DIE GELUKKIGE GOD

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

DIE GELUKKIGE GOD

Dit was Willie wat eerste begin het, ek sweer.

Ons sit in die tweede of derde ry van voor. Die dominee preek ernstig. Maar ek en Willie  probeer ons bes om nie hardop te lag nie. Waarvoor, kan ek nie onthou nie. Miskien was dit iemand in die ry voor ons wat aan die slaap geraak het.

Ons het goed geweet jy mag nie lag in die kerk nie. Dis heilige en sedige terrein. Maar as jy vol van die lag is, en jy weet jy mag nie, en jy sien hoe jou maat se skouers ruk terwyl hy met  sy een hand sy mond toedruk, dan is dit skreeusnaaks. En as hy ‘n gedempte snork geluid uiter, moet jy net keer of die damwal wat die prikkels op pad na die lagspiere afkeer, gaan disintegreer met die gevolg dat die stortvloed van opgehoopte lag-energie jou gaan meevoer na ‘n onkeerbare uiting van lagbuie. En so het ons, vir ek weet nie hoe lank, gegrinnik op die kerkbank.

En toe die diens uiteindelik klaar is en ons stap na die uitgang, is daar skielik hier van die kant af, ‘n stewige hand wat my bo-arm vasgryp.

“Hoekom lag jy in die kerk?”, sis ‘n ou grys tannie met kwaai oë.

“Ek gelag? Nee, ek het nie gelag nie!” lieg ek. In die kerk nogal.

“Pasop vir jou!” En sy laat my gaan…

Ek is nie seker of die dominee ons gesien het nie. Maar ek is seker God het. Hy mis niks nie. En ek het geglo ek en Willie was in groot moeilikheid. Jy speel nie met Hom nie. Jy sal dalk nog wegkom by Jesus. Hy het meer begrip gehad vir hoe dit is om mens te wees. Maar God die Vader was soos een van die skoolhoofde wat ek gehad het: streng, stroef, en stuurs, met geen ruimte vir snaaksighede nie.

Van te veel lag, kom gehuil, het ek al soveel keer gehoor van ouer mense en onderwysers. Onbewustelik het ek aanvaar dit kom seker ook van die Bybel af.

Hierdie siening dat God kwaai en kwaad is, kom van my kinderdae af. Ek dink nie dit was ooit reguit so gesê nie, maar dit was ‘n sluimerende gedagtegang wat in ons kultuur ingeweef was.

Per slot van sake, die eerste mens het alles opgefoeter in die tuin van Eden en sedertdien het die mens God keer op keer teleurgestel. God het rede gehad om die hele mensdom met een oorveeg uit te wis. Hulle het Sy Seun vermoor. Op groot skaal het Satan mense verlei en feitlik die hele wêreld is goddeloos en wetteloos. Die oorgrote meerderheid is op pad hel toe.

Ja, God het rede om kwaad en gefrustreerd te wees.

So het ek gedink, vir baie jare.

Vanaf my middel twintigs het God geleidelik die sluier vir my gelig en kon ek sien dat daar ‘n kant van God was, wat ek nie geken het nie.

In 1 Tim 1:11 staan daar

….volgens die evangelie van die heerlikheid van die lofwaardige God….  (2020 vertaling)

…die evangelie van die heerlikheid van die goeie God.    (1983 vertaling)

…die heerlike Goeie Nuus wat aan my toevertrou is deur ons goeie God.   (Nuwe Lewende Vertaling)

in ooreenstemming met die geseënde God se heerlike evangelie… (Afrikaanse Standaard vertaling)

…die evangelie van die heerlikheid van die salige God …(1953 vertaling)

Die Griekse woord wat God beskryf is makarios.  Al die Afrikaanse vertalings verskil oor die vertaling van makarios, buiten vir die 1983 vertaling en NLV wat dit vertaal as “goeie”.

Vine’s Expository Dictionary beskryf dit as ‘blessedness…an ascription of blessing rather than a state.” Dit is verwant aan makarizo… “to pronounce happy…”

Dieselfde Griekse woord kom voor in wat bekend is as die Saligsprekinge in Matteus 5 en Lukas 6 waar dit vertaal word as “gelukkig”, byvoorbeeld, “Gelukkig is julle wat arm is…”.

In Handelinge 26: 2 sê Paulus:

            Ek ag myself gelukkig, Koning Agrippa… [dieselfde Griekse woord]

In 1 Korinthiërs 7:40:

            Tog sal sy ….gelukkiger wees…  [dieselfde Griekse woord]

Die enigste Engelse vertalings waarvan ek weet, wat die gedeelte korrek vertaal met “the happy God” is die Concordant Version en die Rotherham’s Emphasized Bible.

Hoekom is die vertalers nie konsekwent nie? Hoekom huiwer hulle om God as gelukkige God te beskryf? Ek kan net vermoed dit is omdat die konsep van ‘n gelukkige God indruis teen hulle vooropgestelde persepsie van Hom.

God is ‘n gelukkige God. Hoekom sal Hy nie so wees nie? Alles gebeur presies volgens Sy wil. Hy is in totale beheer van alles.

.. .die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur….(Efes 1:11)

Ek wat van die begin af die afloop aankondig, van lank gelede af dit wat nog nie gebeur het nie; Ek wat sê, ‘My raadsbesluit sal standhou; alles wat Ek wil, sal Ek uitvoer…. (Jes 46:10).

Ja, maar vat van die vers in Genesis 6 wat sê dit het God berou dat Hy die mens gemaak het? – mag jy dalk vra.

Vir ons om meer van God te verstaan, sal God Homself soms openbaar in menslike terme. God, wat onsigbare Gees is, sal Homself laat beskryf asof Hy hande en voete het. Dit is ‘n tipe beeldspraak wat bekend staan as neerbuiging (Engels: condescension). Dus, in menslike terme, vanuit die mens se perspektief, lyk dit asof God jammer was dat Hy mense geskape het. Maar in werklikheid is dit nie so nie (vergelyk Heb 2:5-8). Dit sou dan beteken Hy het Hom misgis.  Die mens sou dan baie slegter uitgedraai het as wat Hy voorsien het. Dit kan nie wees nie, want  God is GOD en Hy kan alles vooruit sien want Hy is in totale beheer van wat gebeur.

Wat van die toorn van God, waarvan ons lees in die Bybel, byvoorbeeld in Openbaring? Hoe kan God gelukkig wees as Hy kwaad is? – mag jy dalk wonder. God se toorn spruit voort uit Sy liefde vir die mens. Dit is Sy verontwaardiging oor sonde en die pyn wat dit bring. Dit is in elk geval net tydelik en dit maak nie van Hom ‘n ongelukkige God nie, want selfs dit is deel van Sy eie raadsplan. Sien die artikel oor die Toorn van God op hierdie webtuiste.

Blydskap is een van die eienskappe van die Gees van God (Gal 5:22). Jesus is die vergestalting van God (Kol 1:15, Hebr 1:3) en alhoewel Hy smart geken het, was Hy ‘n blymoedige mens wat maklik met sondaars gemeng het (Mark 2:15-16, Luk 7:34). Toe Hy vir sy dissipels gesê het: “ Dit het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan wees, en julle blydskap volkome kan wees”(Joh 15:11), het hulle Hom nie bevraagteken of snaaks aangekyk nie.

As alles wat bestaan uit God uitkom (Rom 11:36, 1 Kor 8:6), dan sluit dit in die genot van goeie dinge, humor en gelag.

            …God, wat alle dinge in oorvloed aan ons gee om te geniet (1 Tim 6:17).

            Vir alles is daar ‘n vasgestelde tyd… ‘n tyd om te huil en ‘n tyd om te lag (Pred 3:1, 4).

In God se teenwoordigheid is daar geen morbiedheid of neerslagtigheid nie – eerder ‘n opgewondenheid en lofprysing. Dawid, die man na God se hart, het gedig oor hoe dit is in God se teenwoordigheid:

…oorvloedige vreugde in u teenwoordigheid, lieflikhede in u regterhand, vir altyd (Ps 16:11)

As God gelukkig is, kan ons ook gelukkig wees. Die wete dat Hy alles bestuur en onder beheer het; dat Hy alles laat afstuur na ‘n volmaakte manjifieke wêreld sonder einde, behoort ons met blydskap en lofprysing te vul. Die woorde van Nehemia aan Israel spreek ook tot ons:

Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die HERE, dit is julle toevlug (Neh 8:11).

***

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.