DIE OORSPRONG VAN SONDE – WIE IS TE BLAMEER?

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

DIE OORSPRONG VAN SONDE – WIE IS TE BLAMEER?

DIE OORSPRONG VAN SONDE  – WIE MOET BLAMEER WORD?    

Ons weet die wêreld is vol sonde en ek en jy sondig, maar wie moet daarvoor blameer word?

Baie jare gelede het ek “The Gospel According to PEAUNUTS” van Robert Short gelees.[i] Tot dan het ek nie besef dat die strokiesprent met die karakters Charlie Brown, Lucy en Linus, geskryf deur Charles Schulz, ‘n dieper geestelike boodskap gehad het nie.

Robert Short verwys na hierdie strokiesprent:

Hy maak toe ‘n opmerking wat, toe ek dit lees, vir my ‘n ophelderende oomblik was en wat in my gedagtes bly vassteek het:

“…we are not sinners because we ‘occasionally sin,’ but we ‘sin occasionally’ because we are always sinners. ‘Sins’ is only one of the ways in which sin can manifest itself.  ‘The whole trouble,‘ then, lies in who we are…”

Dit is natuurlik nie wys om iemand oor so ‘n onderwerp aan te haal sonder om te kyk of dit Skriftuurlik is nie.

Voordat met hierdie ondersoek begin word, moet ons verstaan wat die skriftuurlike definisie van sonde is. In die Hebreeuse Geskrifte is die woord chata (Strong, H2398). Die betekenis daarvan word goed geïllustreer in Rigters 20:16 waar daar verwys word na 700 linkshandige manne waarvan elkeen “kon met ‘n slingervel ‘n klip op ‘n haar gooi, sonder om te mis.” Die Hebreeuse woord vir “mis” is chata, dieselfde woord vir “sonde”.

Om die merk te mis – om nie aan die vereiste standaard te voldoen nie – moet gelykgestel word aan sonde.

Maar wat is die vereiste standaard?

Dit is die standaard van God se karakter van liefde, heiligheid en volmaaktheid.

want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom 3:23 – 1953 vertaling)

Ons almal skiet tekort aan die “heerlikheid van God”. Só mis ons die merk – ons sondig. Trouens, ons sondig voortdurend. Dit hoef nie ‘n gruwelike sonde te wees nie. Dit kan ‘n oomblik van sorgeloosheid wees. Byvoorbeeld, om jou te misreken met die tyd wat dit sal neem om jou bestemming te bereik en gevolglik laat vir jou afspraak te wees. Selfs mense wat goed lyk – wetsgehoorsame, standvastige, ordentlike mense – sondig feitlik die hele tyd.

Paulus, wat in ons oë ‘n “geestelike reus” mag wees, bely,

               Wat ek wil, doen ek nie; maar juis wat ek haat, dit doen ek (Rom.7:15).

Ons skiet tekort aan die heerlikheid van God vanaf verwekking.

               Kyk, in sondeskuld is ek gebore, sondig toe my moeder met my swanger geraak het (Ps 51:7).

Geen mens kan blameer word dat hy in sonde verwek is nie. Ons is tekort “aan die heerlikheid van God” gemaak en daar is niks wat ons daaraan kan doen nie. Almal is gemaak met gebreke en tekortkominge en geen selfhelp-boek of kursus sal help nie, want God het dit vir elkeen bestem vir hierdie kort leeftyd in hierdie wêreld.[ii]

Soos die apostel Paulus gesê het:

               deur die genade van God is ek wat ek is (1 Kor 15:10)

Hoe het dit gebeur? Waar het dit verkeerd gegaan? – mag jy vra.

Om die skuld op Adam te plaas 

O ja, ons kan dit terug spoor na Adam. ‘n Mens kan maklik sê, “as dit nie vir hom was nie, sou die wêreld ‘n baie beter plek gewees het.” Maar dit is aanmatigend – soos ons hieronder sal sien.

… net soos deur een mens [Adam] die sonde in die wêreld gekom het.. (Rom 5:12).

Adam se eet van die verbode vrug het enorme gevolge gehad. Eerstens, soos God hom gewaarsku het, het die dood vir hom ‘n werklikheid geword.

               …want die dag wanneer jy daarvan eet, sal jy beslis sterf  (Gen 2:17)

Letterlik soos die Hebreeus lees:

               on the day you eat from it, to die you shall be dying  (Gen 2:17  Concordant Version)[iii]

Lewe is die werking van die gees van God. Wanneer God Sy gees onttrek, sal alle vlees vergaan (Job 34:14-15). Adam was sedert die dag van sy oortreding ontkoppel van die gees van God en die proses van verlies aan lewenskragtigheid en liggaamlike degenerasie het ingeskop. Sedertdien het hy aanhoudend gesondig – hy was ‘n sondaar.

Hierdie verlies van lewenskragtigheid het drie dinge meegebring: (1) Adam se sondige toestand; (2) die klimaks daarvan met sy afsterwe op ouderdom van 930 jaar; en die sonde-beginsel wat in werking is in sy nageslag – die hele mensdom.

So werk die dood dan in ons… (2 Kor 4:12).          

soos dit bestem is vir mense om … een maal te sterf … (Heb 9:27)

Alle mense is in ‘n sekere sin vanaf geboorte in ‘n toestand van sterwe. Die liggaam verouder en niemand kan dit keer nie. Wat ons van Adam geërf het, was nie ‘n sondige natuur nie, maar eerder ‘n degeneratiewe lewe. En dit is hierdie degeneratiewe lewe, hierdie swakheid van die vlees, wat ons doods-toestand veroorsaak het wat daartoe gelei het dat ons sondaars is.

Dit beteken nie dat die vlees of menslike liggaam op sigself sondig is nie. Ons behoort ons liggame te voed en te koester (Efes 5:28-29). Die sondige geneigdheid van die mensdom is as gevolg van wat met die vlees gebeur het – die onttrekking van die lewenskrag van God wat in Adam se liggaam was voor hy gesondig het.

Daarom praat die apostel Paulus oor,

               … sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word (Rom 6:6)

               Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers …. nie (Rom 6:12)

               … die swakheid van julle vlees (Rom 6:19).

Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie … (Rom. 7:18)

               Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?  (Rom. 7:24)

               … die werke van die liggaam doodmaak   (Rom 8:13)

               …in afwagting van … die verlossing van ons liggaam (Rom 8:23).

(Bogenoemde aanhalings uit Romeine soos in die 1953 vertaling).

Ek is geleer dat ons ‘n sondige natuur van Adam geërf het en dat ons sterf as gevolg van sonde. Dit is nie korrek nie. Ons sondig omdat ons sterf. 

Een vers wat ek glo hierdie verkeerde oortuiging veroorsaak het, is Romeine 5:12 omdat dit verkeerd vertaal is.

Wherefore,G1223 G5124 asG5618 byG1223 oneG1520 manG444 sinG266 enteredG1525 intoG1519 theG3588 world,G2889 andG2532 deathG2288 byG1223 sin;G266 andG2532 soG3779 deathG2288 passedG1330 uponG1519 allG3956 men,G444 forG1909 thatG3739 allG3956 have sinned:G264  (King James Vertaling met Strong se leksikon nommers)

Die bespreking hier gaan oor die laaste gedeelte: “for that all have sinned.

Die 1953, 1983 en 2020 Afrikaanse vertalings lees: ,  “omdat almal gesondig het”…  Sien egter die Concordant Version:

…Therefore, even as through one man sin entered into the world, and through sin death, and thus death passed through into all mankind, on which all sinned… 

Dus, soos deur een mens sonde in die wêreld gekom het, en deur sonde die dood, en die dood dus tot alle mense deurgedring het, op grond waarvan almal gesondig het…(Afrikaanse weergawe van Concordant Version).

Die Griekse woorde wat “omdat ”vertaal is, is eph/epi ho. Epi volgens Strong is “ a primary preposition properly meaning superimposition (of time, place, order, etc), i.e. with the genitive case ..at..upon..over…..; with the dative case, at , on, etc, with the accusative case towards, upon, etc.”  Die interliniêre Bybel by www.Biblehub.com gee die volgende woorde: on, to, against, on the basis of, at.

Die Griekse woord vir “omdat” is dia (Strong G1223). Daardie einste woord verskyn driekeer in Romeine 5:12 waar in die 2020 vertaling dit vertaal is as  “daarom”,“deur” en “as gevolg van”.

Die Concordant Version is korrek waar dit lees: “death ….on which all sinned”, want die Griekse woord daar is nie dia nie, maar epi/eph.

Soos verduidelik in die kommentaar van die Concordant Version:

Death entered through sin at first but now sin is transmitted through death. All sin because they are mortal.

God wat Soewerein is en vooraf alles weet wat plaasvind, het geweet dat Adam nie ‘n kans sou staan om die versoeking wat die Teëstander met Eva as rolspeler voorgehou het, te oorkom nie.

Ons kan mense nie blameer dat hulle in ‘n toestand van naderende dood gebore is nie. Ons kan Adam ook nie kwalik neem dat hy van die verbode vrug geneem het nie, want God het hom doelbewus nie sterk genoeg gemaak om die versoeking te weerstaan nie. Adam kon nie help dat hy dit nie kon doen nie.

Al was die doodsbeginsel aanvanklik nie in Adam werksaam nie, het hy gesondig. Dit was in ooreenstemming met God se voorneme. Hou in gedagte dat God voldoende voorsiening gemaak het om effektief en regverdig die gevolge daarvan te hanteer, soos hieronder gesien sal word.

Om die skuld op Satan te plaas  

Agter die oortreding van Adam lê die slinkse werk van Satan. Adam was nie die eerste sondaar nie. Die Teëstander (Satan) was.

In teenstelling met wat algemeen in teologiese fakulteite en kerk-denominasies geleer word, is Satan deur God geskep en was hy van die begin af ‘n kwaaddoener.

 Ek self het die verwoester geskep om verwoesting aan te rig …  (Jes 54:16 ))

Deur Sy Gees het Hy die Hemele versier; Sy hand het die voortvlugtende slang gevorm (Job 26:13 – Afrikaanse weergawe van Concordant Version)

… omdat die duiwel van die begin af sondig (1 Joh 3:8).

Alle sonde kan teruggevoer word na Satan.

In ‘n sekere sin kan Satan die skuld kry, maar per slot van sake doen hy bloot wat God van hom verwag het om te doen, selfs al is hy onbewus daarvan. Satan is ‘n instrument wat God vir Sy eie doeleindes gebruik.

Soos so mooi verduidelik deur Clyde Pilkington Jr:

God uses Satan’s evil to provide the temporary contrast to His goodness and righteousness. Satan is His instrument to lock up those who are in blindness to the truth, until the grand day when He will bring about enlightenment to all of His creation, which will include Satan himself.   (BSN 750)[iv]

Om die skuld op God te plaas

God is die Oorsprong van die bose, soos geïllustreer word in die volgende gedeeltes:

Ek …wat die lig vorm en die duisternis skep, wat voorspoed bewerk en onheil skep  (Jes 45:7).

               Ek self het die verwoester geskep om verwoesting aan te rig (Jes 54:16).

               Kom sowel die goeie as die slegte nie uit die mond van die Allerhoogste nie?  (Klaagl 3:38)

“Die goeie wat uit God kom, dié aanvaar ons, maar die slegte – moet ons dit nie ook aanvaar nie?” Ondanks dit alles het Job nie met ‘n enkele woord gesondig nie (Job 2:10).

Die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees wat van die HERE af kom, het hom beangs gemaak (1 Sam 16:14).

Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe! Amen (Rom. 11:36).

Let daarop dat ons nie sê dat God die Oorsprong van sonde is nie. Hy is die Oorsprong van die Bose. Sonde en boosheid is nie dieselfde ding nie. Maar Hy het wel ‘n wese geskep wat van die begin af sou sondig.

As dit wat die hoofstroom Christendom glo, waar is, dan het God Satan volmaak geskep, maar hy het opstandig geword teen God, tot God se verbasing en ontsteltenis.  As dit die geval was, was God se “projek” om Satan te skep ‘n mislukking – God het misluk. Hy het die merk gemis. Dan sou God gesondig het.

God faal nooit nie. God sondig nooit nie. Wat God begeer, sal Hy kry.

Het God kwaad begeer?  Sal ons God in die beskuldigdebank plaas?

Ons moet verstaan dat ons gedagtes nie God se gedagtes is nie. Vir God is duisend jaar soos een dag. God se perspektief is onpeilbaar.

Sonde speel ‘n deurslaggewende rol in God se plan. Dit sou tydelik wees. Voordat God sonde op die toneel laat kom het, het Hy die doeltreffendste manier om dit te hanteer – die offer van die Lam – in plek gestel. In God se plan het Hy die geslag van die Lam verordineer voor die ontwrigting van die wêreld (Openb 13:8, 1 Pet 1:19,20)

God se liefde kan slegs geïllustreer word teen die agtergrond van die teenoorgestelde. Soos die sterre wat net van die aarde af sigbaar is wanneer dit donker is. Sonde en haat moes op die toneel wees om die prentjie van God se volmaakte liefde te skets. As daar geen sonde was nie, sou daar geen Verlosser kon wees nie. As daar geen vyandigheid of afsydigheid teenoor God was nie, sou daar geen versoening kon wees nie.

 A E Knoch skryf in The Source of Sin (BSN 633*),

Since sin must enter this scene and play its part, since it is essential to God’s purpose, and absolutely under His control, since it will eventually change the universe from cold, independent creatures into loving family circle, and God from a distant Creator into an affectionate Father, it was by no means a mistake (or sin) on God’s part when He created a creature who should not only commit sin but scatter it in all creation.

Die Goeie Nuus

Net soos wat babas nie die skuld kan kry dat hulle in ‘n sondige toestand verwek en gebore is nie, kan ‘n volwassene ook nie die skuld kry dat hy in daardie toestand is nie. Ek en jy is so gemaak! Sommige word meer deur God verhard as ander! Dit kan ‘n mens aanspoor om God te bevraagteken: waarom word dit doen aan ons gedoen en ons dan aanspreeklik gehou?

               Daarom is Hy genadig oor wie Hy wil, en wie Hy wil, verhard Hy.

               Jy sal dan vir my sê, “Waarom vind Hy nog fout? Want wie het Sy wil weerstaan?”

Maar inderdaad, o mens, wie is jy om teen God te antwoord? Sal die gevormde ding vir hom wat dit gevorm het, sê: “Waarom het U my so gemaak?”

               Het die pottebakker nie mag oor die klei nie…?”   (Rom. 9:18-21).

Maar die waarheid eindig nie daar nie. God is aan die werk in elke mens. Hy het begin deur Sy skepping, insluitende die mensdom, aan sinloosheid en verganklikheid onderworpe te maak.

Want die skepping is onderworpe aan ‘n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie…[met] verslawing aan die verganklikheid  (Rom 8:20).

Kom ons kyk weer na die aanhaling uit die Concordant Version Commentary – hierdie keer met die byvoeging van een sin:

Death entered through sin at first but now sin is transmitted through death. All sin because they are mortal. Christ brings life, which disposes of both death and sin.

Waar die siels-mens, Adam, kortgekom het, en daarmee oor die mensdom ‘n toestand van dood en swakheid gebring het wat lei tot sondigheid, het Christus, die tweede Adam, die Hemelse Mens (1 Kor 15:48) en die lewendmakende Gees (1 Kor 15:45), deur Sy gehoorsaamheid en opoffering, oorwinning oor sonde gebring, asook nuwe lewe en uiteindelik onverganklikheid en volmaakte karakter. By die voleinding, ‘n wêreld sonder dood en sonder sonde.

Die waarheid kan soos volg uitgebeeld word:

Soos die Meester Pottebakker wat met klei werk, sal Hy die werk voltooi wat Hy in ons begin het.

Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Fil 2:13 – 1983 vert.).

… Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, sal dit voltooi tot op die dag van Christus Jesus (Fil1:6).

               Want ons is Sy maaksel … (Ef 2:10)

… Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie… en dan sal elkeen lof van God ontvang.   (1 Kor 4:5 – 1983 vert.)

Ons kan hierdie hoop op God hê:

… dat daar ‘n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as die onregverdiges (Hand. 24:15).

               …ons verwag …. nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, waar geregtigheid woon (2 Pet 3:13)

….dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie… (2 Kor 5:19)

               …deurdat Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis (Kol 1:20)

En uiteindelik, die laaste vyand wat vernietig gaan word is nie sonde nie, of sondige natuur of Satan nie:

               Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood (1 Kor 15:26 – 1983 vert.)

Soos die spreekwoord sê, “alles is goed wat goed eindig.” By die voleinding van God se plan sal daar geen sonde, geen sondaars, geen dood wees nie. Almal en almal het met God versoen geraak. Almal en almal in verwondering oor God en vol lof vir Hom.

Ons wat Sy plan verstaan, kan nou daardie berwondering vir Hom hê en Hom loof.


[i] The Gospel According to Peanuts, Robert Scott – Fontana Books 1966

[ii] Een van die bemoedigendste boeke wat ek ooit gelees het, is Being OK with Not Being OK deur Clyde Pilkington, Jr, verkrygbaar by  www.StudyShelf.com.

[iii] Vir toegang tot Concordant Version, asook die Kommentaar, sien www.concordant.org

[iv] BSN ‘ Bible Student’s Notebook verkrygbaar by www.biblestudentsnorebook.com

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.