WATTER BYBELVERSE IS VAN TOEPASSING? – HOE OM DIE WOORD REG TE SNY

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

WATTER BYBELVERSE IS VAN TOEPASSING? – HOE OM DIE WOORD REG TE SNY

  

Daar is mense wat onomwonde verklaar dat hulle die hele Bybel beskou as bindend op hulle. Tog, as julle daaroor pols, kom jy agter hulle het te vinnig gepraat.

Ek weet nie van enigiemand wat die Bybel ag as die geïnspireerde Woord van God, wat nie sommige gedeeltes beskou as nie bindend of nie van toepassing op hom of haar nie.

Byvoorbeeld, ek weet nie van iemand wat Deuternomium 21:18-21 toepas nie. Dit is die gedeelte wat sê dat ‘n koppige en opstandige seun gestenig moet word op aandrang van sy ouers.

Ek weet nie van iemand wat roosterkoeke bak op menslike ontlasting nie (vgl Eseg 4:12).

Ek weet nie van iemand wat Mattheus 10:9-10 toepas nie. Dit is waar Jesus die twaalf apostels bevel om nie geld saam te vat op hulle sending nie, en ook nie ekstra klere nie.

Dus, alle Bybelstudente tref ‘n onderskeid tussen wat hulle glo huidig van toepassing is, en wat nie. Daar is egter nie konsensus onder hulle oor hoe en waar om daardie onderskeid te tref nie.

Dus, dieselfde Paulus wat teen die einde van sy bediening skryf aan Timoteus dat elke Skrifdeel deur God geïnspireer is en nuttig is vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam (sien 2 Tim 3:16) , vermaan in dieselfde brief:

Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny (2 Tim 2:15 – 1983 vert.)

Die oorspronklike teks van die Skrif is woord vir woord deur God geïnspireer, maar nie alles daarvan is vandag direk op gelowiges bindend of van toepassing nie. Ons kan daaruit iets leer, maar dis nie te sê ons moet elke gebod of versoek in die Skrif nakom nie. Die hele Skrif is vir ons geskryf, maar nie alles is aan ons geskry nie, of aangaande ons nie.

Noag het opdrag gekry om ‘n boot te bou.  Abram het opdrag gekry om sy seun te offer aan God.  Moses het opdrag gekry om sy mense te lei vanuit slawerny na ‘n beloofde land.  God se opdrag vir Simson was dat sy hare nie gesny mag word nie.  Jesus se opdrag aan die twaalf apostels gedurende en na Jesus se bediening op aarde was dat hulle hul missie net op Israel moes toespits – tot uitsluiting van die heidense nasies. Geen van die opdragte geld vir enigeen van ons vandag nie.

Daar is ook beloftes in die Woord aan bepaalde mense, wat nie vir enigeen geld nie. Byvoorbeeld die belofte aan Abraham en Sara dat hulle op hul oudag ‘n kind gaan hê.

Deur die Woord korrek te sny, kan ons bepaal wat is direk op ons in die huidige bedeling van toepassing, en wat nie.

Jesus het die Woord “gesny” by ten minste een geleentheid. Dit is toe Hy Jesaja 61:1-2a in die sinagoge gelees het ten aanhore van die aanwesiges (Luk 4:16-20). Hy het nie die hele passasie gelees nie, maar reg in die middel van vers 2 gestop, die boekrol toegemaak en gesê: “Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul…” Jesus het geweet die res van vers 2 en die res van die profesie sou eers vervul word met Sy wederkoms.

Paulus se raad aan Timoteus om met toewyding die Woord reg te sny word gekoppel aan om dit te doen met God se goedkeuring –“om jou beproef voor God te stel” – en die gedagte dat hy hom nie hoef te skaam nie. Ek glo dat in die opstanding baie predikers skaam gaan wees oor hoe hulle die Woord uitgelê het.

‘n Vers wat vir die nasie van Israel bedoel was, is nie noodwendig vir jou en my bedoel nie.

As gevolg van verkeerd sny, word die Woord verkeerdelik vermeng en is daar verwarring oor:

            Israel en die Kerk

            Wet en Genade

Die verbonde (Ou en Nuwe) en die geheim omtrent die Kerk wat die Liggaam is van Christus

Redding en Dissipelskap

Jesus van Nasaret en die uit die dood opgestane verheerlikte Christus

As gevolg van verkeerd sny sal die predikant ‘n preek gee oor “alles is net genade” en op ‘n ander keer, “as julle nie bid, gereeld kerk toe gaan en tiendes gee nie, sal daar gevolge wees.”

As gevolg van verkeerd sny lyk dit asof daar weersprekings in die Bybel is. Jesus sê op een plek: Moenie na die ander nasies as Israel (die heidene) gaan om die Woord te verkondig nie (Mat 10:5-7), en op ‘n ander plek: maak dissipels van al die nasies (Mat 28:19). Jakobus 2:24 sê dat ‘n mens op grond van dade regverdig verklaar word, en nie deur die geloof alleen nie. Maar Romeine 3:28 lees: “Ons is immers daarvan oortuig dat ‘n mens regverdig verklaar word deur die geloof, sonder die uitvoering van die wet.” Woorde met dieselfde strekking vind ons ook in Romeine 4:4-5 en Efesiërs 2:8-9. Jakobus sê een ding en Paulus sê die teenoorgestelde.

Beteken dit die Skrif is nie betroubaar nie? Nee! As die Bybel leser die Woord reg sny sal hy of sy die antwoord vind.

Die vraag wat opkom is,  hoe kan ons weet of ons die Woord “reg sny”?

Dit is ‘n groot onderwerp waaroor veel meer gesê kan word as wat ek beoog om hier te doen. Ek sal net ‘n paar opmerkings maak en vir jou, die leser, wil aanmoedig om self objektief, sonder vooropgestelde idees, die onderwerp in meer diepte te bestudeer.

Cornelius Stam skryf:

God’s dealings with men have been progressive, enfolding step by step with the advance of the ages.

Die skeiding tussen wat genoem word “Ou Testament” en “Nuwe Testament” (m.a.w. tussen die Hebreeuse en Griekse geskrifte) is ‘n mensgemaakte differensiasie. (Selfs die woorde “Ou Testament” en “Nuwe Testament” is onbybelse begrippe. Hoekom van ‘n Testament praat?  Is God dood? “Verbond” sou ‘n beter woord wees as “Testament”. Maar daar is verwysing na die Nuwe Verbond in Jer. 31:33 wat deel is van “die Ou Testament”.)

Om die Woord reg te sny, sal dit help as jy sekere vrae vra: Wat is die konteks? Wat is die omringende omstandighede? Jy kry dit deur die voorafgaande verse en die daaropvolgende gedeelte te lees. Dan vra jy: wie praat hier?; aan wie word dit geadresseer? Waaroor gaan dit? In watter era of bedeling speel dit af?

Dit help ook om in te sien dat die grootste deel van die Bybel handel oor Israel en hul rol as leier nasie met die oprigting van die koninkryk van God op aarde, onder die koningskap van hul Messias, Jesus Christus.  As jy lees vanaf Genesis 12 tot by die laaste vers van Openbaring, en jy slaan die briewe van Paulus oor, dan handel alles oor Israel. Dit vat dalk ‘n groot kopskuif om dit in te sien. Mattheus en die ander drie Evangelieboeke handel hoofsaaklik oor Israel. Jesus se bediening was op hulle gerig.  Hebreërs is gerig aan Israel. Jakobus aan die twaalf stamme in die verstrooiing. En so kan ons aangaan.

Daar is geen teks in die Bybel wat sê dat die Kerk (die Ekklesia) van vandag geestelike Israel is nie. Die uitdrukking “geestelike Israel” kom glad nie in die Skrif voor nie.[1]

Die siening dat God Sy rug op Israel gedraai het en nou al Sy beloftes aan Israel aan Sy Kerk oorgedra het is totaal en al verkeerd. Eerstens, God is getrou. Hy kom Sy beloftes na. Dit sou teen Sy karakter gewees het om so iets te doen. Tweedens, Romeine 11 leer ons dat God nie sy volk verstoot het nie. God het gedeeltelik en tydelik ‘n verharding oor hulle laat kom. Op God se bepaalde tyd sal die hele Israel verlos word.

Hoe kan ons, wat nie van Israel is nie, daardie gedeeltes direk op ons van toepassing maak? Dis een ding om te sê ons kan daaruit leer, maar iets anders om te sê ons moet alles wat daarin staan nakom.

Paulus se briewe is anders. Hy was die apostel vir die nasies – die ander nasies as Israel, die onbesnedenes. Hy skryf niks oor Israel en die Messiaanse koninkryk wat God gaan oprig op aarde nie.[2] Ons kan en moet baie meer ag slaan op wat Paulus geskrywe het – hy wat juis die een was wat geskryf het oor die woord van waarheid “reg sny”.

Die Bybel moet nie gesien word as Ou Testament en Nuwe Testament nie. Dit is ‘n eenheid. Waar daar wel onderskeid getref moet word, is tussen dit wat Paulus geskryf het en dit wat die res van die Bybelskrywers geskryf het.  Paulus het gepraat van “my evangelie” (Rom 2:16, 2 Tim 2:8); wat fokus op genade (Hand 20:24); wat hy van die opgestane Jesus Christus ontvang het – nie van mense nie (Gal 1:1, 11); hy was die een wat die implikasies van die kruisiging, dood en opstanding van Jesus verduidelik het (vgl Rom 6:3-11, Kol 2:6-13) en sy unieke roeping as apostel vir die nie-Jode (“die heidene”) verklaar het (Gal 2: 7-9).

Clyde Pilkington sê:

God revealed more of Himself and His plan to Abraham than He had to Adam; more to Moses than to Abraham; more to David than to Moses; more to Peter than to David; with Paul being the summit of God’s revelation.

Selfs Paulus het voortdurende openbaringe van God ontvang sedert sy Damaskuspad – ontmoeting met Christus in 36 NC.  Hy het dit ook aanvanklik ten dele ontvang (1 Kor. 13:9-10). Een en twintig jaar later (57 NC) sou hy nog kom by gesigte en openbaringe van die HERE (2 Kor 12:1).  Nog elf jaar later skryf hy sy laaste briewe aan gemeentes terwyl hy in gevangeskap is: Filippense, Efesiërs, Kolossense. In hierdie briewe word God se finale openbaringe aan ons gegee. Dit bevat waarhede wat nog nooit tevore aan enigiemand openbaar is nie – sien Efes. 3:1-4, 8-9; Kol. 1:25-26.

Die apostel Johannes het ‘n visie gehad oor die Nuwe Aarde en die Nuwe Jerusalem, die toekomstige woning van die aardse heiliges. Paulus was egter getransporteer na die derde hemel en hy het geskryf oor ons burgerskap in die hemele (Fil 3:20) en ons setel in die hemelse sfere (Efes 2:6).  Die hemele is hoër as die aarde, en ontsaglik groter in ruimte en prag.

Paulus is die een aan wie God die voltooiing van Sy Woord toevertrou het.

            …om die woord van God volledig bekend te maak.  (Kol. 1:25)

…om te vervul/vol te maak die woord van God (Grieks-Afrikaans Interliniêr)

            … to complete the word of God (Concordant Literal Version)

Paulus se bedienings-taak was om die Woord van God volledig bekend te maak aan die Ekklesia – die Kerk. God het hom insigte en openbaringe gegee wat geheimenisse bevat het, wat nie tevore geopenbaar is nie. Volgens tradisie is die Boek van Openbaring omtrent 30 jaar na Paulus se laaste briewe geskryf. As die siening korrek is, voltooi Paulus se briewe God se Woord in ‘n ander sin. Al die ander Bybelboeke is beperk in hul trefwydte, deur aardse beloftes voor te hou sover dit ruimte aangaan, en sover dit tyd aangaan, te bly by die eras (eons). Paulus se briewe styg uit ver bo-kant die aardse  na die” hemele bo elke owerheid en gesag en mag” (Efes 1:20-21) en na “tye” wat verder strek as die eras, wanneer God “alles in almal sal wees” (1 Kor 15:28).

Hierdie is ‘n uiters belangrike waarheid wat elke Bybelstudent in ag behoort te neem. Word dit nie gedoen nie, kry ons ‘n vermenging van Wet en Genade, weersprekende Bybelverse en verwarring.

Dit is veral die laaste briewe van Paulus – dit wat hy in gevangeskap geskryf het- wat in die geheel direk op ons, wat deel is van die Liggaam van Christus, van toepassing is. Tydens sy gevangeskap, na Handelinge 28:28, was Israel as nasie reeds deur God opsy gesit (vgl Rom 11:25-32); sy  bediening was gerig op die nie-Jode en nie Wetsgebonde nie; en daar het hy die volle openbaring ontvang van God se geheim, waarvan die profete van weleer nie eens geweet het nie (Efes 3:9).

‘n Tabel wat die onderskeid tussen die twee groepe briewe van Paulus uitlig:

VOOR GEVANGESKAP BRIEWETYDENS GEVANGESKAP BRIEWE
Die “kultuur” van “Eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek” was aan die orde van die dag (Hand 13:46, Rom 1:16, 2:9-10; 2:29; 9:3-5)  Die middelmuur tussen Jood en Griek was afgebreek (Efes 2:11-14)
In lyn met die program vir Israel was die wederkoms van Christus gesien as voor die deur (1 Thes 5:1-2, 1 Kor 7:29)Die fokus is op die verskyning van Christus met Sy Liggaam (die Kerk van hierdie bedeling) in die hemele (Kol 3:4)
Die Jode vra tekens. Tekens en wonderwerke was teenwoordig (Joh 4:48, 1 Kor 1:22, Hand 2:22; 28:1-5)Tekens en wonderwerke word nie genoem nie (vgl 2 Tim 4:20)
Die geheim van God is slegs gedeeltelik ge-openbaar en sommige insigte was nie toelaatbaar om gedeel te word nie (2 Kor 12:1-4)Die geheim is ten volle geopenbaar en Paulus kon daaroor skryf (Efes 3:9)
Geskryf gedurende die gebeure beskryf in die Boek van HandelingeGeskryf na die gewigtige verklaring van Paulus oor Israel in Hand 28:28

Dit is belangrik om te onthou dat die hele Skrif nuttig is vir ons. Soos Paulus sê: die Wet is nie bedoel vir die regverdige nie, maar dit is goed wanneer dit op die regte manier gebruik word (1 Tim 1:8). Dit wat ons lees in die Boeke wat nie deur Paulus geskryf is nie, filter ons deur die waarhede in Paulus se briewe. Dit wat in die voor-gevangeskap briewe van Paulus staan, filter ons deur die waarhede in sy gevangeskap briewe.

Ter illustrasie, neem ek die Boek van Jakobus as voorbeeld. Daar is sekere waarhede wat geldig is vir al die eeue sedert die skepping van die mens tot die hede, wat kosbaar vir ons almal behoort te wees:

  • Beskou dit as ‘n groot vreugde as allerhande beproewinge julle oorval (1:2 – vgl Rom 5:3-5).
  • Elke goeie gawe kom van God af (1:17 – vgl Efes 2:8)
  • Moenie maklik of vinnig kwaad word nie (1:20 – vgl Efes 4:26, 31)
  • Hou jou onbesmet van die wêreld (1:27 – vgl Rom 12:2)
  • Moenie iemand na die uiterlike beoordeel nie (2:1 -vgl 1 Kor 1:26-28)
  • Wie die hele wet probeer onderhou, maar een wet oortree, is aan almal skuldig (2:10 – vgl Gal 5:3-4)
  • Die liggaam sonder asem [gees] is dood (2:26 – vgl Pred 12:7)
  • ‘n Onbeheersde tong kan groot skade doen. Geen mens kan die tong tem nie. (3:1-8 – vgl Kol 3:8)
  • Die wysheid van bo is suiwer, vredeliewend, bedagsaam en inskiklik (3:17 – vgl 1 Kor 2:6-7, Gal 5:22, Kol 3:12-15)
  • Hierdie lewe is soos ‘n miswolkie wat net vir ‘n kort rukkie verskyn  en dan weer verdwyn (4:14 – vgl 1 Kor 15:19)

Om die Skrif korrek uit te lê, moet ons waar God onderskeid maak, ook so maak. In die proses sal vele mensgemaakte differensiasies in die niet verdwyn, terwyl nuwe insigte op die horison verskyn. Geniet die reis en ontdek die “diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God” (Rom 11:33).

***

‘n Boek wat ek sterk aanbeveel is God’s Holy Nation – Israel and Her Earthly Purpose Contrasted with the Body of Christ and Its Heavenly Purpose   deur Clyde L Pilkington Jr – Bible Student’s Press


[1] Gal 3:7-9 word soms genoem as stawing. Dit lees: “Die mense wat uit die geloof is, dié is kinders van Abraham.” En: “…aan Abraham [is] verkondig: ‘In jou sal al die nasies geseën word’. Daarom word al die mense wat glo, saam met die gelowige Abraham geseën.”

Ook in Rom 11:16-24 word die analogie van inenting van takke in ‘n mak olyfboom gebruik om die gelowige heidene (van ander nasies as Israel) se posisie te verduidelik.

Vanaf Petrus se visioen waar God hom gewys het dat nie-Jode nie uitgesluit moet word nie tot en met Handelinge 28:28, was heidense proseliete toegelaat, maar hulle was beskou as vreemdelinge en bywoners.  Wanneer God sy koninkryk op aarde vestig, sal Israel weer ‘n dominante rol speel en sal al die ander nasies geseën wees deur hulle verhouding met die nasie van Israel.

Die tekste praat in elk geval nie van geestelike Israel nie.

[2] Daar is ‘n verskil tussen die koninkryk waarvan Paulus skryf in Efes 5:5 en Kol 1:13 en die Messiaanse koninkryk op aarde.

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.