DIE TOORN VAN GOD

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

DIE TOORN VAN GOD

Dis waar dat die Skrif praat van die toorn van God. Die Griekse woord is orge. Dit beteken toorn of verontwaardiging. Dit beteken nie blinde woede nie, want daarvoor is daar ‘n ander Griekse woord, thumos.

Inderwaarheid is die verwysings in die Skrif na God se toorn, ook ‘n vorm van die beeldspraak bekend as neerbuiging (Engels: condescension). God word in menslike terme beskryf as een wat soms kwaad is, sodat ons ‘n ontsag vir Hom kan hê.

Die absolute waarheid is dat God liefde is en dat Sy liefde vir Sy skepping, insluitende elke mens, volmaak en konstant is, ongeag wat gebeur. Goddelike liefde “bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles..” en “faal nooit nie” (1 Kor. 13:7-8).

God, selfs al sou Hy soms as toornig beskryf word, is steeds ‘n gelukkige God. Dit skemer deur in die Skrif, selfs waar dit lyk asof Hy in ‘n vernietigende bui is. ‘n Goeie voorbeeld is God se optrede teenoor die inwoners van Nineve in die Boek van Jona. In Jona 1:1-2 beveel God vir Jona om die inwoners van Nineve aan te spreek, “want die kwaad wat hulle doen, het opgestyg tot voor My.” Uiteindelik het die onwillige Jona gedoen wat hy moes en in die stad uitgeroep: “Nog net veertig dae, dan word Nineve verwoes.” En wonderbaarlik het die mense geskrik, berou gehad oor hul wandade en gevas.  Weereens in neerbuigende beeldspraak lees ons: “God het gesien wat hulle doen… God was jammer dat Hy gesê het Hy gaan ‘n ramp oor hulle bring, en Hy het dit toe nie uitgevoer nie” (3:10). Jona was kwaad, want hy het die inwoners van Nineve as die vyand van sy mense beskou. Tog het hy insig gehad in God se karakter…”’n genadige en barmhartige God.. geduldig en oorvloedig in troue liefde..”  (4:2). Teen die einde van die Boek antwoord God vir Jona: “…mag [Ek] nie besorg wees oor Nineve nie, die groot stad waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die verskil tussen regs en links nie ken nie, en ook nog baie diere?”.

Sy toorn is net vir ‘n oomblik (Ps30:6, Jes 54:8).  Selfs as Hy verplig voel om mense te bedroef, is dit met ontferming en liefde (Klaagliedere 3:31-33). Hy tug die wat Hy liefhet (Hebr 12:6). God is lief vir Sy vyande – Hy behandel ondankbares en slegtes goed (Luk 6:35). Hy weet hoe swak mense is (Ps 103: 14; 78:38-39). Hy sien oortredinge oor (Hand 17:30). Ja, daar kom oordeel vir elkeen, maar dit is nie noodwendig veroordeling nie. Die goeie nuus van regverdigmaking en versoening met God deur Christus troef alles wat in hierdie wêreld sleg en verkeerd is,

God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon (Rom 11:32).

….soos daar deur die oortreding van een mens veroordeling oor alle mense gekom het, so het daar ook deur die een mens [Jesus Christus] se gehoorsame optrede vir alle mense regverdiging tot die lewe gekom… namate die sonde toegeneem het het die genade nog soveel oorvloediger geword (Rom. 5:18, 20b).

..want God het dit goedgevind …om deur Hom [Christus] alles, ja, alles op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis. (Kol. 1:20)

Volgens die evangelie van die heerlikheid van die lofwaardige [gelukkige] God… (1 Tim 1:11).

…omdat ons ons hoop geplaas het op die lewende God, wat die Verlosser van alle mense is, veral van die gelowiges (1 Tim 4:10).

God se toorn is anders as die woede en bitterheid van mense. Syne is ‘n verontwaardiging oor sonde wat spruit uit Sy karakter van liefde. Sonde bring pyn en lyding. Tog het God in Sy raadsplan dit so beskik dat die mens in hierdie wêreld sondig sou wees en die gevolge daarvan ervaar, sodat in die komende bedeling van totale versoening met Hom, die kontras van heerlikheid in vergelyking met die hede, altyd deur elke mens waardeer sal word, tot eer van God.

Alle eer aan ons Vader wat so wys, so liefdevol en so genadig is!

***

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.