DIE TEODISEE VRAAG: GOD OF NIE ALMAGTIG OF NIE GOEDHARTIG NIE?

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

DIE TEODISEE VRAAG: GOD OF NIE ALMAGTIG OF NIE GOEDHARTIG NIE?

Die klassieke teodisee raaisel lui so: Aangesien daar kwaad is, kan God nie Almagtig en terselfdertyd goedhartig wees nie, want as Hy so was sou Hy nie kwaad toegelaat het nie. Dus, as Hy bestaan, is Hy óf Almagtig, maar nie goedhartig nie, want Hy doen dan niks om die kwaad te keer nie; óf Hy is goedhartig maar nie Almagtig nie, want al wil Hy die kwaad keer, is Hy nie in staat om dit te doen nie.

Hierdie raaisel blyk ‘n struikelblok te wees wat talle mense laat twyfel of die God van die Bybel wel bestaan, of as Hy bestaan, Hy ‘n liefdevolle God kan wees, soos uitgebeeld in die Bybel.

Die antwoord op die raaisel is eenvoudig. Die rede hoekom meeste Christene nie die antwoord ken nie, is omdat hulle nie die Bybel ken nie. Die meerderheid van hulle het net blindelings aanvaar wat hulle geleer is. Hulle is geleer dat God nooit die outeur van kwaad of onheil sal of kan wees nie en dat diegene wat in hierdie lewe nie in Jesus Christus geglo het nie vir ewig gefolter gaan word in die vuurpoel van die hel.

Dit is nie wat die Skrif leer nie.

God is die Outeur en Skepper van kwaad.

…die Een wat die lig vorm en die duisternis skep, wat voorspoed bewerk en onheil skep (Jes 45:7)

               Maar ook Hy is wys, en Hy bring onheil (Jes 31:2)

               As daar teenspoed in ‘n stad is, het die HERE dit nie gedoen nie? (Amos3:6b)         

Almal sal mettertyd uit die dood opstaan.

               …daar kom ‘n tyd wanneer almal in die grafte sy stem sal hoor (Joh 5:28)

Die oorblywende dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar verstryk het nie (Openb 20:5)

Die dood gaan oorwin word.

               Die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood (1 Kor 15:26)

En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee word, sal die woord wat geskryf staan, vervul word: “Die dood is verslind in oorwinning.” “Dood , waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Kor 15:54-55)

Almal gaan met God versoen word.

…dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie; en Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou (2 Kor 5:19)

…sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig – van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde- en elke tong sal bely, “Jesus Christus is die Here!” tot eer van God die Vader (Fil 2:10-11)

Want Christus moet as koning regeer totdat Hy al die vyande onder sy voete gestel het (1 Kor 15:25)

Wanneer alles aan Hom onderwerp is, sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees. (1 Kor 15:28).

God gaan alles in almal wees. Die woord “almal” sê: niemand gaan uitgesluit wees nie. Die woord “alles” sê: God gaan nie net 5% of 10% van ‘n persoon se lewe wees nie, maar alles – 100%.

Die kwaad en die onheil is net tydelik. Al duur dit miljoene jare, dit sal verbygaan. Alle lewende wesens moet eers kwaad en onheil ervaar, want hoe kan enigeen die goeie waardeer as daar nie ervaring van die slegte dinge was nie? Dit is nodig sodat in die volmaakte wêreld wat kom, God en Sy Seun, die opregte spontane lofprysing en waardering sal ontvang wat hulle toekom. Die teenswoordige onheil, so erg as wat dit mag wees,  sal gering wees as dit opgeweeg word teen die mooi dinge wat voorlê.

Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie (Rom 8:18).

Die kontras tussen wat nou aan die orde van die dag is en dit wat gaan wees, sal so ooglopend wees dat min verduideliking of prediking nodig gaan wees om mense en hemelinge te oortuig van God se Almag en Sy goedhartigheid.

O, die diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, en hoe onnaspeurbaar sy weë!…Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe! Amen (Rom 11:33, 36).

***

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.