Hallo my neef
Ek is bly jy stel belang in die onderwerp : of almal gered gaan word, of nie.
Al wat ek vra is dat jy met ‘n oop gemoed daarna kyk. Die groot probleem is tradisie. Dit was ook so in Jesus se tyd en Hy het daaroor iets te sê gehad. Sien Mat 15:6.
Meeste predikante het gaan studeer by die kweekskool of kollege van die denominasie waarin hulle grootgeword het. Hulle aanvaar as waarheid, dit wat hulle daar geleer word deur professore en dosente. Daardie professore en dosente het dit in hul studente-dae dit ook so ontvang van hul voorgangers. En daardie voorgangers het dit ook so van hulle voorgangers ontvang. As studente is hulle nie aangemoedig om die tradisionele leerstellings en gebruike te bevraagteken nie. Trouens, as jy as student dit gaan kritiseer, gaan jy moeilikheid optel.
Vandat die kerk die staatskerk van Rome geword het in 380 nC, het talle on-Skriftuurlike leerstellings, tradisies en gebruike dit binne gedring. Luther se hervormings was wonderlik, maar die Protestante het steeds talle on-Skriftuurlike leringe en gebruike van die Roomse kerk behou.
Daarom moedig ek mense aan wat honger vir die waarheid is, om hul eie Bybelstudie te doen en dit wat andere leer eers objektief te ondersoek en te evalueer in die lig van wat die Skrif sê. Soos wat die mense in Berea gedoen het in Hand 17:11. ‘n Konkordansie (alfabetiese indeks van al die woorde in die Bybel en waar dit voorkom) is ‘n waardevolle hulpmiddel. Mens moet ook kan leer om te onderskei: vir wie is die Woord bedoel? ; vir watter bedeling geld dit?; is dit van toepassing op ons vandag? (2 Tim.2:15)
Nadat ek my weermagopleiding voltooi het, was ek oor die jare wat gevolg het, by meer as een kerk-denominasie of kerkgroep. Dit was soos ‘n reis waar ek van tyd tot tyd tot nuwe insigte gekom het – as’t ware “nuwe plekke” ontdek het. Tot omtrent 5 jaar gelede, kon ek nog nie insien dat God almal gaan red nie.
My oë het begin oopgaan toe ek afkom op ‘n artikel op my rekenaar, wat ek omtrent 6 jaar van te vore gestoor het. Dit was Analytical Study of Words deur Louis Abbott. Toe ek dit lees word dit vir my duidelik dat wat ons onder “hel” verstaan, nie is wat die Skrif leer nie. En verder, die Skrif in sy oorspronklike taal, beide die “Ou Testament” en “Nuwe Testament,” bevat nie die woord “ewig” nie. Hierdie boek van Abbott is beskikbaar by www.tentmaker.org/scholarscorner.html. (Terloops, hierdie webtuiste bied baie inligting oor die onderwerp ter sprake).
Kyk na die volgende tekste:
1 Tim 2:3-4 (ASV)
Dit is goed en aanneemlik in die oë van God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
2 Pet 3:8-9 (ASV)
Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes: een dag is by die Here soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag. Die Here van die belofte talm nie soos party mense dit as getalm beskou nie, maar Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat sommige tot niet moet gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.
Jes. 46:9-10 (1983 vert.)
…. Ek is God, daar is geen ander nie; Ek is God, daar is niemand soos Ek nie. Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek.
Job 42:1-2 (1983 vert.)
Daarna het Job vir die Here gesê: “Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit.”
Mat. 19:23-26 (ASV)
Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “….’n Ryke sal moeilik in die koninkryk van die hemele ingaan….dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God in te gaan.” Toe die dissipels dit hoor, was hulle totaal uit die veld geslaan en sê: “Wie kan dan gered word?” Jesus het hulle aangekyk en gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik.”
1 Tim. 4:10 (ASV)
Hiervoor swoeg ons immers en span ons ons in, omdat ons ons hoop gestel het op die lewende God wat die Verlosser is van alle mense, veral van die gelowiges.
Titus 2:11 (ASV)
Want die genade van God wat redding bring aan alle mense het verskyn.
Joh 1:29 (ASV)
Die volgende dag sien hy [Johannes die doper] Jesus na hom kom en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”
Joh 3:17 (ASV)
Want God het nie die Seun na die wêreld gestuur sodat Hy die wêreld kan oordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.
1 Joh 4:14 (ASV)
En ons het gesien en getuig dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het.
Joh 12:32 (ASV)
[Jesus het geantwoord en gesê…] “En as Ek opgelig word van die aarde af, sal Ek almal na Myself toe trek.”
1 Kor 15:22 (ASV)
Want net soos almal deur Adam sterf, so sal almal ook deur Christus lewend gemaak word.
1 Joh 2:1-2 (ASV)
…. En as iemand sou sondig, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. Hy is ‘n versoening vir ons sondes, maar nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
Kol. 1:19-20 (ASV)
…omdat Hy [God] dit goedgedink het om in Hom [die Seun] al die volheid te laat woon en om deur Hom alles met Hom te versoen, of dit nou die dinge op die aarde is of die dinge in die hemele, deurdat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis.
Rom. 14:11 (ASV)
…want daar staan geskryf: “So waar as Ek lewe, sê die Here: Voor My sal elke knie buig en elke tong sal My as God bely.”
Fil. 2:10-11 (ASV)
…sodat in die Naam van Jesus elke knie van hemelse en aardse en onderaardse wesens sou buig, en elke tong sou bely dat Jesus Christus Hére is, tot eer van God die Vader!
Rom . 11:32 (ASV)
Want God het almal in ongehoorsaamheid toegesluit sodat Hy teenoor almal barmhartig kon wees.
1 Kor 15:22-25, 28 (ASV)
…so sal almal ook deur Christus lewend gemaak word. Maar elkeen op sy beurt: Christus eerste, daarna met sy koms dié wat aan Christus behoort, daarna kom die einde, wanneer Hy die heerskappy aan God die Vader oorgee, wanneer Hy elke heerskappy en elke gesag en mag vernietig het. Want Hy moet koning wees totdat “Hy al sy vyande onder sy voete geplaas het.” …dan sal ook die Seun self onderwerp word aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het sodat God alles in alles kan wees.
Kommentaar oor hierdie tekste kan jy vind op my webtuiste www.GodisGod.co.za onder die artikel SỂ DIE BYBEL ALMAL GAAN GERED WORD?
Daar is nog baie meer verse wat ek kon noem. Jy sal dit vind by die tentmaker webtuiste wat ek hierbo genoem het..
Ek wil kortliks noem die besware wat gewoonlik ge-opper word:
- Jesus se verwysings na die werping van ‘n mens se liggaam in vuur wat nie geblus kan word en daar sal ‘n geween wees en ‘n gekners van tande.(Mat 8:12, 25:41; Mark 9:43-44
- Jesus se vermaning dat smal is die pad na die lewe en daar is min wat dit vind terwyl die pad breed is wat na die verderf lei (Mat. 7:13-14)
- Paulus se vermaning dat mense wat sekere dinge doen nie die koninkryk sal beërwe nie (1 Kor 6:9).
My vraag is: Is daar enige aanduiding in hierdie tekste dat dit te doen het met ‘n mens se lot by sy afsterwe? Nog ‘n vraag: As die Skrif leer dat almal wat gesterf het uit die dood gaan opstaan en dat daar dan ‘n beoordeling is (sien Joh 5:28-29 en Openb 20:5, 12), wat is die sin daarvan as hulle reeds geoordeel is by hul afsterwe? Derde vraag: As hierdie tekste uitgelê moet word volgens die tradisionele interpretasie, wat maak jy met die tekste hierbo genoem wat dit duidelik stel dat dit God se wil is dat almal gered word, dat Hy Sy Seun juis vir daardie doel gestuur het, en dat dit wat God beoog, Hy tot uitvoer sal bring?
Vir ‘n meer volledige bespreking van hierdie tekste wat as beswaar geopper word, sien die artikel/boek Hell Explained or Bible Threatenings Explained deur J W Hanson by www.tentmaker.org/scholarscorner.html.
Daar is net een teksgedeelte wat op die oog af lyk of Jesus praat van die onmiddellike toestand na dood: die gelykenis of verhaal van Lasarus en die Ryk Man (Luk 16:14-34). Die verhaal het Jesus nie vertel om nuwe lig te werp op die onderwerp van die dood nie. Volgens die Geskrifte wat daardie tyd beskikbaar was, as ‘n persoon dood is, is hy of sy werklik dood; daar is geen bewussyn by die dooies nie en hulle kan God nie prys nie – sien Ps 6:6, Ps 115:17, Pred 9:5. Die verhaal in Lukas 16 was gerig op die Fariseërs om hulle op hulle neuse te laat kyk. Meer hieroor kan gevind word op my webtuiste www.GodisGod.co.za onder die artikel Die Woord “Hel” Is Nie In Die Skrif Nie.
Ander antwoorde wat soms voorgehou word:
- God het die mens vrye wil gegee. Die mense wat kies om nie in Jesus te glo nie of Hom te aanvaar nie, het self hulle ewige bestemming van hel gekies.
My antwoord: Daar is ‘n uitverkiesing van diegene wat nou in hierdie lewe tot die waarheid kom (Rom 8:28-29, Efes 1:4). Dit was nie jou of my geloof wat ons red nie. Dit is die geloof van Christus (Gal 2:16, 20; Rom 3:22 – vgl nota oor bronvertaling by Gal 2:16 in 2020 Afr vertaling, en ander letterlike vertalings soos Concordant Version en Youngs Literal Translation wat praat van geloof van Christus, eerder as geloof in Christus) en daardie geloof is in elk geval aan ons geskenk (Efes 2:8). Ons het niks om op te roem nie (Efes 2:9). Dit is absolute snert om te redeneer dat alle Moslems en Boeddhiste vir hulleself die hel gekies het. Daar is geen aanduiding in die Skrif dat God nie na die opstanding vir hulle ook geloof sal skenk nie. Kyk byvoorbeeld wat die skrif sê oor Sodom in Eseg 16:53 en Mat 10:15 en oor Israel in Rom 11:25-26.
- God se sin vir geregtigheid verleen aan Hom die reg om ongeredde mense wat nie Jesus aanvaar het as Verlosser nie, vir ewig te folter.
My antwoord: As God hulle nie uitverkies het om in hierdie lewe insig oor die evangelie te kry nie en nie geloof aan hulle geskenk het nie, watse geregtigheid is dit om hulle vir ewig te folter? Dit is godslasterlik om dit van Hom te sê.
- Geen mens kry ‘n tweede kans na sy of haar dood nie.
My antwoord: Ons praat nie van ‘n tweede of derde of enige kans nie. God is die Redder deur Sy Seun, Jesus Christus. Hy het vooraf besluit wie in hierdie lewe geloof sal kry en wie nie. As Hy besluit het dat Achmat nie nou daardie insig en geloof gaan kry nie, dan het Achmat geen kans gehad nie. Die lering van elke mens het vrye wil wat dit betref, is nie op die Skrif gegrond nie. Die dag na die opstanding wanneer God Achmat se oë oopmaak vir die waarheid, is daar geen kans dat Hy God se werking kan weerstaan nie. Soos wat met Saulus (later Paulus) in hierdie lewe gebeur het. God is nie besig met ‘n dobbelspel nie. Hy vat nie kanse nie. .. “die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur..” (Efes 1:11). Ten slotte, daar is geen Bybelteks wat sê dat die mens se dood sy bestemming vasmaak nie.
Slot-gedagtes:
As God ‘n God van liefde is (en Hy is inderdaad!) , en as Hy tot alles in staat is en alles tot uitvoer bring volgens Sy wil (en dis inderdaad so – Efes 1:11), en as Hy alles vooruit kan sien (wat Hy inderdaad kan doen – Jes 46:10), hoe kan Hy dit voorbestem of toelaat dat biljoene mense wat Hy na Sy beeld geskep het, vir ewig in helse vuur brand? “Vir ewig” is meer as ‘n biljoen jaar. Vir ewig in vuur geskroei en gemartel word, net omdat hulle in hul kort leeftyd op aarde nie in Jesus geglo het nie! So verordineer deur die God wat liefde is!? Hy wat ons leer om ons vyande lief te hê?
Hierdie vals leerstelling is ‘n klad op God se Naam en ‘n klap in Sy gesig!
Buiten die biljoene in Asië en Moslem lande wat nog nooit ‘n Bybel gesien het nie – miskien nog nooit van Jesus gehoor het nie, is daar kinders in sogenaamde Christelike lande wat sterf voordat hulle “’n besluit kon maak vir Jesus”. Gaan hulle ook brand vir ewig? Of is daar ‘n ouderdom van verantwoordelikheid? En as die kind voor daardie ouderdom gesterf het, is dit OK? Wat is daardie ouderdom? Hoekom sê die Bybel niks daarvan nie?
Toe God beplan het om mense te skep, het Hy voorsien dat die meerderheid Hom nie sou volg nie? Ek glo Hy het dit voorsien wat betref hierdie lewe. Maar het Hy ook dit voorbestem dat biljoene vir ewig gefolter sal word in vuur? Ek sê : Nee. Of het Sy planne skeefgeloop toe Satan Eva verlei het en Adam gesondig het? Het Hy dan dit misgekyk wat besig was om te gebeur toe Satan sy besoek bring aan die twee in die tuin van Eden? Hoekom het Hy dit nie gekeer nie?
Die Skrif sê alles het gebeur soos God dit beplan het. Daarom, in Sy plan, was Sy Seun reeds bestem om geoffer te word, nog voor Adam bestaan het (1 Pet 1:19-20, Openb 13:8). Toe Sy Seun verraai en gekruisig is, was dit nie God se planne wat skeefgeloop het nie, maar inteendeel, was dit presies volgens Sy plan.
As dit so sou wees dat die meerderheid mense vir ewig gaan brand in die hel, hoekom sal mens dan nie tot die gevolgtrekking kan kom nie dat op die ou end is God die verloorder en Satan die een wat wen? Die Skrif leer dat Christus gaan regeer totdat Hy al die vyande van God onder sy voete gestel het – die laaste vyand synde die dood. Dan onderwerp Christus Hom aan Sy Vader “sodat God alles in almal sal wees” (1 Kor 15: 25-28).
Die ware evangelie is werklik goeie nuus! Eer aan God!
***