DIE BESEF VAN GOD SE TEENWOORDIGHEID

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

DIE BESEF VAN GOD SE TEENWOORDIGHEID

Die persepsie bestaan dat as daar ‘n God is, is Hy nie relevant nie en ook nie geïnteresseerd in wat op planeet aarde en in mense se persoonlike lewens gebeur nie – dat Hy ver weg van ons is, besig met ander dinge wat Hom interesseer.

Daar kan beswaarlik iets verder van die waarheid wees.

In hierdie wêreld kry God nie die erkenning wat Hom toekom nie (Rom. 1:21). Selfs in die Christendom is daar die neiging om God die Vader eenkant toe te skuif terwyl Jesus op die voorgrond geplaas word.

Paulus skryf:

Dan bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus , die Vader van die heerlikheid , vir julle dit sal gee: geestelike wysheid en openbaring , wat in die kennis [Grieks:epignosis =”full discernment; acknowledgement (Strong) ] van Hom bestaan, en dat die oë van julle harte verlig mag wees….  (Efes 1:17-18)

Die waarheid is dat God intens betrokke is by Sy skepping en alles wat rondom ons aangaan.

My gebed, net soos Paulus, is dat ons oë sal oopgaan om God se teenwoordigheid en betrokkenheid raak te sien en te waardeer.

Kom ons begin by die begin:

In die begin het God die hemel [eintlik: hemele] en die aarde geskep. (Gen 1:1)

Voor die skepping was daar net God – niks en niemand anders nie.

Paulus maak ‘n stelling wat ek glo die mees alomvattende diepgaande stelling is wat geskryf of ge-uiter kan word:

            Uit Hom {God] en deur Hom en tot Hom is alle dinge.   (Rom. 11:36)

            Vir ons is daar egter net een God, die Vader, uit wie alles is….  (1 Kor, 8:6)

Die Griekse woord vir “alle dinge”, panta, beteken “alles”. Alles wat bestaan, kom vanuit God. Alles in die uitspansel, alles op planeet aarde, kom uit God uit. God het nie uit niks uit  Sy skeppingswerk gedoen nie. Alles wat bestaan kom uit die binneste van Sy wese.

Waar die oerknal teorie leer dat alles wat bestaan oorsprong het uit ‘n klein deeltjie materie wat biljoene jare gelede ontplof het, maar nie kan antwoord waar daardie klein deeltjie vandaan gekom het nie, is die waarheid dat alles wat bestaan uit God voortgekom het.  Ons hoef nie die vraag te vra: waar kom God vandaan nie, want Hy is God en dit beteken dat Hy nog altyd bestaan het.

God is groter as Sy skepping . En ons weet Sy skepping is enorm – meer as wat ek en jy kan begryp.

So sê die HERE: “Die hemel is my troon, en die aarde die voetbank van my voete.   (Jes 66:1)

Dit is Hy wat troon bo die ronde skyf van die aarde… wat die hemel oopspan soos ‘n doek….  (Jes, 40:22).

Die grootsheid van God is groter as Sy skepping. Die skepping is nie so groot dat dit Hom verhinder om alom teenwoordig te wees nie.

Dawid vra:

Waarheen kan ek gaan, weg van U Gees; waarheen kan ek vlug , weg van u teenwoordigheid? Klim ek op na die hemel- U is daar, gaan lê ek in die doderyk – ook daar is U!… gaan woon ek by die einde van die see, ook daar sal U hand my lei.   (Ps 139:7-11)

Die HERE sê vir Jeremia:

            …kan iemand in geheime plekke wegkruip, en Ek hom nie sien nie?… “Vul ek nie die hemel en die aarde nie?”   (Jer 23:24)

Al bevind jy jou op die hoogste berg, of die diepste vallei, of op ‘n skip in die middel van die oseaan, of op ‘n ruimtetuig ver van die aarde, God is teenwoordig.

Jesus het verklaar dat God weet hoeveel hare op elke mens se kop is. God weet van die fynste detail van jou lewe. Jy hoef Hom nie enigiets te vertel van wat aangaan in jou lewe nie. Hy weet dit reeds.

Alle voedingstowwe en die voedselketting is deur God geskep. Die vindingryke wyse hoe verskillende spesies van voëls, visse en gediertes hulle voedsel kry, is verstommend. Dit alles is uit God – Sy kreatiwiteit.

Sing  vir die HERE ‘n danklied…wat vir die aarde reën gereedmaak…wat vir die diere hulle kos gee, vir die jong kraaie wat krys.   (Ps 147:7-9).

Let op die voëls van die hemel: Hulle saai nie en hulle maai nie, en hulle versamel niks in skure nie. Tog sorg julle hemelse Vader vir hulle….  (Matt. 6:26).

Wetenskap kan nie lewe verklaar nie. Wat maak ‘n organisme lewend? Ons kan sê dat iets wat lewendig is, kan voedsel inneem en kan voortplant. Maar dit is eienskappe – nie ‘n verklaring van wat lewe is nie.

Alles kom vanuit God. Alle lewe kom van Hom af. Die Gees van God gee lewe.

Dit is die Gees wat lewend maak.    (Joh 6:63)

…U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof. U stuur U Gees uit, hulle word geskape    (Ps 104:29-30 -1933/53 vertaling)

Die klein miertjie op ‘n rots wat ‘n broodkrummel dra na sy nes, het lewe. Die rots het geen lewe nie. Hoekom nie? Want God se Gees gee lewe  waar God besluit om lewe te gee. Hy is in staat om rotse lewe te gee, maar dit was nie in Sy plan nie. Jesus het gesê:

            God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. (Mat. 3:9).

Daar is net een bron van alle lewe – en dit is God. Deur Sy Gees is God teenwoordig in elke lewende wese – elke mens, elke dier, elke voël, elke vis, elke boom en elke plant wat lewe het. Dit beteken nie dat alles wat lewe God is nie – of dat panteïsme voorgehou word as die waarheid nie. Dit beteken bloot dat daar ‘n ietsie van God se Gees teenwoordig is in elke lewende organisme.

“All of God’s  creatures have some minute measure of His qualities,” volgens  A E Knoch,in lewe die hoofredakteur van die letterlike Concordant Version vertaling van die Bybel..

Sonder om noodwendig vervul te wees met God se Gees soos bedoel in Efes 5:18, is daar tog in elke mens ‘n mate van God se Gees.

Paulus het ‘n klomp afgod-aanbidders  in Athene toegespreek en die volgende merkwaardige woorde gespreek:

Want deur Hom [God] leef ons, beweeg ons en bestaan ons, soos sommige van julle digters inderdaad gesê het, ‘Ons is ook van Sy geslag.’ (Hand. 17:28)

Miskien is dit makliker om dit te glo van jou gade, jou ouers, jou kinders of jou beste vriende. Die mense vir wie jy lief is, vir wie jy ontsettend sal mis wanneer hulle nie meer by ons is nie – natuurlik is daar ietsie van God in hulle, n Maar wat van jou buurman en sy raserige kinders? En wat van jou kollega by die werksplek wat jou so irriteer?

Wat waar is van die een, is ook waar van die ander. Niemand is volmaak nie, maar God is nog besig om elkeen te vorm of voor te berei vir vorming, soos ‘n pottebakker met die klei werk. Daar is iets moois in elke mens – selfs die wreedste tiran. Jy het seker al gewonder: wat sien daardie vrou in daardie man dat sy met hom getrou het? Die kanse is goed dat sy daardie ietsie van God in hom raakgesien het.

God het elke mens lief -soos hy of sy is – met al hulle skete.

Wat van slange en skerpioene? Dit is ook deel van “alles” wat uit God is. Dieselfde kan gesè word van vlieë, muskiete en virusse. Die Skrif praat van spesifieke gevalle waar God ‘n plaag van muggies voortgebring het (Eks 8:17), steekvlieë (Eks 8:24), treksprinkane (Eks 10:14), maaiers  (Eks 16:20) en giftige slange (Num 21:6). Die dag sal kom wanneer God dit wat nou irriterend of skadelik of gevaarlik is, onskadelik en veilig sal maak (Jes 11:6-8).

God is oral teenwoordig in Sy skepping. Die skepping is Sy handewerk en dit sê iets van God sonder woorde.

Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend. Dag na dag bring dit ‘n boodskap voort en nag na nag deel dit kennis mee. Alhoewel daar geen spraak en geen woorde is nie en hulle stem nie hoorbaar is nie, gaan hulle boodskap uit oor die hele aarde…. (Ps 19:2-5)

                 …dit wat van God geweet kan word[is] aan hulle [die mensdom] bekend… God het dit immers aan hulle bekend gemaak. Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar (Rom. 1:19-20).

Alhoewel elke mens ietsie van God het, is dit so dat die Gees-vervulde gelowige God se teenwoordigheid in hom of haar uitstraal op ‘n meer merkwaardige wyse. Die vrug van die Gees word gemanifesteer in liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (Gal.5:22).

Wanneer ons oë oopgaan om die heerlikheid van God te sien, het dit die effek om ons te transformeer om dan meer en meer ook daardie selfde heerlikheid uit te straal.

En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in ‘n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees….. Want God wat gesê het, “Laat daar uit die duisternis lig skyn,” dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus….. Die sterwe van Jesus dra ons altyd in ons liggaam met ons saam, sodat ook die lewe van Jesus in ons liggaam sigbaar kan word  (2 Kor 3:18, 4:6,10).

God is intens betrokke by Sy skepping. As ‘n God van liefde is Hy lief vir mens en dier. So wonderlik as wat die skepping is, is dit sedert Adam se oortreding as’t ware in barensnood. Daar is pyn, lyding en die werklikheid van die dood. Dit is hoe God dit beskik het. Die pyn en lyding van die wêreld is ook die pyn en lyding van God – Hy voel dit ook.

Hy het die skepping onderwerp aan futiliteit , maar nie vir altyd nie.

Want die skepping is onderwerp aan ‘n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie, maar deur Hom  wat dit daaraan onderwerp  het.  Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid, met die oog op die heerlike  vryheid van die kinders van God.  Ons weet immers dat die ganse skepping tot nou toe saam met ons sug, ja, in geboortepyne verkeer.    (Rom 8:20-22)

Dit is deel van God se plan, dat alle pyne, alle lyding en dood een dag tot ‘n einde sal kom. Dit sal die tyd wees wanneer alles en almal met God versoen is.

Wanneer alles aan Hom onderwerp is, sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal sal wees.  (1 Kor  15:28)

So, om dit op te som:

In die begin:         Alles is uit God uit.

Huidiglik:              Alles is deur God.

Wat uitloop op:   Alles is vir God.

Alle eer aan God vir alle lewe wat nou op die aarde bestaan. Eer aan Hom wat betrokke is by ons en ons wêreld. Eer aan Hom wat ons ware lewe bied, en met die opstanding onsterflike verheerlikte liggame en op Sy bepaalde tyd, ‘n wêreld waar daar geen lyding en dood bestaan nie.

***

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.