Hoekom soveel opinies oor die Godheid, godsdiens en wat die waarheid is?
Die mensdom is so verdeeld oor of daar ‘n God is, en as daar geglo word in ‘n God, wie daardie God is. Selfs in die Christendom, is daar verdeeldheid. Gaan google gerus oor hoeveel denominasies daar in die wêreld is. Die lys van verskillende denominasies en groeperinge dwarsoor die wêreld is verstommend.
Mens kan aanvaar dat die oorgrote meerderheid glo dat dit waarin hulle denominasie glo, die waarheid is. Maar almal kan nie korrek wees nie.
Hoekom soveel verdeeldheid? Hoekom soveel twispunte? Het God misluk om Sy boodskap aan die mensdom oor te dra met eenvoud en ondubbelsinnigheid, sodat almal dit op dieselfde manier verstaan?
As dit God se oogmerk was, dan het Hy ooglopend klaaglik misluk.
Ek glo in die God waaroor in die Bybel geskryf word. Ek glo die oorspronklike Heilige Skrif waarop die Bybel gefundeer is, God se openbaring aan die mensdom is.
Ek aanvaar dat jy, die leser hiervan, ook glo dat daardie Heilige Skrif die geïnspireerde Woord van God is. Maar het jy nie (soos ek) al gewens dat die Bybel eerder soos ‘n ensiklopedie met onderwerpe alfabeties gerangskik, geskryf is nie? Ek besit ‘n Topical Bible wat deur mense saamgestel is. Die Bybel is egter nie so saamgestel nie. Nou is dit hier ‘n bietjie en daar ‘n bietjie (vgl. Jes 28:10, 13). En wat gegeld het op ‘n gegewe tydstip, geld nie noodwendig in ‘n ander konteks of bedeling nie. Die Bybel, wat weliswaar die top-verkoper is van alle boeke, is nie so maklik om te verstaan nie.
Ek sal dit nooit vergeet nie. Toe ek ‘n kind was het ek eendag een van my ooms hoor sê: “Niemand kan die Bybel rêrig verstaan nie.” Dit het my gepla vir baie jare. Ek het by myself gedink, dit kan mos nie so wees nie?
Die Skrif leer nie dat God nou al aan almal dieselfde waarheid gee nie. Die Skrif leer nie dat dit Sy oogmerk is nie.
Die verborge dinge is vir die Here onse God, maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid [eerder: vir die duur van die eon] om te doen al die woorde van hierdie wet. (Deut. 29:29)
Terloops, selfs oor die vertaling van die Skrif is daar nie eenstemmigheid nie.
So wat kry ons uit Deut. 29:29?
Daar is dinge wat God verberg vir sommige, wat Hy aan andere openbaar.
God weet alles. Hy is soewerein en Hy het die reg om te openbaar wat Hy wil aan wie Hy wil wanneer Hy wil.
Job het klaarblyklik in sy leeftyd nooit geweet wat die agtergrond en rede was vir al die teenspoed wat hom getref het nie. Teen die einde van die Boek het God hom geantwoord “uit die storm” (Job 38:1 e.v.), maar nie eenkeer het God verwys na die dialoog tussen God en Satan wat aanleiding gegee het tot sy ellende nie.
Hoekom nie?
Wel, dis ook een van daardie verborge dinge. Nêrens in die Skrif word dit verduidelik nie.
Dit is die eer van God om ‘n saak te verberg., maar die eer van konings om ‘n saak na te speur. (Spr 25:2).
Hoekom is dit so? Hoe kan dit tot eer van God wees?
Kennis kan lei tot hoogmoed en trots. “Kyk hoe oulik / slim is ek… Ek ken en verstaan hierdie dinge, maar hierdie spul “morons” het nie ‘n idee waaroor dit gaan nie..”
Kennis maak verwaand ….(1 Kor 8:1)
Dan is kennis ‘n hindernis op die pad wat God vir ons gebaan het. Want een groot les wat ons moet leer, is dat sonder God ons swak en hulpeloos is. Alle eer kom Hom toe. Geen mens het iets om op te roem nie. Alle intellek, wysheid en insig is deur God gegee. Jy is wat jy is deur God se genade.
Maar deur die genade van God is ek wat ek is. So sê Paulus in 1 Kor. 15:10.
Na sy bekering was Paulus ‘n nederige mens. Hy het homself beskou as die geringste van al die apostels en die grootste sondaar ooit (1 Kor. 15:9; 1 Tim. 1:15) Vir hom het God geheime geopenbaar wat aan niemand anders gegee is nie, behalwe in soverre as wat ons dit kan leer vanuit Paulus se briewe (Efes. 3:3-4).
My ondervinding is dat die beste Skrifuitlêers en leraars nederige mense is.
Nie alleen verberg God die waarheid nie, Hy sal selfs mense, selfs ‘n nasie, doelbewus verblind!
Dit waarna Israel soek, dit het hulle nie bekom nie, maar die uitverkorenes het dit bekom; en die ander is verhard, soos daar geskrywe is:
God het aan hulle ‘n gees van bedwelming gegee,
Oë wat nie sien
En ore wat nie hoor nie, tot die dag van vandag. (Rom. 11:7-8)
Jesus het gelykenisse vertel, met verskuilde waarhede. Hy het juis gelykenisse gebruik om die geheimenisse van die koninkryk van God vir die meerderheid aanhoorders te verberg.
Sy dissipels het Hom gevra wat hierdie gelykenisse tog beteken. En Hy het gesê: “Vir julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van God te ken, maar vir die res kom dit deur gelykenisse, sodat hulle sien, maar nie kan sien nie, en hoor, maar nie kan verstaan nie.” (Luk 8:9-10).
Wat dan staan die persoon te doen wat eerlik en opreg opsoek is na die waarheid?
Gaan jy na die teoloë met die meeste grade – die hooggeleerdes? Wel, hulle verskil ook onder mekaar. Die meerderheid van hulle is deel van die denominasie of groepering waarin hulle grootgeword het. Hulle het lering ontvang van hulle leermeesters van dieselfde stal. Binne in daardie groepering word dit oorgedra van geslag tot geslag.
Moet mens soek vir een of ander teken? Jesus het gesê: “’n Slegte en ontroue geslag wil ‘n teken hê….” (Mat. 12:39).
Die soeker sal die waarheid vind by Jesus Christus .
Jesus het toe vir die Jode wat in Hom glo , gesê: “As julle in my onderrig bly, is julle waarlik my dissipels en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Maar dan voeg hy ook by: “Hy wat van God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie van God is nie.” (Joh. 8:31-32, 47).
‘n Opregte soeke na kennis en insig oor God self en Sy waarheid is die beginpunt (Spr 2:1-5), maar selfs dit is iets wat God in daardie persoon plant. Die Gees van God lei die persoon in waarheid (Joh 16:13). Hy of sy ondersoek leringe en meet dit aan die Woord van God (Hand. 17:11). Hy of sy leer hoe om die Woord reg te skei – wat is geldig vir die gelowige van vandag, en wat nie (2 Tim 2:15 -1933 /1954 vertaling).
Dit is soos ‘n reis – daar mag oomblikke van openbaring wees, maar ook tye waar die sluier stadig en geleidelik gelig word, en tye van oënskynlik geen verdere ontsluiering nie.
Dit is die minderheid wat hulleself op daardie pad bevind – die uitverkorenes van God.
Dus, as dit nie God se bedoeling was om in hierdie tydvak alle waarheid aan elke mens te openbaar nie, dan het Hy nie eens gepoog om dit te doen nie en dan het Hy ook nie gefaal nie. God misluk nie. Dit wat Hy beoog sal Hy verwesenlik (Efes. 1:11).
Dit is God se wil dat op die ou einde “alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim. 2:4). Daardie dag wanneer elke mens God sal ken en eer sal vir seker aanbreek.
… want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek. (Jes. 11:9).
***