HET GOD ALLES WAT GEBEUR VOORUIT BESTEM?

  • Updated
  • Posted in Afrikaans

HET GOD ALLES WAT GEBEUR VOORUIT BESTEM?

Die antwoord gaan afhang van ‘n mens se siening van God. Die korrekte siening kan alleenlik vanuit die Skrif bepaal word.

Die Skrif maak stellings oor God wat God se grootsheid verklaar, maar wat God se insig, kennis, wysheid en mag so hoog stel, dat dit nie moontlik is vir die mens om dit te begryp nie.

Dawid skryf oor God se volmaakte kennis van Dawid se wel en weë.:

            U verstaan van ver af wat ek in gedagte het…..

            Ja, daar is nog nie ‘n woord op my tong nie, kyk, dan ken U, HERE, dit volledig!

Van agter en van voor omsluit U my…. Om dit te verstaan is ‘n te groot wonder vir my; dit is te hoog , ek kan dit nie begryp nie.  (Ps 139: 2-6)  (2020 vertaling deurgaans in hierdie studiestuk gebruik)

God is God. Hy is soewerein. Niemand en niks kan en gaan Hom keer om Sy plan en oogmerke ten uitvoer te bring nie.

            …Ek is God, en daar is geen ander nie…

Ek wat van die begin af die afloop aankondig, van lank gelede af dit wat nog nie gebeur het nie; Ek wat sê, ‘My raadsbesluit sal standhou; alles wat Ek wil sal Ek uitvoer… (Jes. 46:9-10)

Al die bewoners van die aarde word as niks gereken; Hy doen met die hemelse leer en die bewoners van die aarde wat Hy wil. Daar is niemand wat Sy hand kan afweer of vir Hom kan vra nie, ‘Wat het U gedoen?’   (Dan 4:35)

Die lot word gewerp in die vou van die kleed, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.   (Spr 16:33)

God werk alles uit volgens Sy wil.

            …wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur.  (Efes 1:11)

Alles wat bestaan, het gekom vanuit God se wese. Alles wat bestaan, bestaan deur Sy toedoen, Alles wat bestaan is bestem om vir Hom en in harmonie met Hom te wees.

            Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. (Rom 11:36)

            Vir ons egter, is daar een God , die Vader, uit wie alles is, en ons vir Hom… (1 Kor 8:6)

Wanneer alles aan Hom onderwerp is, sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het , sodat God alles in almal sal wees.   (1 Kor 15:28)

deur die krag wat Hom in staat stel om alles aan Homself te onderwerp.  (Fil. 3:21)

God het die grense van die oseane bepaal en deur die loop van die geskiedenis van die mensdom die grense van nasies  neergelê.

Dit [die waters wat die aarde bedek het – verse 6-7] het oor die berge gespoel, in valleie afgevloei na die plek wat U daarvoor bestem het. ‘n Grens het U gestel waaroor dit nie mag gaan nie. (Ps 104: 8-9).

Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye gegee en die grense van hulle woongebied bepaal…. (Hand 17:26)

God is alwetend. Hy weet alles van alles. Van die verste uithoeke van die uitspansel tot die kleinste mikroskopiese gedeeltes. Tot in die fynste detail. Niks ontglip Sy kennis nie.

            …Hy weet alles.   (1 Joh 3:20)

Word twee mossies nie vir ‘n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel.   (Mat 10:30-31)

[Hy] wat die getal sterre bepaal, aan hulle almal name gee…. aan sy insig is daar geen grense nie.  (Ps 147:4-5)

Voor die grondlegging  [korrekte vertaling is “omverwerping”]van die aarde het God sekere dinge bepaal . Byvoorbeeld dat ‘n Redder vir die mensdom sou verskyn en die bose oorwin deur Sy dood – soos ‘n lam wat geslag is; die wat uitverkies sou word om in Christus as Sy Seuns, Heilig en blaamloos voor God te wees (1 Pet 1:19-20; Openb 13:8; Efes 1:4; 2 Tim 1:9)

            ..wat uitverkies is volgens die voorkennis van God  (1 Pet. 1:2)

Vanaf die grondlegging van die aarde het God bepaal dat daar ‘n koninkryk sal wees op die aarde wat geërf kan word deur nasies wat die mense van Sy volk goedgesind was . (Mat 25:34); dat sekere mense se name sal verskyn in die Boek van die Lewe (Openb 17:8).

Daar is goeie werke wat gelowiges gedoen het en besig is om te doen en nog sal doen, wat God reeds voorberei het.

Ons is immers Sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.   (Efes 2:10).

…So sê die Here, wat hierdie dinge doen wat van lank gelede bekend is.   (Hand 15:17-18)

God het van elke mens geweet, voor hy of sy verwek is. Hy vorm die persoon in die moederskoot en weet wat daardie persoon se geaardheid en persoonlikheid gaan wees, nog voor sy of haar geboorte. Daardie persoon se dae is vooraf opgeteken in God se beplanning en gedagtes.

Dit klink vir meeste mense te onrealisties – te verregaande. Besware teen die siening kom op in ons gedagtes. Die algemene besware sal ek hieronder behandel.

Kyk egter wat die Skrif sê:

Dit is immers U wat my ….in die moederskoot geweef het… My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde. U oë het my vormloosheid gesien. En in u boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie.  (Ps 139:13-16)

Die woord van die HERE het tot my gekom: “Nog voordat Ek jou gevorm het in die baarmoeder, het Ek jou geken; nog voordat jy uitgegaan het uit die moederskoot, het Ek jou geheilig. As profeet vir die nasies het Ek jou bestem (Jer 1:4-5).

Maar nou, die HERE het gepraat- Hy wat my in die moederskoot al gevorm het as ‘n dienskneg vir Hom… (Jes 49:5)

‘n Priester met die naam Sagaria en sy vrou, Elisabet, was kinderloos. Een dag terwyl Sagaria tempeldiens gedoen het, het ‘n engel aan hom verskyn. Hier volg die engel se woorde aan hom:

“Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal vir jou geboorte gee aan ‘n seun, en jy moet hom Johannes noem. Jy sal blydskap en uitbundige vreugde beleef… hy sal groot wees in die oë van die Here…en hy sal reeds voor sy geboorte al met die Heilige Gees vervul wees… Hy sal met die gees en krag van Elia voor die Here uitgaan…” (Luk 1:13-17).

Daar kan geargumenteer word dat Dawid, Jesaja, Jeremia en Johannes die Doper spesiale mense met ‘n bepaalde roeping was en dat dit wat van hulle voorgeboortelike roeping opgeteken is, nie noodwendig op alle mense van toepassing is nie. .

Dit is seer sekerlik nie onmoontlik vir God om elke mens se lewenspad en lot vooruit te bepaal nie. Hy is lief vir elkeen – selfs die wat hulle as vyande van God beskou en ook so optree.

Die Skrif leer dat diegene wat deur God geroep is, is oor die algemeen nie die slimste en invloedryke mense  nie , eerder die swakkeres, en hulle is vooraf geken deur God  – selfs voor die grondlegging van die wêreld.

Broers, slaan ag op julle roeping. Menslik gesproke , is daar onder julle nie baie wyses, nie baie invloedrykes, of mense van adelike afkoms nie. Maar die dwaashede van die wêreld het God uitgekies om die wyses te beskaam, en die swakhede van die wêreld het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en die onbelangrike en veragtelike dinge van die wêreld het God uitgekies…   (1 Kor 1:26-28)

…want Hy het hulle wat Hy reeds tevore geken het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word… en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep…. (Rom 8:29-30)

So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies….(Efes 1:4)

Daar is talle voorbeelde in die Skrif waar dit duidelik blyk dat sekere gebeure wat op die oog af onbenullig is, of selfs onregverdig  of wreed is, deur God georkestreer is.

‘n Klassieke voorbeeld is die walglike wyse waarop Josef se broers hom behandel het. Jare later toe Josef sy broers weer sien en kans kry om homself te identifiseer, sê hy :

Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad, met die doel om te doen wat vandag gebeur – om ‘n groot volk aan die lewe te hou.    (Gen 50: 20).

Josef het wonderlike insig gehad. Maar die implikasies strek veel verder as wat hy gedink het. Want voortspruitend uit die gebeure, het Jakob en sy seuns na Egipte toe getrek om hulle daar te vestig (Gen 45:25-46:7). Dít, op sy beurt, was vervulling van God se plan  wat Hy lank tevore aan Abram bekend gemaak het:

Die HERE sê toe vir Abram: “Weet baie goed dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land in ‘n land wat nie aan hulle behoort nie. Hulle sal daardie mense moet dien, en dié sal hulle verdruk, vierhonderd jaar lank…. Daarna sal hulle uittrek met menigte besittings…  (Gen 15:13-14)

Die tafel is deur God gedek om die eksodus te laat gebeur. Omtrent 400 jaar later:  Farao se dogter is op die regte oomblik by die rivier om te gaan bad en om baba Moses in die mandjie op die waters tussen die riete raak te sien. Haar diensmeisies was ook by.

Toevallig? Dat van die honderd duisende  inwoners van Egipte, dit juis Farao se dogter moet wees wie se paaie kruis met Moses in ‘n mandjie op die Nylrivier?

Die res van die storie is goed bekend. En dit het alles blykbaar begin toe Josef vreemde drome gehad het en hy dit met sy broers gedeel het en die aard van die drome gemaak het dat hulle ‘n weersin in hom gekry het.

Nee! Dit was nie die begin nie! Dit het eintlik begin toe God dit so bepaal het!

Dawid se pa versoek hom om kosvoorraad na sy broers te neem.

Toevallig?

Waarop loop dit uit? Dawid versus Goliat! En van daardie tyd af was Dawid ‘n heldefiguur in Israel. En dit het die weg gebaan vir sy latere koningskap. En dit het die weg gebaan vir sy toekomstige koningskap oor Israel in die duisendjarige vrederyk (Jer 30:9).

BESWARE

Kom ons kyk na die besware wat dikwels geopper word:

As wat jy voorhou korrek is, dan het die mens nie ‘n vrye wil nie! Is almal dan robotte – of soos marionette wat van Bo af beheer word.

Vir baie jare het ek geglo dat God ‘n “Gentleman” is en niemand sal forseer om iets te doen nie.  Waar in die Skrif staan dit? Ek glo dit nie meer nie.

Dis korrek dat elke mens ‘n wil het.  Maar hoe vry is daardie wil? ‘n Vrye wil beteken ‘n eie wil wat nie onder dwang of invloed van buite of inwerking van omstandighede, uitgeoefen kan word.

Elke gedagte van elke mens is die gevolg van invloed en omstandighede. Elke mens word gebore met ‘n bepaalde temperament en persoonlikheid. Elke mens word beïnvloed deur sy ouers of diegene wat die rol van ouer speel in sy of haar lewe. Kennis en insig hiervan het God reeds voor die geboorte van die mens. Trouens, Hy is die Skepper en Outeur daarvan.

Die enigste een wat ‘n absolute vrye wil het, is God self. Enigeen wat die vrye wil van die mens propageer, ontken God se Goddelikheid. As daar ‘n God is, en daar is net een God, dan kan daar nie andere wees wat ‘n vrye wil het nie. As skepsels ‘n vrye wil het, dan is die skepsel gelyk aan of  groter as die Skepper. Daar kan net Een wees met absolute vrye wil.

Geen skepsel is soos ‘n robot of marionet nie. Sit ‘n lekker braai tjop voor ‘n hond – hy sal dit verslind. Is die hond ‘n robot of marionet? Nee. Word die hond gedwing om die vleis te eet? Nee. Dis sy ingebore smaak (wat van God af kom) wat maak dat hy die vleis verorber.

Een van die min (dalk die enigste?) opdragte wat God aan die begin vir die mens gegee het, en wat die mens gehoorsaam het, was om te vermeerder. Onthou, daardie tyd was daar nie voorbehoedmiddels nie. Die mens het vermeerder. Was dit onder dwang? Was die mense robotte? Nee, God het sterk seksdrange in mans en vrouens geplaas. Daar was nie ‘n manier wat die mensdom God se wil sou kon frustreer nie.

Hoeveel vrye wil het Farao gehad toe hy so hardkoppig Israel se versoeke geweier het, as God sy hart verhard het? (Sien Eks 4:21, 7:3, 10:1, Rom 9:17)

Hoeveel vrye wil het Kores, die koning van Persië,  gehad toe God dit in sy hart geplaas het om Sy huis in Jerusalem te laat herbou? (Sien Ezra 1:3, 2 Kron 36:27)

Hoeveel vrye wil het Johannes die Doper gehad toe hy die weg gebaan het vir Jesus se bediening, in vervulling van ‘n profesie van Jesaja ? (Sien Jes 40:3-5, Luk 3:3-6)

Hoeveel vrye wil het Judas Iskariot gehad toe hy in vervulling van Psalm 41:9 en Sagaria 11:12 Jesus verraai het vir 30 silwerstukke? (Sien Mat 26:14-15, Luk 22:47-48))

Hoeveel vrye wil het Petrus gehad toe Jesus voorspel het dat hy Hom driemaal sou verloën en hy dit waarlik gaan doen het?  (Luk 22:34, 54-62)

En die haan wat presies op die regte oomblik gekraai het? (Luk 22:60)

Hoeveel vrye wil het mense as God hulle harte verhard of hulle blind maak vir die waarheid?  (Sien Joh 14:20, Rom 9:18, Gal 3:22))

‘n Verdere beswaar wat mense maak as hulle hoor hoe God mense verhard,  is, hoe kan God mense dan kwalik neem watdie waarheid verwerp?

Paulus antwoord so:

Jy sal nou vir my sê: “Hoe kan Hy dan nog ‘n mens die skuld gee? Want wie kan sy wil teengaan? Wie is jy tog, o mens, om God te weerspreek? Sal die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” Of het die pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei ‘n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie?   (Rom 9:19-21)

Later verduidelik Paulus dat die verharding in elk geval net tydelik is (sien Rom 11:25-27).

God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon.   (Rom. 11:32)

En laastens, hoeveel vrye wil het Paulus gehad, wat daarop ingestel was om gelowige Christene uit te wis, toe Hy in verblindende lig ‘n ontmoeting met Jesus gehad het en daarna ‘n totale ommekeer gemaak het? (Hand 9).

Die gesegde “die mens wik, maar God beskik” is skriftuurlik.

            Die hart van ‘n mens beplan sy pad, maar die HERE bepaal sy voetstappe.  (Spr 16:9)

            Ek weet, HERE, dat ‘n mens nie oor sy lewenspad beskik nie, dat iemand nie , terwyl hy loop, sy eie voetstappe bepaal nie.   (Jer 10:23)

Wat van Satan en al die kwaad en ongeregtigheid in die wêreld?  Jy maak God verantwoordelik vir dit!

Min mense besef dat God die reg het om kwaad te skep … en dit inderdaad ook doen. En ja, Hy vat volle verantwoordelikheid daarvoor!  Dit sal teen God se natuur wees om te sondig. Om te sondig beteken om die merk te mis. God mis nie Sy merk nie, maar Hy kan en het ook reeds kwaad (“evil”) geskep vir Sy uiteindelike doeleindes..

…. die Een wat die lig vorm en die duisternis skep, wat voorspoed bewerk en onheil skep. Ek, die HERE, bewerk al hierdie dinge  (Jes 45:7).

Maar ook Hy is wys, en Hy bring onheil…  (Jes 31:2a)

As daar teenspoed in ‘n stad is, het die HERE dit nie gedoen nie?   (Amos 3:6b)

Satan is deur God geskep. Moenie Jesaja 14 en Esegiël 28 hier inbring nie, want dit  handel nie oor Satan nie, maar onderskeidelik  oor die konings van Babilon en van Tirus . Satan is nie ‘n engel wat aanvanklik goed en regverdig was en toe later ‘n teenstander van God geword het nie.

            …omdat die duiwel van die begin af sondig   (1 Joh 3:8).

Satan is deur God geskep en God gebruik Satan sodat, vir ‘n bepaalde periode, die skepping goed en kwaad kan ervaar en smaak, sodat in die voleinding wanneer die dood as laaste vyand oorwin is,  daar absolute waardering gaan wees vir God en Jesus Christus, sonder enige teenkanting, vir dit waarvoor hulle staan.(Sien  1 Kor 15:25-28, Fil 2:9-11).

Wat van gebed? Wat is die nut van gebed as jy nie God kan beweeg om in te gryp nie,

Die hoofdoel van gebed is kommunikasie tussen die mens en God. Enige verhouding vereis kommunikasie. Gebed hoef nie beperk te word deur die uiter van woorde nie – dit kan insluit versugtinge en gedagtes tot God gerig (Rom. 8:26-27). En die dominante tema behoort te wees lof en dankbetuiging  – nie ‘n inkopielys van versoeke nie (1 Thes 5:17-18, Efes 5:20).

God weet beter as ons, wat goed is vir ons en wat nie. “Name it and claim it” is nie skriftuurlik nie. Geen mens kan God se wil buig nie.

En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra   (1 Joh 5:14)

En onthou, God kan die gedagte om iets te vra in gebed in ‘n mens plaas, en dan, tot verheerliking van Sy naam, daardie gebed verhoor wat in ieder geval ooreenkomstig Sy wil is.

Wat van Prediker 9:11  wat sê “… tyd en toeval is bepalend vir hulle almal

Meeste vertalings vertaal die Hebreeus pega as toeval of in Engels “chance”. Dit blyk nie ‘n goeie vertaling te wees nie. Die enigste ander plek in die Skrif waar pega voorkom is 1 Konings 5:4 waar die 1983 vertaling dit vertaal as “bedreig” en die 2020 vertaling as “dreigende [onheil]”. Dit het dus te doen met terugslae of teëspoed.  Die Companion Bible sê ook ‘n beter vertaling as “chance” is “misfortune”. En dit is inderdaad  wat die vers vir ons sê: almal met tye tel moeilikheid of terugslae op. Dit is nie dat alles net toevallig gebeur nie, want as dit die geval was, was, sou dit al die tekste wat God se soewereiniteit en betrokkenheid beskryf, weerspreek.

Wat van Genesis 6:6 wat sê dat God jammer was of berou gehad het dat Hy die mens gemaak het?…..

In die Skrif gebeur dit soms dat God beskryf word in menslike terme sodat ons Hom beter kan verstaan. Dit is veral so voordat Jesus gekom het om God as Vader bekend te maak (Joh 1:18). In die verband is daar ‘n vorm van beeldspraak bekend as “Afdaling” [Engels: condescension] waar God, wat gees is, en onsigbaar is, beskryf word asof Hy ‘n gesig het, of arms ensovoorts.

Ook die tekste wat sê God het iemand getoets, moet gesien word as beeldspraak. God het reeds geweet hoe daardie persoon sou reageer. Dus in Genesis 12:12 waar God, gemanifesteer as ‘n engel, vir Abraham sê: “Want nou weet Ek dat jy vir God ontsag het; Jy het nie jou seun, jou enigste, van My teruggehou nie,” is die betekenis : “Nou het ek gedemonstreer by wyse van ’n eksperiment, dít wat ek reeds geweet het.”

Dieselfde kan gesê word van God se vraag aan Adam, “Waar is jy?” terwyl God goed geweet het waar Adam en Eva wegkruip – vergelyk Ps 139:7-9.

Feit is , God is Alwetend. En Hy verklaar die einde van die begin af. Niks gebeur wat nie volgens sy absolute wil is nie  (Sien die tekste hierbo).

God het vooraf geweet, nog voor Hy Adam geskape het, dat sonde in die wêreld sou kom. En Hy het in sy plan die Lam laat slag “voor die grondlegging van die wêreld” en die tafel gedek om die bose te oorwin.

Genesis 6:6 is ‘n uitbeelding van God se hartseer oor die sondige toestand van die mensdom, maar dit vat nie weg dat Hy dit so beplan het nie. Dalk is ‘n goeie vergelyking ‘n ouer wat met ‘n swaar gemoed sy of haar kind tugtig, maar ook weet dit is goed vir die kind.

SLOTOPMERKINGS

Ons is geneig om God te onderskat. As ons praat van intellek en wysheid: die gaping tussen God en die mens (selfs die briljantste genie) is groter as die gaping tussen die mens en ‘n mier. God sê:

”Ja, my planne is nie julle planne nie, en julle paaie is nie my paaie nie…. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my paaie hoër as julle paaie, en my planne as julle planne.. so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: Dit sal …doen wat Ek wil hê, en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het.” (Jes 55:811).

God is God. Hy is totaal en al in beheer van alles. Berus jou daarin… Verheug jou daarin…Want hy weet wat Hy doen en waarheen alles afstuur…

***

Johann Grobler

Johann Grobler is a practising lawyer, conveyancer and notary public. He has dedicated much of his life to learn the truth about God and His plan.