Die Woord “hel” is nie in die Skrif nie

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

Die Woord “hel” is nie in die Skrif nie

Dit is eintlik voor die hand liggend. Die Skrif is in Hebreeus, Aramees en Grieks geskryf en daarom moet niemand verwag om die woord “hel” daar te vind nie.

Jy sal dit egter in die meeste Afrikaanse vertalings vind. (En “hell’ in meeste Engelse Bybelvertalings).Die rede hiervoor is dat sheol in die Hebreeuse geskrifte, en hades en Gehenna in die Griekse geskrifte meestal as “hel” vertaal word. Of die vertaling korrek is, moet ondersoek word. Die meeste Christene is geleer dat die hel geassosieer moet word met–

• die vrees vir God, omdat Hy die mag het om iemand aan die Satan oor te gee om “in die hel te werp” (Luk 12:4-5).

• waar die ongereddes by die dood “in die vuur van die hel gegooi” word (Mat 18:9).

•.” die poel wat met vuur en swael brand” (Openb 21:8)

•”…die onblusbare vuur ” (Markus 9:43)

• “die ewige vuur” (Mat 18:8)

• Vir “ewige straf.”  (Mat 25:46)

•  “daar sal  geween wees en gekners van die tande ” (Mat. 8:12)

• waar daar ‘n onoorbrugbare kloof is wat die hel van die hemel skei (Luk 16:26)

• Jesus het gesê sommige sal nie “die oordeel van die hel [kan] ontvlug” nie. (Mat. 23:33)

• waar gevalle engele gewerp is en “in kettings van duisternis” gehou word (2 Pet 2:4)

                        (aanhalings uit die 1953 en 1983 vertalings)

Is dit wat jy glo? Het jy hierdie Bybelverse noukeurig nagegaan? Kom ons gaan terug en ondersoek hulle:

• die vrees vir God, omdat Hy die mag het om iemand aan die Satan oor te gee om “in die hel te werp” (Luk 12:4-5).

Hierdie gedeelte sê nie dat Satan die een is wat in die hel werp nie. Dit is God die Vader. Die Griekse woord vir die hel is Gehenna. Dit verwys na die vallei van Hinnom buite die stad Jerusalem, wat as ‘n vullishoop gebruik is. Karkasse van dooie diere en lyke van misdadigers is ook daar gegooi en verbrand. Vir die Jood om ‘n ordentlike begrafnis geweier te word, was ‘n verskriklike skande – sien Pred 6:3, 2 Kon 9:35, Jes 14:19,20; Jer 8:2, 22:19. Jesus het met mense van Israel gepraat wat hulle hoop op die geprofeteerde koninkryk gevestig het – sien Luk 12:31-32. Gedurende die koninkryk-era sal die wet van Moses geïmplementeer en streng toegepas word. (Sien Mat 5:17-48).  God sal die dood van die goddeloses veroorsaak en hulle lyke sal verbrand word. Beskryf in die Ou Testament: “soos stof onder julle voete” (Mal 4:3), – “iets afgrysliks … vir al wat leef” (Jes 66:24). Ander gedeeltes vertel ons dat daar na die 1000 jaar koninkryk-era ‘n opstanding sal wees van almal wat dood was – wat diegene sal insluit wie se eerste dood so ‘n skande was – Joh 5: 28-29, Openb 20: 5).

Hierdie teksgedeelte was gerig aan volgelinge van Jesus. Hy het hulle nie gewaarsku oor die moontlikheid om in die helse vuur te beland nie – Hy het hulle aangemoedig om nie mense te vrees nie, maar eerder ontsag te hê vir die krag van God en om te weet dat God vir hulle sorg. “Julle is  meer werd as baie mossies” (vers 7).

• waar die ongereddes by die dood “in die vuur van die hel gegooi” word (Mat 18:9).

Hierdie gedeelte handel nie oor wat ná ‘n mens se dood gebeur nie. Die woorde “by die dood” kom nie in hierdie vers voor nie. Dit gaan oor wat sal gebeur wanneer die koninkryk van God op aarde is. Dit het gevolg op die vraag wat die dissipels gestel het: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?”: (vers 1)

Jesus se antwoord is dat dit die nederiges sal wees. Aan die ander kant sal die goddeloses en die misdadigers tereggestel word deur God of sy dienaars en hul liggame in die Vallei van Hinnom (Gehenna) gegooi word waar die stad se vullis verbrand word. (Kyk na die verduideliking hierbo vir Luk 12:4-5).

•.” die poel wat met vuur en swael brand” (Openb 21:8)

Hierdie poel van vuur is op die toneel na die duisend jaar, na die opstanding van almal wat dood was (Openb 20:5). Dit is nie van toepassing op die eerste dood nie, maar op die tweede dood (Openb 21:8). Dit is heel waarskynlik nie ‘n letterlike vuur nie, want in figuurlike taal sê dit dat die dood en die doderyk (hades) word in die vuurpoel gegooi, wat die tweede dood is. (Openb 20:14).

Hierdie vers het niks te doen met die lot van ongelowiges wanneer hulle sterf nie.

•”…die onblusbare vuur ” (Markus 9:43)

Soos die geval was by die vullishoop by die Vallei van Hinnom, sal die vuur in die koninkryk-era aan die brand gehou word om die vullis te verbrand.

• “die ewige vuur” (Mat 18:8)

Baie bekende geleerdes (bv. Dr Weymouth, dr Marvin Vincent, dr Frederick Farrar, dr Nigel Turner, William Barclay, Louis Abbot) sê dat die woord “ewig” ‘n swak vertaling is. Die Griekse woorde wat “ewige” vertaal word, is  aion (die selfstandige naamwoord) wat “eeu” of “era” beteken en aionios (die korresponderende byvoeglike naamwoord).

In sommige gedeeltes het die vertalers geen ander keuse gehad as om die woord “ewig/ewig/ewigheid” te vermy nie. Hier is ‘n paar voorbeelde:

… die Seun…deur wie Hy die wêreld geskep het [aionas – meervoud van aion](Heb 1:2).

Dit moes met “eeue” of “tydperke”vertaal gewees het (sien die Interliniêre Bybel – Grieks-Afrikaans), maar hulle kon nie “ewighede” gebruik nie, want hoe kan ‘n mens meer as een ewigheid hê? Dit sou eenvoudig nie sin gemaak het nie.

…die oes is die voleinding van die wêreld [aionos] Mat 13:39).  Om dit na “die voleinding  van die ewigheid” te vertaal, sou absurd gewees het.

… opgeskryf as ‘n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef  [aionon].. (1 Kor 10:11).  Om dit te vertaal “tot aan die einde van ewighede” sou absurd gewees het.

om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld [aion]…. Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! [aion aion](Gal 1:4-5). Let op hoe aion in dieselfde gedeelte wat meer as een keer verskyn, anders vertaal word.  Ook hoe absurd sou dit gewees het om dit te vertaal: “om ons te verlos uit hierdie goddelose ewigheid.”

   ..wat Hy beloof het die betroubare God voor tye ewige [pro chronon aionion] (Titus 1:2 -Interliniêre Bybel : Grieks-Afrikaans).). Om hierdie “voor die ewige tye/ewigheid” te vertaal, sou nie sin gemaak het nie. Die vertalers het dit goedgedink om die letterlike bewoording te systap deur in die geval van die 1953 vertaling, die onderstreepte gedeelte weer te gee as “van ewigheid af” en in die 1983 vertaling “lank gelede”.

Volgens Vine’s Expository Dictionary word die woord aion in die King James Bybel vertaal met age, course, eternal, ever, evermore, world. ‘n Mens kan met reg  die vraag vra: hoe kan een woord op soveel verskillende maniere vertaal word, met sulke uiteenlopende betekenisse?

Daar is baie ander voorbeelde van sulke teenstrydighede in die vertaling van aion en aionos.

Terloops, selfs die uitdrukking “ewige lewe” moes vertaal gewees het as “eeue /era – durende-lewe.” Dit is nie dat die waarheid van ewige lewe verkeerd is nie, maar dat die Griekse woorde vir “onsterflik” en “onverganklik” en “geen dood meer nie” daardie konsep staaf, en nie die Griekse woorde wat eeu of era beteken nie.

• waar daar ‘n onoorbrugbare kloof is wat die hel van die hemel skei (Luk 16:26)

Die woorde kom voor in die gelykenis van Lasarus en die ryk man. Dit was ‘n verhaal wat Jesus vir die Fariseërs vertel het, wat liefhebbers van geld was en die armes verag het, en geglo het dat hulle by hul afsterwe aan Abraham se boesem sal wees. Toe die ryk man die bedelaar, Lasarus, by Abraham se boesem sien, het hy uitgeroep vir water. Toe sê Abraham dat niemand kan oorgaan van waar hulle was, na die ander kant waar die ryk man was nie. Met die vertel van hierdie verhaal, wat deels gebaseer was op wat die Fariseërs geglo het, het Jesus nie probeer voorstel wat na die dood gebeur nie. Hy het beslis nie na ‘n poel van vuur verwys nie, om ten minste drie redes: (1) iemand in ‘n poel van vuur sal nie met ‘n ander individu (in hierdie geval Abraham) in gesprek tree nie; (2) hy sal nie van dors kla en ‘n bietjie water vra nie, hy sal gil van ontsettende pyn; (3) Abraham sal nie die ryk man se versoek om Lasarus met water te stuur, van die hand wys weens ‘n onoorbrugbare gaping nie, maar omdat hy nie wil hê dat Lasarus op die ou end in die poel van vuur geskroei word nie.

Die Fariseërs in die tyd van Jesus het die hoogste status geniet (Mat 23). Hierdie gelykenis was om hulle te waarsku dat hulle status as sodanig nie verder sou strek as hulle tydelike lewe in hierdie wêreld nie.

• Jesus het gesê sommige sal nie “die oordeel van die hel [kan] ontvlug” nie. (Mat. 23:33)

Die woord “hel” is uit Gehenna vertaal. Sommige, veral die Fariseërs en diegene wat daardie eiegeregtige veroordelende gesindheid het, sal nie kan ontsnap as hulle lyke in daardie vullishoop gegooi word nie

Jesus het moontlik ook die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. in gedagte gehad, as ‘n tipe van die vervulling van die profesie vir die einde van die eeu of era.

Daar is niks wat aandui dat hierdie vers van toepassing is op ongelowiges wat gesterf het nie.

• waar gevalle engele gewerp is en “in kettings van duisternis” gehou word (2 Pet 2:4)

Hier is ‘n ander woord as Gehenna ter sprake, naamlik tartarus, wat die 1953 en 1983 vertalings as “hel” vertaal .Dit (tartarus) verwys na die ingeperkte toestand van sommige gevalle engele. Nêrens word na mense verwys in verband met tartarus nie.

“Hel” in die Bybel

Die Ou Testamentiese woord sheol, wat in die meeste vertalings met “hel” vertaal word, beteken letterlik “die onsienlike”. Dit verwys na die graf (simbolies as die woonplek van die dooies). Dit is nie “hel” soos dit vandag verstaan word nie. Dit is die woonplek van al die dooies, of hulle regverdig of goddeloos was.

Dawid het geskryf: want U sal my siel aan die doderyk [sheol –“hell” in  King James vertaling] nie oorgee nie… (Ps 16:10 – 1953 vert.), wat Petrus later as ‘n profesie oor Jesus verklaar het (Hand 2:27).

Jesus het die Jode gewaarsku dat sommige nie toegelaat sal word om die koninkryk binne te gaan nie en dat die goddeloses in die koninkryk tereggestel sal word en dat hulle liggame in die stortingsterrein van Gehenna gewerp sal word om deur vuur verteer te word. Hy het nooit die hel voorgestel  soos dit vandag algemeen verstaan word nie.  

Dit is opmerklik dat die woord “hel” nie in die apostel Johannes se geskrifte voorkom nie (behalwe die boek Openbaring) en ook nie in enige van Paulus se geskrifte nie. ‘n Mens sou dink dat as die helse vuur die lot van heidene en ongelowiges was, die apostel Paulus (die apostel vir die ander nasies as Israel) iewers mense daaroor sou gewaarsku het. Maar daar is nie een so ‘n waarskuwing nie.

Jy sal vind dat verskeie van die meer letterlike Bybelvertalings nie die woord “hel” bevat nie. Dié waarvan ek weet, is Youngs Literal Translation, die Concordant Version, Rotherhams Emphasized Bible, Emphatic Diaglott (Wilson), The New Testament in Modern Speech (Weymouth). Ook die Afrikaanse 2020 vertalers het wyslik besluit om glad nie die woord “hel” te gebruik nie.

Die Vroeë Kerk

Die vroeë Kerk het nie in die hel geglo soos dit vandag verstaan word nie. Daarom sal jy dit nie in die vroegste belydenis-skrifte  vind nie.

Die eerste persoon wat oor die “ewige hel” geskryf het, was Tertullianus (160-220 nC) wat as die Vader van die Latynse Kerk beskou word. Maar selfs toe was dit ‘n minderheidsiening in die Christendom.

Dit was eers meer as 100 jaar later, deur Augustinus (354-430 nC) dat die leerstelling van ewige helse vuur algemeen aanvaar is. Dit was in ‘n tyd toe die Kerk die amptelike kerk was wat deur Rome erken is. Die idee van eindelose lyding van die goddeloses is ‘n heidense konsep, wat tesame met baie ander onskriftuurlike oortuigings van daardie tyd, deur die kerk aanvaar is.

Die waarheid

Die waarheid is dat God nie ‘n haatlike wrede God is nie. Hy sal nie toelaat dat Krishna Naidoo, wat as ‘n Hindoe in Kalkutta grootgeword het en op sewejarige ouderdom gesterf het, sonder om van Jesus te hoor, vir ewig in helse vuur brand nie. Nee, Hy is die God van liefde wat ons leer om ons vyande lief te hê en wat die reën op die regverdiges en die goddeloses laat val. Hy is Liefde. En ja, daar kom oordeel, maar Hy sal barmhartigheid, genade en geregtigheid laat seëvier..

Aanbevole boeke:

Hope Beyond Hell  –  Gary Beauchemin

Bible Threatenings Explained  –  J W Hanson

“Hell” in the Bible  –  J W Hanson

At the End of the AgeThe Abolition of Hell   –  Bob Everly

Raising Hell   –  Julie Ferwerda

(Alles beskikbaar by Amazon)

***

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.