DIE SKEPPENDE GENIALITEIT VAN GOD

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

DIE SKEPPENDE GENIALITEIT VAN GOD

DIE SKEPPENDE GENIALITEIT VAN GOD

Skilders kopieer konsepte en figure wat by God ontstaan het, op skilderdoeke.  Beeldhouers maak en formeer voorwerpe wat deur God uitgedink is. God, wat menslik gesproke Sy outeursreg kon uitgeoefen het, het dit egter nie gedoen nie.

Ons is geneig om die wonder, die grootsheid, die prag en die verskeidenheid van God se skepping wat aan ons vertoon word, as vanselfsprekend te aanvaar. Die skepping is verstommend, selfs al is die grond onder ‘n vloek (Gen 3:17) en die skepping deur God aan nietigheid onderworpe gemaak (Rom 8:20).

Die weerkaatsing van lig op water, ‘n sonsondergang wat die westelike horison kleur met tinte van geel, oranje en soms pers, skilderagtige landskappe, asemrowende watervalle, lieflike strande, welige woude, pronkende wildsbokke, die ongelooflike verskeidenheid seelewe … en ‘n mens kan voortgaan om die ontsagwekkende diversiteit van lewensvorme op ons planeet te noem.

Ons wat weet dat dit nie deur evolusie oor miljoene jare tot stand gekom het nie, sal goed doen om stil te staan en na te dink, nie net oor God se skeppingskrag nie, maar ook oor Sy verbeeldingryke denkvermoë.

Stel jou voor dat ‘n engel aan jou verskyn en jou vertel dat jy guns by God gevind het en dat Hy besluit het om jou onbeperkte skeppingskrag te gee. Jy sal in die gees na ‘n leë planeet geneem word waar jy toegelaat sal word om jou skeppingskrag uit te oefen. Al wat jy hoef te doen is om net jou hand te waai en die woorde uit te spreek: “Laat daar wees …”

Jy sê “Sjoe, dit is fantasties!”

Die engel antwoord: “Daar is net een voorwaarde.”

“Wat is dit?”

“Jy mag nie dupliseer wat op planeet aarde is nie, want dit sal God se kopiereg skend.”

“Wat van water?”

“Jammer, kopiereg.”

“Wat van gras, plante en bome?”

“Jammer, kopiereg.”

Jy begin jou gedagtes vrye teuels gee … Jy kan met sonderlinge en snaakse wesens vorendag kom, soos in kinder-rolprente. Maar my raaiskoot is dat dit nie lank sal neem voor jy agterkom hoe beperk ons is nie. Jy sal nie weet waar om te begin nie.

My punt is dat God in die skepping, sowel as die herskepping wat in Genesis 1 beskryf word, niks gehad het om van te werk nie, behalwe Sy eie kreatiwiteit. Sy idees het van Homself gekom.

               Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge (Rom 11:36).

Ons kan iets leer oor God se karakter – Sy vindingrykheid; Sy liefde en sorg; deur Sy skepping waar te neem en te waardeer.

Want Sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar (Rom 1:20).

Toe God Job geantwoord het nadat sy vriende hulle sê oor sy rampe gehad het, het Hy hom retoriese vrae oor Sy skepping gevra:

Is dit op jou bevel dat die arend so hoog opstyg en sy nes so hoog bou? (Job 39:30)

Waar was jy toe Ek die fondamente van die aarde gelê het?… Of wie het die hoeksteen daarvan gelê, terwyl die oggendsterre saam gejubel, en al die hemelwesens gejuig het? … (Job 38:4, 6-7)

en groen grasperke te laat uitspruit? (Job 38:27)

Gee jy vir die perd krag? (Job 39:22)

Bevestiging van God se wonderlike en pragtige skepping word gevind in Psalm 104:

Dit is U wat  fonteine laat ontstaan in die spruite. Tussen berge vloei dit deur, en gee al die diere van die veld water… uit die vrug van u arbeid word die aarde versadig (:10, 13).

Hoe talryk is u werke, HERE! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort. Daar is die see, groot en na alle kante uitgestrek! Daar wemel dit van ontelbare diere, klein en groot… (:24, 25).

Mag die majesteit van die HERE vir ewig duur; mag die HERE Hom verheug in sy werke… ek sal my verheug in die HERE (:31, 34).

Vandag is die neiging om krediet aan die natuur te gee. Bio-nabootsing, volgens die Biomimicry Institute, “is ‘n praktyk wat leer uit en naboots die strategieë wat in die natuur gevind word om menslike ontwerp uitdagings op te los – en hoop te vind.” Hier word die natuur geëer, in plaas van die Skepper (vgl Rom 1:21). Ongetwyfeld was baie gevalle van nabootsing van God se skepping nuttig vir die mensdom. Haak en lus hegstukke, bv Velcro, is geïnspireer deur die fyn hakies aan klitsgras. Die vorm van ‘n esdoringsaad wat dit langer en verder in die wind laat dryf en die stille vlug van ‘n uil, veroorsaak deur hul eiesoortige vere op die rand van hul vlerke, het beide ‘n rol gespeel in die ontwerp van doeltreffender windturbines. Die magdom gevalle waar ontwerpers, boere en ingenieurs inspirasie gevind het en steeds vind deur wat deur God geskep en gevorm is, getuig van Sy skeppende genialiteit.

In die wêreld wat kom, sal nog meer van God se skeppende genialiteit vertoon word. Die nuwe aarde en die nuwe Jerusalem – “die stad wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is” (Heb 11:10) waarvan ons in Openbaring 21 en 22 lees, sal ongetwyfeld asemrowend wees in sy skoonheid en grootsheid.

Die apostel Paulus het uit Jesaja aangehaal:

“Wat die oog nie gesien het, die oor nie gehoor het, en in die hart van die mens nie opgekom het nie –  dit het God voorberei vir diegene wat Hom liefhet.” Maar aan ons het God dit deur die Gees geopenbaar … (1 Kor 2:9,10).

God het in breë trekke, deur die apostel Paulus, aan ons geopenbaar watter heerlike erfenis op ons wag wat deel is van die Liggaam van Christus. Maar soos ‘n liefdevolle vader wat daarvan hou om sy kinders te verras met onverwagte geskenke of prettige uitstappies, sal daar ongetwyfeld geen einde wees aan die vertoon van God se kreatiewe briljantheid en onpeilbare liefde teenoor ons nie. Dawid het geskryf,

…[Daar is] oorvloedige vreugde in U teenwoordigheid, lieflikhede in u regterhand, vir altyd (Ps 16:11).

Dit is nie verkeerd om lof te betuig aan ‘n kunstenaar of ingenieur vir sy of haar uitstekende werk nie. Maar laat ons nie vergeet wie die Oorsprong van alles is en wie verskillende talente aan mense gegee het nie – die grootste Kunstenaar en Ingenieur ooit.

***

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.