WAT VAN GOD DIE VADER?

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

WAT VAN GOD DIE VADER?

My kleinkind praat van “Liewe Jesus.”  Die Christelike liedjies wat hulle sing is van “Liewe Jesus.” 

Meeste van die moderne geestelike liedere gaan oor “My Jesus.”

Wat is dan verkeerd daarmee? 

Op sigself, is daar niks verkeerd daarmee nie.  Jesus is ons Redder. Hy verdien ons lof en dankbetuiging.

Kom ons wees eerlik:  God die Vader is minder in die prentjie as Jesus. God, die Vader, word afgeskeep in die Christendom. Hy kry nie die aandag, lof en bewondering wat Hy verdien nie.

Die Katolieke maak ‘n ophef van Moeder Maria.  Die gereformeerde Protestante kerke is geneig om  Jesus te beklemtoon. Die Pinkster kerke is geneig om Jesus asook die Heilige Gees voorop te stel. Maar God die Vader kry minder aandag. Hoekom?

Die rede hoekom God die Vader nie soveel aandag kry nie, is omdat mense (en ek bedoel die Christendom in die algemeen) ‘n verkeerde persepsie het van Hom. Hy word gesien as ‘n harde bevelvoerder. Hy het min genade vir oortreders. Jesus moet vir ons intree en vir ons pleit, anders is ons in groot moeilikheid by God die Vader. Jesus word geskets as die sagte een – God die Vader is harder – meer ongenaakbaar. Hy haat sonde soveel dat Hy almal wat dit doen wil verdelg of vir ewig pynig in helse vuur – tensy hulle ‘n offer aan Hom bring. Dit is hoe baie Christene oor God die Vader dink.

En ek blameer hulle nie. Want ek het ook so gedink. Ons het so grootgeword. Dit het net gebeur sonder dat ek dit besef het. Dit was ook nie ‘n doelbewuste strategie wat leiers in die Christelike denominasies nagevolg het nie. Dit was eerder ‘n neiging wat onbewustelik eeue lank teenwoordig is in die Christelike gemeenskap en tradisie.

Dit is hoe ek in my kinderjare God die Vader gesien het. Soos ons skoolhoof. Ernstig. Geen sin vir humor. Jy moet net werk. Nie te veel lag nie. Van te veel lag kom gehuil. Moenie die lewe te veel geniet nie. Pasop! Jou dag sal kom!!!

Dit is so ‘n verkeerde persepsie van God, die Vader.

In die sogenaamde  Ou Testament sou die mense van Israel die indruk kon kry dat God streng en onverbiddelik is. Tog het Hy Homself aan Moses geopenbaar as medelyend, genadig , geduldig, traag om kwaad te word, en oorvloedig in troue liefde.(Eks 34:6). God was egter nie geopenbaar as ‘n persoonlike Vader vir elkeen van Sy mense nie. Hy was soms geopenbaar as ‘n Vader vir die nasie van Israel. Hulle was bevoorreg as ‘n nasie deurdat hulle Hom geken het as Yahweh – die Ewige Onveranderlike God – iets wat die ander nasies nie beskore was nie. Maar hulle het Hom nie geken as ‘n persoonlike Vader met wie ‘n indiwidu ‘n noue persoonlike verhouding kon hê nie.

In die sogenaamde Nuwe Testament het Jesus die Vader aan die mense geopenbaar.

Jesus het gesê: “niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak.” (Mat 11:27)

In Sy gebed gedurende die laaste aandete voor Sy arrestasie het Hy gesê:

Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U …En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en Ek sal dit verder bekend maak….(Joh 17:25-26)

Meer as 150 keer in die Evangelie boeke noem Hy God as Sy Vader. Hy het verduidelik dat as jy Hom (Jesus) gesien het, het jy die Vader gesien -Joh 14:9. Jesus straal uit die Vader se geaardheid – die ewebeeld van Sy wese (Heb 1:3); die beeld van die onsigbare God (Kol 1:15). As Jesus vol deernis was – en Hy was so en is steeds so – so is God die Vader. As Jesus genadig en liefdevol was en is – so is die Vader.

Jesus het aan Sy volgelinge gesê:

As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader in die hemele goeie dinge gee vir hulle wat Hom vra!  (Mat. 7:11)

God die Vader, is die beste Vader ooit. En ek en jy weet van goeie vaders wat goed sorg vir hulle kinders – en hulle met liefde koester. Goeie liefdevolle vaders maak ‘n positiewe impak op hul kinders se lewens.

In die huidige bestel is daar egter ook vaders wat nie hulle God-gegewe rol vervul nie. Met verreikende en vernietigende gevolge. Dis alombekend dat afwesige of gewelddadige vaders ‘n letsel kan laat op hul kinders wat hulle die res van hul lewens saamdra.

My pa was ‘n wonderlike vader. Ek was geseënd om so ‘n pa te hê. Toe ek klein was, was hy my held. “My pa is sterker en slimmer as jou pa”, sou ek teenoor my vriende gespog het. My pa het vir ons gesorg na die beste van sy vermoë en ons het geweet hy was baie lief vir ons. Hy is al lank oorlede en nog steeds mis ek hom. Maar sedert sy dood het ek meer bewus geword van die alomteenwoordigheid, die almag  en volmaakte liefde van my eintlike Pa – my God en Skepper.

Daar is niemand met meer wysheid, met groter intellek, met meer mag of met meer liefde as God die Vader nie.

Jy en ek kan nie ‘n beter Pappa Vader hê as God die Vader nie. Hy weet alles. Is in beheer van alles.  Het alle mag en soewereiniteit. Hy kan enigiets doen wat Hy wil. Dit wat Hy belowe het, sal Hy doen.

Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie (Jak 1:17).

Hy is Almagtig en standvastig en  terselfdertyd is Hy liefde.

1 Joh 4: 8 sê:

            Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.

Let wel, dit sê nie God het liefde nie. Dit sê : God is liefde.

Vir baie mense is dit ‘n onwerklikheid omdat hulle nie liefde by hul eie vader ervaar het nie. As jou eie pa nie so ‘n goeie pa was nie … dalk ‘n alkoholis  of wat ook al, moenie dat die waarde vir jou van God se Vaderskap, daardeur geaffekteer word nie. Jou ervaring van jou vader in jou kinderjare moenie jou konsep van God die Vader vertroebel nie.

God die Vader is die mees liefdevolle Vader ooit. Hy het jou meer lief as wat enigiemand anders jou liefhet. Hy weet meer van jou af as wat jou ouers, jou gade of jou beste vriend van jou weet. Hy was intens bewus van jou toe jou ma jou verwag het. Hy was betrokke by jou vorming in jou ma se moederskoot (Ps 139:15). En Hy weet presies wat Hy vir jou wil hê, nie alleen in hierdie lewe nie,  maar in dit wat nog kom. En Hy berei ons voor vir ‘n toekoms anderkant hierdie lewe, waaroor ons nie eers kan droom nie (1 Kor 2:9, 13;12; 2 Kor 12:4)

Jy as Sy kind kan Hom noem “Pappie” of “Pappa” in ooreenstemming met die Aramese woord “Abba” wat Jesus gebruik het teenoor Vader (Rom 8:15) en jouself beskou as mede-erfgenaam van God saam met ander gelowiges en Christus, wat verheerlik gaan word (Rom 8:17).

As Hy weet hoeveel hare op jou kop is… En hoeveel meer hare jy gehad het ‘n jaar gelede, soos wat Jesus geleer het (Mat 10:30), dan weet Hy van die fynste detail  van jou lewe. Hy weet waarvan jy hou; wat jou voorkeur kosse is;  jou musieksmaak … alles.  Hy weet watter pyne jy ervaar in jou liggaam; jou uitdagings by jou werk of dit waarmee jy daagliks besig is; jou vrese; jou bekommernisse -Hy weet alles daarvan.

“Ja, en Hy weet van al my sondes, swakhede en foute!  Hy weet hoeveel keer ek drooggemaak het… Ek dink Hy is kwaad vir my. Hy gaan my straf”, mag sommige dalk sê of dink.

Ja, God weet van al jou sondes, al jou oortredings en foute. Maar Hy is nie kwaad vir jou nie!! 

Hoe weet ek dit?

Want Hy weet hoe swak ek en jy is! Hy weet hoe kwesbaar ons is. Hy weet van watter stoffasie ons gemaak is. Hy is tog die Skepper van die mens  wat Hy uit stof gemaak het.

Soos ‘n vader Hom ontferm oor kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat vir Hom ontsag het; want Hy weet waarvan ons gemaak is; Hy hou in gedagte dat ons maar stof is  (Ps 103:13-14)

God het meer ‘n kwessie met mense wat trots of verwaand is.  Mense wat sê: “Ek kan God se Wet onderhou. Watch me…..”, as wat Hy ‘n kwessie het met mense wat in hul swakheid uitroep na God : “Here, help my… Ek het U hulp nodig!”

Dis hoekom Paulus sê: “Wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk” (2 Kor 12:10).

Vader is altyd daar om ons aan die hand te vat. Om ons op te beur.

Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van barmhartigheid en God van alle bemoediging! Hy  bemoedig ons in al ons verdrukking….(2 Kor 1:3-4)

Vader is liefde. Jy hou van jou  hond en jou kat.  God is ook lief vir hulle. Hy is lief vir diere (Ps 104:11, 27-28). Hy is liefde.

Hy is die beste Vader wat jy en ek kan hê. Jy kan jou hart uitpraat teenoor Hom.  Jy kan op Hom vertrou- al verstaan jy nie alles wat Hy doen nie. Jy kan weet:  Hy weet wat Hy doen. Hy is besig om aan Sy mense te werk …. Soos ‘n pottebakker met klei.  So ook met jou en met my (Rom 9:21, Efes 2:10).

Ken jy die vaderhart van God die Vader? Weet jy dat God ook ‘n vaderhart het teenoor die wat Hom nie ken nie?

Hy het ‘n liefde vir alle mense – selfs die van Sjina en Noord Korea, of waar ook al, wat Hom glad nie ken nie … of nie in Sy bestaan glo nie. Hy doen moeite vir hulle ook. Hulle is ook op Sy agenda (Vgl Mat 5:43-48).

God hunker na ‘n Vader – Kind verhouding met die hele mensdom.

Dit word mooi illustreer in die relaas van Jona se onwillige sending om heidense Nineve namens God te waarsku en tot bekering op te roep. En toe het hierdie heidene jou wrintiewaar ag geslaan op Jona se woorde en die koning het gelas dat mens en dier moet vas. En Jona het niks hiervan gehou nie. Want die mense van Nineve was nie sy mense nie.

Jona 4:10-11:

Toe se die HERE: “Jy is besorg oor die kasterolieplant waarmee jy geen moeite gedoen het nie en wat jy nie laat groei het nie, wat oornag opgekom het en oornag tot niet is. Maar Ek, Ek mag nie besorg wees oor Nineve nie, die groot stad waarin daar meer as honderd- en twintigduisend mense is wat die verskil tussen regs en links nie ken nie, en ook nog baie diere?

Dit sê iets van God…  Hierdie mense is deur God geskep en al besef hulle dit nie, hulle behoort aan Hom en Hy is besorg oor hulle.

Kyk na Hand 17:26-28 waar Paulus op die markplein in Athene praat met mense wat vasgevang is in afgodery  :

Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye gegee en die grense van hulle woongebied bepaal, sodat hulle God kon soek, en miskien na Hom uitreik en Hom sou vind, aangesien Hy nie ver van een van ons af is nie. Want deur Hom leef ons, beweeg ons en ontstaan ons, soos sommige van julle digters inderdaad gesê het: “Ons is ook van sy geslag.”       

Waar die 1953 en 2020 vertalings lees “sy geslag “ lees die 1983 vertaling,  “ons stam van Hom af” en die Afrikaanse Direkte Vertaling,  “ons  is sy nageslag”.

Hierdie is nie bekeerde gelowiges nie. Tog is God naby aan elkeen van hulle – maar hulle besef dit nie. En Paulus beskryf hulle as God se afstammelinge.

Baie ongelowiges wat wel glo in die bestaan van God, dink God is kwaad. Kwaad oor al die sondes op die aarde …en  oor al die sondes wat hulle self gepleeg het.

Dit is so dat sonde lynreg teen God se karakter is. Daaroor sal ons nie stry nie.

Maar is Hy die heeltyd kwaad daaroor? 

Nee, Hy is nie.

Hoe weet ek dit?

Want die Skrif se Hy is ‘n gelukkige God. Hy is vol vreugde.

Waar staan dit?

1Tim 1:11:

… volgens die evangelie van die heerlikheid van die gelukkige God wat aan my toevertrou is…

Maar my Bybel sê nie “gelukkige God” nie. Dit sê “lofwaardige God”. En my 1983 vertaling sê “goeie God”.  En my 1953 vertaling sê : “salige God.”

Die Griekse woord is makarios. En oral word dit in die 2020 vertaling vertaal as “gelukkig”, behalwe in 1 Tim 1:11 – waar dit God beskryf.

Hier is ‘n goeie voorbeeld waar vertalers nie net vertaal nie, maar ook interpreteer. Skynbaar druis dit in teen die siening wat die vertalers het van God: ”Hoe kan Hy ‘n gelukkige God wees? Kom ons vertaal dit as ‘salig’ of ‘goeie’ of ‘lofwaardig’.”

Nee, God is ‘n gelukkige God. Hy is 100% in beheer van alles. Alles loop volgens Sy plan. En Hy weet waarop alles afstuur. En Hy weet dis goeie nuus vir die wat dit kan ontvang. (Sien die artikel “Die Gelukkige God” op hierdie webtuiste).

Deel van die vrug van die Gees van God, is vreugde. Om vreugdevol te wees, is ‘n karaktertrek van God.

Maar wat van die sondes van die mensdom?

Wel, die Skrif sê duidelik dat God versoen is met die mensdom.

… want God het dit goedgevind …. om deur Hom [Christus] alles, ja, alles op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Hy vrede gebring het deur Sy bloed aan die kruis. (Kol. 1:19-20)

God wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en mense: die mens Christus Jesus, wat Homself as losprys vir almal gegee het, tot getuienis op die bestemde tyd. (1 Tim. 2:4-6)

God is nie kwaad vir die mensdom nie. Ja, ek weet van die verse in die Bybel wat sê God was jammer dat Hy die mens gemaak het en dat Hy Sy toorn gaan laat geld.(Sien die artikel “Die Toorn van God” op hierdie webtuiste).

Die leerstelling dat God ongelowiges vir ewig gaan laat brand in die vuur van die hel of vir ewig gaan uitwis, is onskriftuurlik. (Sien die artikel “Die woord ‘Hel’ is nie in die Skrif nie” op hierdie webtuiste).

Soos wat William Barclay skryf :

No father could be happy while there were members of his family forever in agony. No father would count it a triumph to obliterate the disobedient members of his family. The only triumph a father can know is to have all of his family back home again. (A Spiritual Autobiography – William Barclay)

God weet van watter stoffasie die mens gemaak is en hoe swak die mens is – al dink die mens sélf nie so oor hulleself nie (Ps. 103:14). Nee, God is nie nors, kwaad of befoeterd nie.

En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van versoening gegee het. (2 Kor. 5:18)

Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. (2 Kor. 5:19 – 1983 vert.)

Let mooi op die woorde. God is nie besig om die wêreld met Homself te versoen nie. Hy het dit reeds gedoen.

En dit is nie die mens wat die inisiatief vir versoening geneem het nie. Dit is God se inisiatief. Die mens het nie na God toe gekom nie, maar God na die mens. En dít terwyl die mens vyandig was en is teenoor Hom.

… Want as ons met God versoen is …toe ons nog vyande was…. (Rom. 5:10 – ASV)

Hoe het dit gebeur?

… deur die dood van sy Seun…. (Rom. 5:10)

deurdat Hy vrede gemaak het deur sy bloed aan die kruis… (Kol. 1:20)

Nie deur die mens se toedoen of werke nie, maar deur Christus se voltooide werk aan die kruis. Dit is wat Jesus bedoel het met sy laaste sterwenswoorde “Dit is afgehandel” (ASV) “Dit is volbring” (Joh. 19:30).

Let ook die versoening is nie net met gelowiges nie. Dit is met die wêreld!

…. die versoening van die wêreld.. (Rom. 11:15 – ASV)

om deur Hom [Christus] alles …. op die aarde en in die hemel met Homself te versoen… (Kol. 1:20)

God het nie ’n  kwessie met enige mens oor dié se sondes en oortredinge nie. Hy dink nie daaraan nie.

…deurdat Hy hulle nie hulle oortredinge toereken nie… (2 Kor. 5:19 – ASV)

…nie die mense se oortredinge teen hulle hou nie…. (NLV)

Vir Hom bestaan ’n mens se oortredinge nie, in soverre dit Sy verhouding met daardie persoon behels nie. Deur die bloed van Christus se kruisdood, het God Homself met die wêreld versoen. Die versoening van God se kant af het reeds gebeur. Die mensdom in die algemeen het egter nog nie die versoeningsgebaar van God aanvaar nie. Dit kom nog…

God is reeds met jou versoen. Maar is jy met God versoen?

…ons smeek julle terwille van Christus: “Julle moet met God versoen word.” (2 Kor. 5:20 – ASV)

Die volle versoening tussen mens en God gaan kom…

Dis deel van Sy groot plan.

Later in sy bediening skryf Paulus:

Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vadervan wie elke geslag in die hemel en op aarde sy naam ontvang (Efes 3:14-15).

Die dag kom, wanneer elke skepsel in die hemel en aarde met God versoen sal wees.  En meer nog: elke skepsel sal God aanvaar en erken as Vader. Dit is wat God se wil is…  Dit is waarop alles afstuur. (Sien die artikel “Sê die Bybel Almal Gaan Gered Word? op hierdie webtuiste.)

Ons wat deel is van die Liggaam van Christus is die eerste vrugte wat uitsien na ons aanneming as kinders van God (Rom 8:23), terwyl die hele skepping daardie selfde hoop het op onverganklikheid “met die oog op die heerlike vryheid van die kinders van God” (Rom 8:19).

Soos die vader in die gelykenis van die verlore seun, is God die Vader ook in afwagting om  Sy kinders onder sy vlerk te neem (vgl Luk 13:34) en Hy sal dit laat verwesenlik word op Sy bestemde tyd.

En dit, my vriende, vertel ons iets van God se Vaderhart.

Fil. 2:9-11:

Daarom het God Hom [Christus] ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig – van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde – en elke tong sal bely, Jesus Christus is die Here! “ tot eer van God die Vader.

God is die Vader van alle vaders. Hy staan Pa vir alles. Hy weet wat Hy doen. Alle tragedies en ongeregtighede is onder Sy beheer. En soos die eeue verbygaan, sal dit al hoe meer onbenullig en nietig word. Want die tyd kom wanneer Vader die trane afdroog en ‘n tyd wanneer daar nie meer trane sal wees nie. Die voleinding van tye waar daar vir almal net sal wees, verwondering, volkome blydskap en liefde in die arms van God die Vader.

Ek wil jou aanmoedig om God te leer ken en Hom te waardeer as jou wonderlike Pappa – die beste Pa wat mens kan hê… en as die liefdevolle Vader van alles wat lewe.

***

‘n Boek wat ek aanbeveel is “We Call Him ‘Father’” deur Clyde Pilkington, Jr (Bible Student’s Press/ Kindle e-book by Amazon)

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.