HOE KAN JY REG WEES, EN DIE HELE KERK VERKEERD?

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

HOE KAN JY REG WEES, EN DIE HELE KERK VERKEERD?

Deur Bob Evely

Toe ek die eerste keer openlik begin praat het oor waarom ek glo dat God besig is om uiteindelik die hele mensdom te red, onthou ek die reaksie wat ek meer as een keer gehoor het: “Hoe kan jy dink dat jy reg is, en dat die hele kerk wat leer oor die hel, verkeerd is?”

Ek het pas ‘n biografie gelees van Martin Luther getiteld, “Here I Stand” deur Roland Bainton (Abingdon Press). Ek het dit baie interessant gevind dat toe Eck Luther ondervra het oor Luther se kritiek op die Kerk, hy gevra het:

Martin, how can you assume that you are the only one to understand the sense of Scripture? Would you put your judgment above that of so many famous men and claim that you know more than they all? (bl 185)

As die “meerderheidsposisie” gehandhaaf is, sou ons almal steeds deel van die Rooms-Katolieke Kerk wees, en baie van die daaropvolgende hervormings selfs binne die Katolieke Kerk sou nie gebeur het nie. Die meerderheid in die Christelike gemeenskap vandag sal saamstem dat Martin Luther korrek was in sy standpunt teen die leer en praktyke binne die Kerk van sy tyd. Maar Luther was destyds deel van die minderheid! …

Wie kan fout vind met die sienings van Martin Luther toe hy gesê het:

Unless I am convicted by Scripture and plain reason – I do not accept the authority of popes and councils, for they have contradicted each other – my conscience is captive to the Word of God. (bl 185)

Maar soos die Katolieke Kerk van Luther se tyd, aanvaar die meerderheid binne die Kerk vandag die gesag van rade, denominasies, geloofsartikels, pastore en leraars … Ons moet verstaan dat “ortodoksie” nie waarheid is in vergelyking met valsheid nie … dit is bloot die meerderheidsopinie, en dit kan verkeerd wees. Ons kan nie aan ‘n stel oortuigings of interpretasies vasklou bloot omdat die meerderheid wat ons voorafgegaan het, deur hierdie kwessies gewerk het en ontwikkel het wat hulle as ortodoksie aan ons oorgedra het nie … die “meerderheidsopinie.”

Wat as hulle verkeerd was?

Lees die geskiedenis van die kerk en sy rade … Veral dié in die 5de eeu toe baie van ons huidige oortuigings vir ons besluit is, en toe “Ortodoksie” gebore is. Vervolging, manipulasie en onsuiwer motiewe was volop. Die “Kerk” was geensins volmaak nie … Tog val ons vandag terug op die teologiese denke wat hulle vir ons as “ortodoksie” verpak het, en ons klou daaraan vas asof dit onbetwisbare waarheid is …

Ons moet vrykom van die boeie van diegene wat ons voorafgegaan het, om die waarheid slegs uit die Woord van God te soek, wat God se Woord vir ons sê opnuut te bestudeer en deur te dink en te bespreek.

“Ortodoksie” word algemeen beskou as ‘n beskerming teen kettery; maar wat as die “meerderheidsopinie” verkeerd is, en wat as ortodoksie ons nou verhinder om dwaling in die leerstellings van die Kerk uit te roei?

Dink hieraan: Wanneer in die Skrif was die meerderheidsopinie korrek? Was die Joodse leiers (die meerderheid) korrek, toe God se profete (die minderheid … soos Jeremia) dinge verkondig het wat in hulle tyd “onortodoks” was? Was die Fariseërs (die meerderheid) korrek toe Jesus en later Sy apostels dinge verkondig het wat “onortodoks” was in hulle tyd? Was die meerderheid gelowiges korrek toe hulle aan wettisisme vasgeklou het, terwyl Paulus gepraat het van dinge wat “onortodoks” was? (Sien Handelinge 21:20-21, toe die meerderheid gelowiges in Jerusalem Paulus teëgestaan het toe hy na Jerusalem teruggekeer het.)

Vandag as iemand die standpunte van die denominasie, of die geloofsartikels, of die pastoor betwis, word hy gevra om die gemeente te verlaat om die eenheid te behou. Dit maak geen voorsiening vir eerlike bespreking of studie nie. As iemand afdwaal van die posisies wat vasgestel is as synde korrek te wees, word hy uitgedryf … en die heersende stelsel van oortuigings bly ongeskonde en onbetwis.  Dit geld vir denominasies, individuele kerke, kweekskole, Christelike kolleges, Christelike verenigings … waar denke en Bybelinterpretasie reeds gedoen is, en lidmate bloot ‘n pakket geloofsoortuigings gegee word … en daar is geen manier om individuele standpunte aan te bied en regstelling te bring waar daar fout is nie …

Die kwessie van ewige pyniging, die gesag van leraars en ander kerkleiers, standpunte rakende die doop, die evangelie wat verkondig word … al hierdie kwessies is te “heilig” om in vandag se kerke aangeraak te word, en ons as individuele lede van die Liggaam van Christus is vasgevang in dwaling … tensy ons aan die vooroordele kan ontsnap en vir onsself kan studeer en dink!

Die evangelie wat deur die meeste van vandag se kerke en individuele Christene verkondig word, is verkeerd, en die manier waarop ons God aan die wêreld voorstel, is godslasterlik! …

Verwerp die vooroordele en bevraagteken die “sisteem van teologie” wat aan jou oorgelewer is. As jy aktief is in ‘n tradisionele kerk, studeer en dink vir jouself. Vra vrae en bespreek Bybelse interpretasie openlik. Soek die waarheid uit die Woord van God en bevraagteken die dinge wat geleer word wat nie reg lyk nie. Doen dit in liefde, en probeer om eenheid te handhaaf … maar moenie stilbly terwyl ons Hemelse Vader verguis word nie … en terwyl God se boodskap so verdraai word dat baie in die wêreld die begrip van God verwerp soos deur die Kerk voorgehou.

Ons is Christus se ambassadeurs en verkondig God se boodskap aan die wêreld. Laat ons seker wees dat ons nie bloot ‘n verkeerde boodskap deurgee wat aan ons oorgedra is nie. Maak seker dit is die regte boodskap.

En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het. Dit bestaan daarin dat  God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie, en Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou. Ons tree dan op as gesante ter wille  van Christus, asof God self deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen!  (11 Korintiërs 5:18-21).

***

Grace Evangel Nuusbrief, 2005

Wilmore, KY

Met toestemming weergegee uit Bible Students Notebook no 227

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.