GOD SE DOELWIT WORD UITGEVOER – MET OORWEGING VAN BESWARE

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

GOD SE DOELWIT WORD UITGEVOER – MET OORWEGING VAN BESWARE

Deur William C Rebbman (vertaal deur Johann Grobler)

Het jy al ooit gewonder hoe God van plan was om hierdie hele besigheid van die bestuur van die heelal te beëindig?

Het jy al ooit tyd geneem om daaroor na te dink dat God geweet het hoe alles sou wees en hoe dit sou word voordat Hy selfs ‘n enkele ding geskep het? Het jy ooit besef dat God as gevolg van hierdie feit beslis ‘n doel in die oog moes gehad het voordat Hy Adam geskep het? Het jy al ooit gewonder hoe die leer van die ewige straf by daardie onveranderlike waarheid sou inpas? Het jy nooit gewonder of Christus in ‘n letterlike, werklike sin bedoel het wat Hy in Johannes 12:32 gesê het nie?

               En as Ek van die aarde af verhoog word, sal ek almal na My toe trek.

Sal alle mense gered word wanneer God Sy plan vir die eeue voltooi het, “ooreenkomstig Sy ewige voorneme, wat Hy gemaak het  in Christus Jesus, ons Here” (Efesiërs 3:11)?

Die Skrif stel dit duidelik dat God dit tot Sy groot eer sal bereik; maar baie argumente word opgewerp teen hierdie waarheid. Tog glo ons dat, soos God jou begrip gee, jy ook sal kom om God eerbiedig te aanbid as die Allerhoogste, Wie in Sy liefde ver, ver vooruit beplan, en deur Sy oortreffende wysheid en krag alle mees duistere en vermoeiende toestande sal laat uitloop na die eindpunt van glansende heerlikheid.

Kolossense 1:20

… en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis – ek sê deur Hom – die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele (1953 vertaling)

Beswaar: Die “alles” hier beteken slegs materiële dinge.

Antwoord: Materiële dinge kan nie gevoelens van vyandskap of vrede hê nie. Buitendien, die Grieks, is nie “alle dinge” nie, maar impliseer “die alles”.

Beswaar: Versoen beteken die algemene tevredenheid van God met Christus se offer vir die hele wêreld.

Antwoord: ‘n Lees van :21-22 weerlê dit. (Scofield sê: “Versoening … is die effek van die dood van Christus op die gelowige sondaar wat deur goddelike krag in hom ‘n deeglike verandering teenoor God bewerk, van vyandskap en afkeer, na liefde en vertroue.”)

Beswaar: Versoening kan slegs deur geloof bewerkstellig word.

Antwoord: Paulus is gered deur aanskouing, die aanskoue van Christus in Sy heerlikheid (Hand 9:1-6). Die Here het eenvoudig sy ongeloof met geloof oorweldig (1 Tim 1:13-14).

As Saulus van Tarsus was Paulus die voorste (hoof)sondaar. As hy gered is deur God se doelbewuste keuse en oortuigende bewys van Christus se goddelike Seunskap, dan kan alle ander sondaars selfs makliker na God gedraai word, in Sy Eie tyd.

Beswaar: Paulus noem Homself die “hoof” (AV) van sondaars, vanweë daardie diepe nederigheid wat elke bekeerling sy eie verdorwenheid laat voel.

Antwoord: Ongeloof, vervolging, haat teenoor God se mense, verwerping van Christus, wreedheid en moord, is onuitspreeklike veragtelike sondes. Van al hierdie dinge was Saul uitermate en aktief skuldig (vgl Hand. 9:1; 1 Tim. 1:3). Saulus se sondigheid is vergroot deur sy voortreflike kennis van God se openbaring (vgl Filippense 3:4-6) en sy vroeëre verwerping van Christus, al was hy getuie van Stefanus se voortreflike getuienis van Christus se goddelikheid en opstanding (Hand 7:56, 58)

Filippense 2:10-11

…sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig – van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde – en elke tong sal bely “Jesus Christus is die Here!” tot eer van God, die Vader.

Beswaar: Hierdie gedeelte praat van wat vir die meeste ‘n gedwonge buiging van die knie sal wees.

Antwoord: So ‘n verskriklike toneel kan nooit “tot eer van God, die Vader” wees nie. Buitendien sal almal buig “in” die naam van “Jesus”, die naam wat “Jahweh-Verlosser” beteken.

Inderdaad, “niemand kan sê “Jesus is die Here!” behalwe deur die Heilige Gees nie” (1 Korinthiërs 12:3).

1 Korinthiërs 15:22

Want soos almal deur Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.

Beswaar: Slegs diegene wat “in Christus” sterf, sal lewend gemaak word.

Antwoord: Dit is nie wat Paulus sê nie! Buitendien, as dit die gedagte was, waarom bring Adam (wat die hele ras beïnvloed) in die prentjie?

Beswaar: Almal “lewend gemaak” behels bloot opstanding tot veroordeling, eindelose dood in die poel van vuur.

Antwoord: Vers 26, “die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood“, maak dit duidelik dat hierdie gedeelte praat van finale, uiteindelike lewendmaking, van heerlike redding vir die hele mensdom.

Beswaar: Die laaste vyand is die voorkoms van sterwe, nie die gevolglike doodstoestand nie.

Antwoord: Dit sluit beide in, en die tyd wat daardie toestand in beslag neem tot en met die opstanding (vgl 1 Kor. 15:21, “Want aangesien die dood deur ‘n mens gekom het, kom die opstanding van dooies ook deur ‘n mens“).

ALGEMENE BESWARE

Beswaar: Daar is dan geen dringendheid om nou gered te word nie.

Antwoord: Alle ongeredde mense sal geoordeel word “volgens hulle dade” (Openbaring 20:12) en in die poel van vuur ingaan. Ook eons van heerlikheid en vreugde sal nie deur die ongereddes geniet word nie.

Beswaar: Die Bybel praat van “ewige straf” (Mattheus 25:46) en “ewige vuur” (Mattheus 18:8).

Antwoord: Die Griekse woord wat met “ewig” vertaal word, is aion, (waar die woord eon[i] vandaan kom) en die Griekse woord vir “ewigdurend” is aionion, wat die argument terugbring na die betekenis van eon. Bewys dat die vertaling van die Griekse woord aion as “ewig” verkeerd is, is dat die 1953 en 1983 vertaling self dikwels hierdie woord “voleinding van die wêreld” vertaal, en die 2020 vertaling “voleinding van die tyd”  (Matteus 13:39-40, 49). Nog ‘n bewys is dat dieselfde vertalings soms die meervoudsvorm as “eeue” of “tye” vertaal (Efesiërs 2:7; Kolossense 1:26).’Eon’ moet dus praat van ‘n beperkte tydperk; want dit het ‘n begin, ‘n einde en ‘n meervoudsgetal.”

Beswaar: Eon wissel in betekenis in die Skrif, soms met ‘n tydelike betekenis, en soms ewig en onbeperk.

Antwoord: Geen woord kan sulke teenstrydige gebruike hê nie, anders hoe weet ons wat dit op enige gegewe tydstip beteken? Eindigheid en oneindigheid is so teenoorgesteld as oos en wes.

Beswaar: Toegegee, eon beteken eeu in figuurlike sin of ‘n beperkte tydperk, maar “tot in alle ewigheid” (1953 en 1983 vertalings) en “vir ewig en ewig”(2020 vertaling) (Openbaring 20:10) sal nie vir ‘n beperkte tyd wees nie, maar, soos die Grieks dit het, “vir die eons van die eons” (d.w.s. vir ‘n onbeperkte aantal eons wat self nog addisionele eons bevat, of “eons opgehoop op eons.”) Dit moet so eindeloos wees soos Christus se regering (Openbaring 11:15) en die regering van die heiliges (Openbaring 22:5).

Antwoord: ‘n Tydperk kan nie ander tydperke van dieselfde soort bevat nie, of die term word betekenisloos. “Die eons van die eons” is die finale “eons” (eeue) anders as die ander skriftuurlike eons. Dit is omdat hulle die grootste en belangrikste eons van al die eoniese tye is. Elke soortgelyke uitdrukking het ‘n soortgelyke betekenis: bv dag van dae, hart van harte, allerheiligste. (Die Grieks het ook twee enkelvoudsvorme, “eon van die eon” en “eon van die eons”, wat verwys na die laaste groot eon. Om korrek te wees in ons bevindinge, moet ons kennis neem van die skriftuurlike vorms en onderskeidings.)

Christus se heerskappy is nie eindeloos nie, maar slegs totdat alles onderworpe is (1 Kor 15; 24-28). Dan sal alle heerskappy afgeskaf word.

Beswaar: As die “ewige straf” van die ongelowiges ‘n einde het, dan het die “ewige lewe”  van die heiliges ook aan die einde van die eeue ‘n einde.

Antwoord: Hoe kan die lewe eindig as die dood in daardie tyd afgeskaf word (1 Korintiërs 15:26)? Die lewe van die eons eindig wanneer almal lewendig gemaak word, aan die “einde” (of “voleinding”) van die eons (1 Kor 15:24). Die lewe self gaan egter eindeloos voort (vgl Luk. 1:33).

Beswaar: Dan is God nie “ewig” soos Hy in Romeine 16:26 genoem word nie.

Antwoord: Die idee van “blywendheid” is geen deel van die Griekse woord aiōnion  nie. “Aionion” is bloot die byvoeglike vorm van “eon”. Net soos “Amerikaans” praat van dit wat op “Amerika” betrekking het, praat aionion van dit wat op die eons betrekking het. Dit is nuttig om kennis te neem van die vorige vers (:25), en te let op die frase die openbaring van die misterie, wat eeue lank verswyg was, maar wat nou …. bekend gemaak is(2020 vert.) wat letterlik vertaal in Engels lees “hushed in times eonian, yet manifested now” (Concordant Version). Daarom is “eonian” beslis nie “ewig” nie. “Aionion” kom ook voor in die frase “reeds voor alle tye” (Titus 1:2). Die byvoeglike naamwoord “aionian” beteken “met betrekking tot die eons.” Dat God die God van die eons is, beperk Hom nie meer tot hierdie tydperke as wat Sy titel “die God van Israel” verhinder dat Hy die God van almal is nie. Ander “gode” val en word vergeet; maar ons het ‘n God wat die eons geskep het (Heb 1:2), Wat ‘n doel met die eons het (Efes 3:11) en Wie sy doel dienooreenkomstig bereik gedurende die eoniese tye (vgl. Titus 1:2). Daarom is Hy die Ewige God. Die eons behoort aan Hom en Hy behoort aan die eons, en Hy sal vir hulle die eer wees lank nadat hulle verby is.

Beswaar: In 11 Korinthiërs 4:18, moet aionon beteken “ewig”, want dit word gekontrasteer  met die woord “tydelik”, wat beteken dit (die sigbare dinge) bestaan vir ‘n tydsduur, maar nie tot in ewigheid nie.

Antwoord: Die Griekse woord wat vertaal word “tydelik” het geen konneksie met die woord vir “tyd” nie; dit is letterlik NADEREND SEISOEN, en beteken “tydelik” of “vir die era.” In die betrokke Skrifgedeelte word “aionion” gebruik om ons verdrukking wat net vir ‘n kort “seisoen” duur, te kontrasteer met ons beloofde “aionion” heerlikheid, wat sal duur totdat alles oorgaan na die glorieryke volmaakte volvoering.

1 Korinthiërs 15:28

Wanneer alles aan Hom onderwerp is, sal die Seun [Christus] Homself onderwerp word aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal sal wees.

Beswaar: Onderwerping dui op die gebruik van geweld.

Antwoord: Nie noodwendig nie, want hoewel Hy geweld as middel mag gebruik, sal Hy uiteindelik sy skepsels so gelei en geleer het dat hulle nie meer regering nodig sal hê nie (vgl :24, “wanneer Hy alle heerskappy en gesag en mag vernietig het”). God sal deur Sy Gees alles in ieder en elk word, want Hy sal “Alles in almal” word. Wat anders kan hierdie woorde beteken, dat almal vrede met God sal hê?

ALMAL SAL GERED WORD

“Deur sy bloed aan die  kruis” (Kolossense 1:20) maak Christus vrede vir almal met die Vader en leer Hy uiteindelik elkeen sodat  almal inkom in die geseënde familie van God. Dit is “ooreenkomstig sy ewige voorneme [“the purpose of the eons” (Concordant Version], wat Hy gemaak het in Christus Jesus , ons Here” (Efesiërs 3:11). So verkry Hy die blywende liefde van elke skepsel.

Ons het pas die belangrikste feite nagegaan oor wat God se Woord leer aangaande universele versoening. Ons deel is om te glo wat die Skrif sê en nie te twyfel nie. Mag ons in liefde teenoor almal wandel, terwyl ons Hom getrou dien.

God “werk alles volgens sy raad en wil” (Efesiërs 1:11), al kan ons nie presies weet hoe Hy dit doen nie. God is “die Verlosser van alle mense…, veral van die gelowiges” (1 Tim. 4:10; vgl. 2:4-7).

Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge: Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig [Grieks: aion] toe! Amen! (Romeine 11:36).

… want Ek is God, en daar is geen ander nie, God, en daar is niemand soos Ek nie. Ek wat van die begin af die afloop aankondig, van lank gelede af dit wat nog nie gebeur het nie. Ek wat sê, “My raadsbesluit sal standhou; alles wat Ek wil sal Ek uitvoer.’ (Jesaja 46:9-10).

Uiteindelik sal die hele Israel gered word (Romeine 11:26; vgl Jesaja 45:25). Hoe? Hulle sal gered word deurdat hulle hul Verlosser in sy heerlikheid sal sien, terwyl Hy  steeds die merke dra van hulle kruisiging van Hom (vgl Sagaria 12:10-11; 13:1,6). Op dieselfde manier sal geen mens Christus se aanbod van liefde kan weerstaan nie, wanneer geloof vervang word deur aanskouing, wanneer al die sondaars van alle tye hulle Verlosser op die troon van mag sien met die tekens van diepste vernedering en lyding sigbaar – dit wat Hy gewillig verduur het om hulle finale versoening in die familie van God te verseker. Genade kan slegs kom deur die verdienste van God se regverdige Seun. God sal aan al Sy verlore skepsels wys dat dit slegs liefde is wat Hy soek, nie gedwonge of vreesbevange gehoorsaamheid nie. Dit was Sy plan nog voor die eons. Waarom moet ons nie glo dat God in Sy groot wysheid alles volgens Sy grootste heerlikheid sal uitwerk nie?

God soek liefde, bo alles. Heerlikheid, ja, maar slegs in soverre dit die liefde van Sy skepsels sal verhoog. Al die ander is onderdanig hieraan, want: “God is liefde” (1 Joh. 4:8, 16). God se doel is nie net ‘n hunkerende verlange na liefde nie. Sy enigste ware heerlikheid lê in die uiteindelike sukses van Sy plan om die volle en vrywillige reaksie van liefde van Sy elke skepsel te verseker. Dan en dan alleen – net soos die herder wat die een verlore skaap gesoek en gevind het – sal Hy rus van Sy voltooide werk.

Wat dink jy van hierdie Christus wat liefdevol Sy alles in so ‘n groot plan werp om die liefde van elke mens te verkry? As jy nou in Hom glo en Sy offer vir jou, is jy “geregverdig deur geloof” (Romeine 5:1) en sal jy deel in Sy heerlikheid in die wonderlikste komende eons.

***

Met goedkeuring gekopieer uit Bible Students Notebook en vertaal.


[i] In Verklarende Handboek van die Afrikaanse Taal (5 de uitgawe) word eon omskryf as “Onmeetlike tydruimte, tydperk.”

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.