanwesig sal wees nie.

Dit is die werk van die Lam.

Joh 3:17 (ASV) Want God het nie die Seun na die wêreld gestuur sodat Hy die wêreld kan oordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 

Baie mense het die idee dat God daarop uit is om Sy woede en toorn uit te stort op sondige mense. Hulle het êrens gehoor dat God se sin vir geregtigheid bevredig moet word en daarom wag daar oordeel en ewige straf en foltering in helse vuur vir die oorgrote meerderheid van die mensdom. Sommige meen dat as daar op ‘n dag teëspoed kom, dan is dit omdat hulle nie Bybelstudie of gebed gedoen het daardie oggend nie. Dit is dan God se straf vir die dag.

Dit is nie hoe God is nie. Hy weet hoe feilbaar en swak mense is (al dink mense nie so oor hulleself nie). Hy is liefde…en dit sluit in dat Hy begrip het vir mense wat in sonde gebore is (sonder dat hulle dit kon verhelp), dat Hy weet dat hulle in ‘n stryd is teen bose magte wat sterker is as hulle (al besef hulle dit nie self nie) en dat God geduldig is met mense (meer as wat ons is teenoor dié wat ons moeilikheid gee).

God het voor die skepping van die aarde beplan dat die mensdom nie veroordeel word nie. Die versoeningsoffer deur Sy Seun – die Lam – sou die prys betaal. Sodat die wêreld gered kan word. Nie net ‘n gedeelte van die wêreld nie – die hele mensdom.

1 Joh 4:14 (ASV) En ons het gesien en getuig dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het.

Joh 12:32 (ASV) [Jesus het geantwoord en gesê…] “En as Ek opgelig word van die aarde af, sal Ek almal na Myself toe trek.”

Die oplig van die aarde was die tipe dood wat Hy sou sterf. Hoog op ‘n paal, sigbaar vir almal in die omtrek. Normaalweg, uit respek vir die persoon, word ‘n lyk bedek, totdat dit na ‘n plek soos ‘n lykhuis geneem word. Nie Jesus nie. Sy lyk het daar gehang, nakend, oop en bloot vir almal. En dit is juis deur dit, wat Hy mense na Hom toe gaan trek. Net ‘n paar mense? Nee, almal. Die woord “trek” in die Grieks is ook die woord vir “sleep.” Soos om ‘n net vol visse ter sleep – sien Joh 21:11 waar dieselfde Griekse woord voorkom.

Presies hoe Jesus almal na Hom toe gaan trek, weet ons nie. Waarskynlik verskillend vir verskillende mense. Gaan almal een dag die video sien van Jesus op die kruis (of eerder, paal)? Moontlik… Wat ons wel weet, dat Jesus se pynlike opofferende dood ‘n groot rol gaan speel in die uiteindelike versoening tussen God en die mensdom.

1 Kor 15:22 (ASV) Want net soos almal deur Adam sterf, so sal almal ook deur Christus lewend gemaak word.

Almal van ons, die hele mensdom, is afstammelinge van Adam. Almal van ons is met ‘n sonde-geneigdheid gebore- wat ons van Adam geërf het. En almal se liggame is sterflik. Die dood heers in elke nuutgebore babatjie, want daardie liggaam wat groei en sterker word sal mettertyd sy afwaartse degenerasie ervaar. Niemand is uitgesluit nie.

Jy kan dit nie verhelp nie. Jy het nie daarvoor gevra nie. Die kleipot kan egter nie vir die pottebakker bevraagteken nie.

Die goeie nuus is dat die Pottebakker weet wat Hy doen. Hy het wonderlike dinge beplan vir geskape mense.

Net soos deur Adam almal sterwe, sal almal deur Christus lewend gemaak word. Een of ander tyd, party vroeër as andere, sal almal uit die dood opstaan en sal almal ware lewe en onsterflikheid gegee word. Almal. Niemand is uitgesluit nie.

Christus se versoeningswerk sal Adam se verbrouwerk oorskadu en oortref.

1 Joh 2:1-2 (ASV) …. En as iemand sou sondig, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. Hy is ‘n versoening vir ons sondes, maar nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

Christus is ‘n versoening vir ons sondes. Hoera! Hallejuh!

Ons kan en behoort so bly te wees hieroor. Ons verdien dit nie. Dit is genade. Sy oorvloedige vrygewigheid.

Maar wag ‘n bietjie. Wat van die biljoene ongelowiges? Gaan hulle vir ewig gepynig word in ‘n poel van vuur? Gaan ons net ons skouers ophaal en sê: “Ag shame, bad luck vir hulle.” Of gaan ons sê: “Sorry, maar hulle kry hulle verdiende loon.”

As dit “bad luck” was, vir die meerderheid mense, waar is geregtigheid? Is God dan onregverdig?

Was ek en jy dan so goed dat ons dit vrygespring het? Ons het dan vir mekaar gesê: “Dit was genade…..?”

God is regverdig en Sy liefde en welwillendheid is teenoor die hele mensdom. God het dit so uitgewerk dat Jesus Christus, die Regverdige, se versoeningswerk nie net vir ons sondes geld nie, maar ook vir die sondes van elke mens wat gelewe het, tans lewe of nog sal lewe en selfs die wat in sonde verwek is maar as gevolg van miskraam of aborsie nooit lewenslig aanskou het nie.

Kol. 1:19-20 (ASV) …omdat Hy [God] dit goedgedink het om in Hom [die Seun] al die volheid te laat woon en om deur Hom alles met Hom te versoen, of dit nou die dinge op die aarde is of die dinge in die hemele, deurdat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis.

God se plan is om alles met Hom te versoen. Alles. Alles op die aarde. Mense … en skynbaar ook diere, voëls, visse en die plantryk. Die hele skepping is sedert die sondeval van Adam en Eva vervloek deur God. Die hele skepping smag na bevryding (Rom. 8:21).

Selfs die hemele moet nog en sal versoen word. Skynbaar sluit dit in die uitspansel en die hemel waar God se troon is. Satan het steeds toegang daar (Job 1:6).

Wat wel duidelik is, is dat God Sy Seun gevul het met Sy goddelikheid en gesag, omdat Sy Seun elke en iedere mens met Hom (God) versoen en reeds, vanuit God se perspektief, vrede gemaak het met elkeen. Hy het vrede gemaak deur die bloed van Sy kruis.

Rom. 14:11 (ASV) …want daar staan geskryf: “So waar as Ek lewe, sê die Here: Voor My sal elke knie buig en elke tong sal My as God bely.”

Dit staan geskryf in Jes. 45:23.

Elke knie sal buig voor die Here. Elke tong sal God bely. Daar is niks van dwang nie. Wanneer sal dit gebeur?

Die gedeelte in Jesaja praat oor Israel as leier-nasie wat die ander nasies aanspoor om die ware God te dien in die toekomstige duisendjarige koninkryk op aarde.

Die gedeelte hier in konteks handel oor die oordeel wat voorlê vir gelowiges van die huidige dispensasie voor die regterstoel van Christus. Daardie oordeel sal plaasvind voor die duisendjarige koninkryk. Dit sal nie gaan oor redding nie, maar oor beloning en opdra van verantwoordelikhede.

Ander teksgedeeltes (soos Fil. 2:10-11 en 1 Kor 15:22-25) maak dit duidelik dat eventueel sal elke knie buig voor die Here en onderdanig wees aan Hom en God erken as enigste ware God.

Fil. 2:10-11 (ASV) …sodat in die Naam van Jesus elke knie van hemelse en aardse en onderaardse wesens sou buig, en elke tong sou bely dat Jesus Christus Hére is, tot eer van God die Vader!

Almal gaan, teen die voltooiing van die eras, erkenning gee aan Jesus, dat hy die Messias, die Gesalfde van God is. Onderaardse wesens is beeldspraak vir die wat reeds gesterf het. Hemelse wesens sal klaarblyklik alle bose geeste (moontlik selfs Satan?) insluit. (Sien 1 Kor. 15:24-25).

Rom . 11:32 (ASV) Want God het almal in ongehoorsaamheid toegesluit sodat Hy teenoor almal barmhartig kon wees.

Die primêre fokus is op Israel in hierdie gedeelte. Hulle is verblind deur God sodat hulle nie die ware Messias kon herken nie. Mettertyd egter sal die hele Israel gered word (Rom. 11:26). Die opsy sit van Israel sal lei tot die versoening met God van die res van die nasies, en nog meer so as Israel weer deur God gebruik gaan word (Rom. 11:15).

Dit kan ook gesê word dat die wêreld in ongehoorsaamheid toegesluit is, sedert die sondeval. Mens se eerste indrukke is dat dit deur Satan se toedoen is. Hierdie vers sê egter God het dit gedoen.

Hoekom?

Sodat Hy teenoor almal welwillendheid en genade kon toon. Almal…. Niemand uitgesluit nie. Geen sprake nie van ongehoorsames wat God in die hel sou gooi sodat hulle vir ewig kan brand nie.

1 Kor 15:22-25, 28 (ASV) …so sal almal ook deur Christus lewend gemaak word. Maar elkeen op sy beurt: Christus eerste, daarna met sy koms dié wat aan Christus behoort, daarna kom die einde, wanneer Hy die heerskappy aan God die Vader oorgee, wanneer Hy elke heerskappy en elke gesag en mag vernietig het. Want Hy moet koning wees totdat “Hy al sy vyande onder sy voete geplaas het.” …dan sal ook die Seun self onderwerp word aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het sodat God alles in alles kan wees.

Almal sal lewend gemaak word. Almal beteken almal. Maar almal nie op dieselfde tydstip nie. Elkeen op sy beurt. Christus self is deur God opgewek – Hy was eerste. Daarna by sy koms, word opgewek die wat aan Hom behoort. Daarna, by die einde van die eras, sal alles en almal aan Christus onderwerp wees. “Hy moet koning wees totdat ‘Hy al sy vyande onder sy voete geplaas het..’”

Dan gee Christus alles oor aan God, Homself inkluis, sodat “God alles in alles kan wees.” Alles en almal sal op die ou einde versoen wees met God. Ons kan maar net droom en wonder hoe dit dan sal wees… Ons kan sê dit eindig goed, maar eintlik is dit nie die einde nie, want daar is dan geen einde nie…

***

Vraag: Wat van Bybeltekste wat praat van oordeel,  hel, ‘n vuurpoel, ‘n ewige gekners van tande ensovoorts?

Antwoord: Dit word behandel in ander artikels op hierdie webtuiste (of wat nog geplaas sal word)

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.