GEEN MENS HET ‘N VRYE WIL OF VRYE MORELE KEUSE NIE

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

GEEN MENS HET ‘N VRYE WIL OF VRYE MORELE KEUSE NIE

Vir baie jare het ek geleer dat God ‘n gentleman is; dat Hy niemand sal dwing om iets te doen nie; dat Hy aan elke mens die vryheid gegee het om  morele keuses uit te oefen.

Dit was wat ek verstaan het, want dit was wat ek geleer is. En dit het my konsep van God gepas, dat Hy nie ‘n diktator is nie en dat Hy wil hê dat mense Hom gewillig, vanuit die hart, moet gehoorsaam.

Later het God my oë oopgemaak vir ‘n ander begrip. Dit is wat ek hier wil deel …

Die soewereiniteit van God

Myns insiens is die diepste woorde wat ooit deur enige digter, romanskrywer, geleerde of skrywer geskryf is, die Gees-geïnspireerde woorde van die apostel Paulus in Romeine 11:36:

               Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge…

Neem tyd om na te dink oor hierdie stelling. 

Oorweeg die woorde “alle dinge.” Dit sluit in alles, elke gebeurtenis, elke gedagte. Niks is uitgesluit nie.

Waar die oerknalteorie leer dat alle dinge uit een deeltjie is, leer die Skrif dat alle dinge uit God is.

Hier is nog ‘n “alle dinge /alles” vers:

… voorbestem wees volgens die voorneme van die Een wat alles werk volgens sy raad en wil laat gebeur   (Efes 1:11)

Miskien vind jy dit makliker om te glo dat God die tye en grense van nasies gestel het (Handelinge 17:26), as om te glo dat Hy betrokke is by die fyn detail van elke mens se lewe. Maar oorweeg die volgende:

Ek weet, HERE, dat ‘n mens nie oor sy lewenspad beskik nie, dat iemand nie, terwyl hy loop, sy eie voetstappe bepaal nie (Jer 10:23).

Die hart van ‘n mens beplan sy pad, maar die Here bepaal sy voetstappe (Spr 16:9).

Daar is baie planne in ‘n mens se hart, maar die raad van die HERE – dit kom tot stand (Spr 19:21). (Sien ook Jes 46:10).

Die HERE bepaal ‘n man se treë; en ‘n mens, hoe sal hy dan sy eie pad verstaan?  (Spr 20:24)

Ja, daar is nog nie ‘n woord op my tong nie, kyk, dan ken U HERE, dit volledig! … Om dit te verstaan, is ‘n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie (Ps 139:4-6 ).

Hy ontferm Hom dus  oor wie Hy wil, en Hy maak hardkoppig wie Hy wil (Rom 9:18).

Die absolute soewereiniteit van God impliseer dat Hy absolute vrye wil het. Hy kan doen wat Hy wil. Geen krag of invloed van buite bestaan sonder Hom nie; dit kan dus nie Sy planne dwarsboom nie.

Clyde Pilkington skryf:

To advocate human free will is to deny God’s Godhood. For there to be a God, there can’t be two conflicting wills. There is room in His universe for only one with free will. It is impossible for a finite being to have an absolutely free will. If creatures had absolute free will, then the creation would be greater than the Creator. God’s will is FREE, man’s will is NOT.[1]

Mense as marionette?

Beteken dit dat elke mens ‘n marionet op ‘n toutjie is – elke oomblik gemanipuleer deur die hande van God?

Glad nie!

Ek ontken nie dat die mens ‘n wil het nie. Dit is net dat die wil nie so vry is as wat ons geneig is om te dink nie. Elke persoon se wil word deur baie faktore beïnvloed. Dit kan sy of haar temperament wees waarmee hy of sy gebore is; dit kan die voorbeeld wees van ouers en nabye familie; dit kan ‘n traumatiese gebeurtenis van die verlede wees; die kultuur in die gemeenskap of werkplek wat op die persoon afgevryf het; of die aansporing van die Gees van God of ‘n begeerte wat God in die hart van die persoon geplaas het. Verder, as alles uit God is (wat dit is), dan is elke invloed ook uit God.

Kom ek gebruik twee illustrasies. Toe God mense beveel het om te vermeerder (sien Gen 1:28; 9:1,7; 35:11) wat ons weet die mens gedoen het, is hulle gedwing om dit te doen? Was hulle soos robotte wat deur God beheer word? Nee! Maar God het ‘n sterk seksdrang in mans en vroue geplant sodat wat hulle wou doen aangespoor is deur begeertes wat God in hulle geplaas het. God het geweet dat hulle nie daardie drange sou kon weerstaan nie.

Dieselfde geld as ek ‘n bord sjokoladekoekies en ‘n bord spinasie voor ‘n kind  plaas en sê: “Kies watter bord jy wil neem.” Die kind sal ‘n keuse kan uitoefen, maar ek en jy weet wat die keuse sal wees.

Clyde Pilkington gaan voort,

Based on fancied “free will,” Christianity essentially has God gambling on an experiment. We, however, are not masters of our own fate. We are not the lords of our own lives. We are the creatures, not the Creator. We are like a leaf in a stream, unaware of the current beneath, or its destination.

Verse wat skynbaar die mens se vrye wil impliseer

Sommige Skrifgedeeltes blyk,  met die eerste oogopslag, die leer van vrye morele keuse te bevestig.

In Deuteronomium 30:19 vermaan God die volk Israel om die lewe te kies. Teoreties kan hulle die lewe kry deur die wet te onderhou, “die mens wat dit doen, sal daardeur lewe” (Lev 18:5). Maar God het geweet dat hulle dit nie sou kon doen nie. Baie jare later skryf Paulus dat die doel van die wet was om elke mond toe te maak en mense te help om sonde te herken (Rom 3:19, 20) en om mense na Jesus Christus te lei (Gal 3:24-25). Die feit dat God vir Israel gesê het om te kies, beteken dus nie dat hulle sonder enige invloed of inherente swakheid kon kies wat hulle uitoefening van keuse sou beïnvloed nie. Per slot van sake, verduidelik Paulus dat sonder God se Gees kan niemand hom aan die wet van God onderwerp nie en God tevrede stel nie (Rom 8:7-9).

In Handelinge 16:30-31 vra die tronkbewaarder vir Paulus en Silas: “Wat moet ek doen om verlos te word?”  Hulle antwoord was “Glo in die Here Jesus.” Geloof is ‘n vereiste vir verlossing. Maar dit beteken nie dat ‘n mens in staat is om deur wilskrag of deur gefokusde denke, geloof op te wek of te genereer nie. Dit is ‘n gawe van God (Efes 2:8).

Voorbeelde in die Skrif van geen vrye wil nie:

Ek sal net ‘n paar voorbeelde uit die Skrif noem, waar dit duidelik is dat die betrokke persone nie ‘n vrye wil gehad het nie:

• Mense wou na die sondvloed een groot stad bou, maar is deur God versprei oor die hele aarde, deur hulle taal te verwar sodat hulle mekaar nie kon verstaan nie (Gen 11:1-8)

• Die slinkse optrede van Josef se broers teenoor hom … “Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad” (Gen 50:20)

• Farao se hart word deur God verhard (Eks 14:4-28)

• Onwillige en teësinnige Jona word deur God na Ninevé gestuur om vir die inwoners daar te preek (Jona 1-3)

• Nebukadnesar, destyds die magtigste man op aarde, wat deur God se toedoen in die woestyn rondgedwaal en sewe jaar lank soos ‘n dier gras geëet het, waarna hy in die openbaar die oppergesag en soewereiniteit van God erken (Dan 4:31-35)

• Koning Kores van Persië word deur God “in sy gees aangevuur” om ‘n huis vir die Here in Jerusalem te laat herbou (2 Kron 36:22-23; Esra 1:1-4)

• Ten spyte van baie wonderwerke het Jesus se tydgenote nie in Hom geglo nie as gevolg van geestelike blindheid wat deur God opgelê is (Joh. 12:37-40)

• Judas Iskariot se verraad teenoor Jesus ter vervulling van profesie (Ps 41:9 + Luk 22:47,48); Sag 11:12 +Mat 26:14,15)

• Petrus se verloëning drie keer “voor ‘n haan kraai” van sy verbintenis met Jesus, soos deur Jesus voorspel is (Mat 26:34, 69-75)

• Die onvermoë van twee dissipels, om die verrese Jesus te herken, terwyl hulle na Emmaus geloop het (Luk 24:13-16)

• Die bekering van die apostel Paulus, wat op pad was om gelowiges te vervolg, toe hy deur lig uit die hemel neergeslaan is en die woorde van die verrese Jesus gehoor het (Hand 9:1-9)

• Die onvermoë van enigiemand om reddende geloof te hê, tensy God daardie geloof skenk (Efes 2:8 – vgl Rom 12:3, Fil 1:29)

Die implikasies van hierdie waarheid loop diep en wyd. Dit herbevestig dat God waarlik God is; dat die mens nie so groot en magtig is as wat hy mag dink nie; dat ons nie meesters van ons eie lot is nie; dat geen menslike positiewe denke of wilskrag God se planne kan verander nie; dat geen mens ‘n ander persoon tot redding kan lei tensy God die outeur daarvan is nie; dat ons nie ander kan oordeel nie; dat niemand kan roem op enige deug of krag wat hy of sy mag hê nie; dat ons onsself as onvolmaakte wesens moet aanvaar; dat ons barmhartigheid moet betoon teenoor ander wat nie aan ons verwagtinge voldoen het nie.

Die Skrif moedig ons aan om God te sien as ‘n liefdevolle Vader, wat heers en in beheer is van alles. Wanneer dit vir ons lyk asof die omstandighede van die lewe buite beheer raak, verseker Hy ons in sy Woord dat Hy alles sal uitwerk tot die uiteindelike beswil van alle skepsels (Rom 8:21, 28).

Onthou Rom 11:36…

               … tot Hom is alle dinge.

En dink aan 1 Kor 15:28 waar aan ons belowe word dat by die voleinding van die tyd,

               …sodat God alles in almal sal wees.

En in plaas daarvan om bekommerd te wees of jou te kwel oor dinge

Bedaar en erken dat Ek God is … (Ps 46:11)

***

Boeke oor hierdie onderwerp wat ek aanbeveel:

The Divine Activation of Faith and the Myth of Free Will – Clyde Pilkington (Bible Student’s Press of Amazon)

The Myth of Free Will – Martin Zender (Amazon)

Divine Lockup – Clyde Pilkington (Bible Students Press of Amazon)

Being OK with not Being OK – Clyde Pilkington (Bible Students Press of Amazon)

***


[1] Bible Student’s Notebook 576

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.