JY VERDIEN HEL: Die Leuen wat Christendom Nie Sal Ophou Vertel Nie – Deur Steve Martin

JY VERDIEN HEL: Die Leuen wat Christendom Nie Sal Ophou Vertel Nie – Deur Steve Martin

“Jy verdien hel,” verklaar die Christendom.

Regtig? Wat de hel?

Dit word so saaklik gesê, asof iemand oor die weer kommentaar lewer: “Lyk soos reën vandag. Terloops, jy verdien om vir ewig te brand.”

Dink hulle ooit na oor wat hulle sê? Sien hulle die belaglikheid van die bewering? Kom ons breek dit af: Net deur te bestaan, verdien ek om vir ewig gemartel te word in ‘n plek van gruwels – bo enigiets wat die menslike verstand kan voorstel? Bloot omdat ek gebore is?

Ek sê dis loutere snert.

Watter soort God sou dit doen? Ons worstel oor hoekom God lyding hier op aarde toelaat, en tog is so baie Christene heeltemal gemaklik daarmee dat Hy biljoene mense – Sy eie skepping – blootstel aan ewige marteling net omdat hulle nie die regte woorde gesê het of die regte ding op die regte tyd geglo het nie.

Laat ons nie doekies omdraai nie: hierdie lering is ‘n klomp twak. Dit is ‘n leuen, uitgedink deur die Christendom, en dit word al vir eeue gebruik om mense te manipuleer, te beheer en bang te maak en tot onderdanigheid te dwing.

DIE TERLOOPSE LEUEN

Jy sien dit oral: in preke, artikels, sosiale media-plasings, Sondagskoollesse. Dit word in jou kop ingeboor vanaf die oomblik dat jy die sogenaamde “ouderdom van aanspreeklikheid” bereik het..

Boem. Jy is twaalf jaar oud, en skielik is jy verantwoordbaar aan God. Een dag is jy ‘n onskuldige kind, en die volgende dag is jy ‘n wandelende teiken vir die hel. Jy moet liewer vinnig “gered” word, want in die tussentyd – tussen die tyd dat jy aanspreeklik is en jy die sondaarsgebed bid – loop jy ‘n gevaarlike pad. Maak jy ‘n glips, sterf voor jy jou bekeer, dan is dit ewige marteling vir jou.

Regtig? Watter soort God werk so?

Wat het ‘n twaalfjarige gedoen om hel te verdien? Sy suster geslaan? ‘n stukkie lekkergoed uit die winkel gegaps? Gelieg oor die skoonmaak van sy kamer? En dit regverdig oneindige straf?

“O, maar hy het ‘n sondige natuur,” sal hulle sê. Nuusflits: hy het nie daarvoor gevra nie. Hy is daarin gebore, volgens hulle eie leerstelling. En selfs daardie leerstelling hou nie water nie.

DIE “SONDIGE NATUUR”  LEUEN 

Die sogenaamde “sondige natuur” is ‘n leuen. Die Bybel sê Adam se sonde het die dood meegebring (Romeine 5:12), nie ewige marteling nie. Die dood is die afwesigheid van lewe, nie lewe in ewige pyniging nie. Die Christendom het hierdie eenvoudige waarheid verdraai in ‘n vreesaanjaende bemarkingsveldtog: “Sluit aan by ons klub of brand vir ewig,”

Die idee van ‘n “sondige natuur” is een van die Christendom se grootste misleidings. Hulle gebruik dit om jou aanhou skuldig te laat voel, gebroke en afhanklik van die kerk om jou reg te maak. Hier is die waarheid: Jy is nie gebroke nie, jy is nie boos nie – jy is menslik.

Die Bybel sê nie jy word goddeloos gebore nie; dit sê jy is sterflik gebore. “Vlees” (Grieks, sarx) beteken nie “sondige natuur” nie. Dit beteken jy is menslik, onderhewig aan dood en broosheid.

Die Christendom het dit geneem en dit tot ‘n narratief van totale verdorwenheid verdraai. Hoekom? Want as hulle jou kan oortuig dat jy fundamenteel gebrekkig is, kan hulle jou oortuig dat jy hulle nodig het om jou te red.

DIE MITE VAN VRYE WIL

Nog ‘n instrument in hul arsenaal is die mite van “vrye wil.” Hulle sal sê: “Jy het gekies om te sondig, so jy verdien die gevolge.” Maar het jy regtig gekies? om jou skuldig, gebroke en afhanklik te laat voel van die kerk om jou reg te maak.

As jy gebore word met ‘n sogenaamde “sondige natuur”, wat geneig is tot sonde, en geplaas word in ‘n wêreld waar sonde onvermydelik is, hoe is dit ‘n keuse? Dit is soos om in ‘n put gestamp te word en dan te hoor dit is jou skuld dat jy geval het.

Romeine 11:32 (2020 vertaling) sê: “God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon.” Laat dit insink. God self het ongehoorsaamheid in ons storie geskryf. Hy het mislukking ‘n integrale deel van ons lewens gemaak – nie om ons te veroordeel nie, maar om Sy genade en heerlikheid te toon.

So, laat ek vra: As God ons opgestel het om te misluk, hoe kon Hy ons vir altyd martel vir iets wat heeltyd deel van Sy plan was? Dis Sy storie, Sy plan, nie ons s’n nie. Die idee dat God ons tot ewige pyniging sal veroordeel omdat ons presies is wat Hy ons geskep het om te wees – menslik, onvolmaak, geneig tot sonde – is absurd.

Laat ons ook nie vergeet dat hulle ook verkondig dat God soewerein is en in beheer van alles is nie. So, wat is dit? Het ons ‘vrye wil’ of trek God al die toutjies? Dit is óf die een, óf die ander.

GOD IS BETER AS DIT

Hier is die slotsom: die leerstelling van die hel en die idee dat jy dit verdien, gaan nie oor God nie. Dit gaan oor beheer. Dit gaan daaroor om mense in vrees te hou sodat hulle nooit die stelsel bevraagteken nie.

Die waarheid is, God is liefde – ware liefde – en liefde dreig nie met ewige pyniging nie. Liefde manipuleer nie. Liefde sê nie: “Doen wat ek sê, of ek sal jou vir altyd verbrand nie.”

Die idee dat jy hel verdien, is ‘n leuen – was nog altyd, sal altyd wees. God is nie ‘n monster nie. God is nie ‘n folteraar nie. God is liefde.

Dit is tyd om die leuen te verwerp en die waarheid te omhels. Jy verdien nie hel nie. Jy het nooit nie, en jy sal nooit nie.

Leef vry..

***

Oorspronklik gepubliseer in Bible Student’s Notebook en vertaal deur Johann Grobler

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.